sarie099
Stap vir stap

Barbara se Eat, Pray, Love-pizza

Die afgelope langnaweek kyk ek weer die rolprent Eat, Pray, Love met Julia Roberts. As ek sy was, sou ek net daar in Italië gebly het, veral vir die kos en natuurlik vir die pizza in Napels.

sarie089

Ek het onlangs ’n nuwe pizza-bakplaat van Le Creuset gekry. Nadat ek die rolprent gekyk het, het die lus vir tuisgemaakte pizza my beetgepak. Ek is nie juis lief vir pizza met baie goed bo-op nie. Daardie margherita-pizza (net tamatie, mozzarella-kaas en vars basiliekruid) wat Julia Roberts in die rolprent eet, het my mond laat water. Die eerste ding wat ek maak, is die tamatiesous vir bo-op die pizza.

Ek verhit sowat 80 ml olyfolie – ja, ek gebruik baie olyfolie – in ’n diep pan. Ek kap ’n ½ ui en 3 knoffelhuisies fyn en voeg dit by die olie. Jy moet dit braai tot sag en deurskynend – nie bruin nie. Voeg 1 groot blik (800 g) heel tamaties by. Voeg 125 ml witwyn en sowat 5 ml droë origanum by. Geur met sout en peper en meng goed. Maak kastrol toe met deksel. Die sous moet nou vir 1 uur toe prut. Jy kan nou maar gaan ontspan en nog TV kyk. Verpulp die tamaties ná die uur verby is en laat dit oop kook tot dik.

pizza tamatie sous

Haal af van hitte en laat afkoel. Vir pizza-basis gebruik ek ’n baie maklike resep – jy gooi 500 g koekmeel, 2 ml sout, 4 ml suiker en 2 x 10 g-pakkies kitssuurdeeg in die bak van jou elektriese menger en sit die deeghaak aan.

Voeg 750 ml lou warm water by en meng goed. Laat deeg knie vir 10 minute tot glad en elasties. Haal uit mengbak en smeer ’n skoon bak met ’n bietjie olyfolie. Smeer ook ’n bietjie olyfolie bo-op deegbal en plaas in bak. Maak bak toe met kleefplastiek en laat rys tot dubbel die grootte.

Die lengte van die rysproses sal afhang van hoe koud of warm dit is – dit kan tot 2 uur neem. Verhit jou oond tot op sy warmste. Die hoeveelheid deeg is genoeg vir 3 mediumgroot pizzas. Verdeel deeg nou in 3.

pizza deeg bal

Ek rol nie my deeg uit nie ek druk dit met my hand plat in ’n sirkel.

pizza deeg uitgerol

Ek wil ’n rand vorm om die pizza. Plaas deegsirkel op bakplaat of pizza-bakplaat en smeer ’n dun lagie tamatiesous bo-op.

pizza met sous

Rasper 500 g mozzarella-kaas – ja, ek weet dis baie kaas, maar in die rolprent was daar ook baie kaas op hul pizzas.

Sny so 4 groot rosatamaties in skywe en rangskik bo-op. Sprinkel ’n klomp vars basiliekruidblare bo-op en besprinkel met klein bietjie olyfolie.

pizza rou

Plaas in oond en bak vir 10 – 15 minute tot deeg bros is. Gooi nou vir jou ’n lekker glas rooiwyn terwyl jou pizza bak. Haal uit – en as jy jou eerste hap neem, sal als die moeite werd wees. Ek het my selfs verbeel ek is ook in Italië.

pizza gaar