sr0903kos (9)
Wat eet ons vanaand?

Fortuinkoekies vir Chinese nuwe jaar!

Dis baie maklik om die beslag vir die koekies te maak. Om hulle te vou is nogal ’n kuns en jy sal ’n paar “flops” hê voordat jy die slag agterkom.

sowat 15 koekies

  • 2 eierwitte
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 2,5 ml amandelgeursel
  • 45 ml sonneblomolie
  • 67 g (120 ml) koekmeel
  • 7,5 ml mielieblom
  • knippie sout
  • 120 ml suiker
  • 15 ml water

Verhit oond tot 160 °C. Klits die eierwitte, vanielje, amandelgeursel en olie saam tot skuimerig. Sif die meel, mielieblom, sout en suiker saam. Meng die water met die gesifte bestanddele. Voeg nou dié mengsel by die eierwit-mengsel. Dit moet ’n smeerbare beslag vorm. Skep 1 eetlepel van die beslag en smeer ’n sirkel van sowat 10 cm in deursnee op ’n uitgevoerde bakplaat. Bak twee koekies op ’n slag vir sowat
8 – 10  minute. Die rande van die koekies sal bruin word.

Haal uit en skuif een koekie op ’n slag van die bakplaat af. Laat dit oor ’n speserybotteltjie hang sodat jy ’n holte in die binnekant kan vorm. Vou die koekie soos ’n halfmaan en bring die twee punte bymekaar, maar behou die holte wat gevorm is. Werk vinnig en herhaal met die tweede koekie. Hulle word vanself kliphard. Bak die res van die beslag. Jy gaan nie koekies kry soos dié wat jy koop nie.