20150707-591A8047
Wat eet ons vanaand?

Koring-en-gortslaai

In Noord-Afrika staan die slaai ook bekend as tabbouleh. Graan is ’n goedkoop manier om baie monde te voed.

genoeg vir 12

• 250 g Bulgaarse koring (kyk by gesondheidsafdeling)
• 250 g pêrelgort (pearl barley)
• 250 g koeskoes
• 100 ml olyfolie
• 125 ml hoemoes
• 50 ml kookwater
• sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
• groot hand vol Italiaanse pietersielie
• hand vol kruisement, gekap
• 2 rooi-uie, fyngekap
• 300 g kersietamaties, gehalveer
• 5 wortels, in blokkies gesny
• 1 komkommer, in blokkies gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas Bulgaarse koring en sowat 500 ml water in pot. Bring tot kookpunt en kook
tot al die vloeistof geabsorbeer is, sowat 10 minute. Hou eenkant.

Plaas gort en 750 ml water in pot. Bring tot kookpunt en kook tot gort sag is, 15 – 20 minute. Dreineer en hou eenkant. Gooi 250 ml kookwater oor koeskoes en laat staan 10 minute. Roer los met vurk en voeg gaar koring en gort by. Meng deur en hou eenkant.

Meng olyfolie, hoemoes en 50 ml kookwater tot glad. Voeg sap en skil van suurlemoen by. Hou sous eenkant. Voeg res van bestanddele by koringmengsel, gooi sous oor en meng deur. Geur goed met sout en peper. Sit voor.

20150707-591A8047