Steak-en-bierpastei
Foto’s: Micky Hoyle Galery
Heerlik met gebottelde brandrissiesous
(4 porsies)
- 30 ml olyfolie
- 1 kg kruisskyf, in blokkies gesny
- 1 ui, fyngekap
- 2 wortels, in klein blokkies gesny
- 1 selderystok, in klein blokkies gesny
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 2 x 340 ml-blikke bier
- 250 ml beesvleis-aftreksel
- 2 lourierblare
- 5 ml droë gemengde kruie
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 1 x 400 g-vel blaardeeg
- 1 eier, geklits
Verhit die olie in 'n groot kastrol. Braai die vleis bietjies op 'n slag tot lekker bruin. As jy als in die kastrol gooi, gaan dit die hitte verlaag en gaan die kos water trek. Wanneer al die vleisblokkies bruin gebraai is, hou dit eenkant. Braai nou die ui, wortels, seldery en knoffel in dieselfde kastrol saam vir so 5 minute. Die groente moenie bruin gebraai wees nie, maar sag en deurskynend. Skep die vleis terug by die gebraaide groente en voeg die bier, aftreksel, lourierblare en gemengde kruie by. Geur met sout en swartpeper. Sit die deksel op en laat kook oor 'n lae hitte vir minstens 2 uur. Die vleis moet heerlik sag wees. Skep die vleismengsel in 4 klein bakkies of 1 groot bak. Laat afkoel voor jy die blaardeeg opsit. Sny die blaardeeg in verlangde groottes vir jou bakkies of bak en sit bo-op die vleisvulsel. Versier die deeg met die afvalstukkies en sny so twee klein gaatjies in vir die stoom om te ontsnap. Verf die deeg met die geklitste eier en bak in 'n warm oond teen 200 °C vir sowat 30 minute, tot die deeg mooi bruin en gaar is.
Om te drink
'n Donker bier soos Guinness sal lekker wees by dié pastei. As jy wyn verkies, maak 'n Beyerskloof Pinotage oop. Dit pas goed by steak en sal die aanslag van die brandrissiesous weerstaan.
Nooi jou pêlle vir 'n rugby-naweek! Hier's die spyskaart:
- Roosterkoekies
- Steak-en-bier-pastei
- Mini-pampoenkoekies
Verwante artikels
-
Balsemasyn-lam-steaks
SARIE KOS Herfs 2010
30 minute
-
Mini-pampoenkoekies
SARIE KOS - Lente 2008
Ek bedien hulle as tapas-nagereg
-
Roosterkoek
SARIE KOS - Somer 2007
Ek het met roosterkoek in die Karoo grootgeword en het altyd appelkoosfonfyt daarop geëet
-
Steak sandwich
SARIE KOS Herfs 2010
20 minutes













Kry jou SARIE oral, enige tyd