Foto's deur Donna Lewis

Foto's deur Donna Lewis

Wat eet ons vanaand?

Gestoomde lamspastei

Probeer hierdie Sondag bietjie iets nuuts – om te stoom is makliker as wat jy dink! 

Genoeg vir 6

• 60 ml kanola-olie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1 kg lamsblokkies
• 250 g bruin sampioene, gehalveer
• 200 g tamatiepasta
• 500 ml lamsvleisaftreksel
• 2 x 330 ml-blikke bier van jou keuse
• sout en varsgemaalde swartpeper

Kors
• 285 g (510 ml) bruismeel
• 125 g (135 ml) botter
• 5 ml bakpoeier
• 10 ml fyn roosmaryn
• 60 ml water

Verhit olie in ’n middelslag-pot. Plaas ui en knoffel in olie en braai 5 minute liggies of tot ui verbruin. Voeg lam en sampioene by en braai 8 – 10 minute of tot goudbruin. Voeg tamatiepasta by en braai nog 3 minute. Gooi aftreksel en bier by en geur met sout en swartpeper. Verlaag hitte en laat prut 30 – 35 minute of tot lam sag is en ’n dik sous vorm. Laat afkoel. Kors Plaas meel, botter, bakpoeier en roosmaryn in voedselverwerker. Verwerk by hoë spoed tot tekstuur van growwe seesand. Gooi water geleidelik by terwyl menger loop tot alles in een bal saamkom. Rol deeg uit op meelbestrooide oppervlak. Spuit ’n diep glasbak met volume van 2 liter goed met kleefwerende kossproei. Voer bak uit met uitgerolde deeg. Sny deeg wat oorhang netjies af en rol weer uit. Skep vulsel in uitgevoerde bak en bedek met ekstra deeg. Sny rand netjies af. Draai bak toe in foelie – maak seker dis stewig geseël. Plaas in pot met 3 cm water op bodem. Plaas deksel op pot en seël dig. Bring tot kookpunt en stoom pastei 2½ uur lank. Maak gereeld seker daar is genoeg water in pot. Laat staan 5 minute en keer uit op opdienbord. Sit warm voor.