Feb2016_Sarie-6
Wat eet ons vanaand?

Lamspastei-rol

Vir Sondag saam met familie en vriende! Dit verg tyd om te maak, maar dis die moeite werd. Jy kan dit al die vorige dag maak.

genoeg vir 8

VULSEL

  • 1,25 kg lamsnek, in skywe gesny
  • 2 uie, fyngekap
  • 60 ml olyfolie
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 x 400 g-blik tamaties
  • 500 ml rooiwyn
  • 45 ml gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper

PASTEI

  • 8 velle fillodeeg, in breedte gehalveer
  • 115 g (125 ml) botter, gesmelt
  • 400 g kersietamaties, gehalveer

Aand voor jy die pastei maak: Verhit oond tot 100 °C. Plaas lamsnek in oondvaste pot met deksel. Meng res van bestanddele vir vulsel saam en gooi oor vleis. Maak pot toe en oondbraai oornag of 8 uur.

Maak pastei só: Verwyder gaar vleis uit sous, vlok fyn met vurk en gooi bene weg. Voeg genoeg potsous by om mengsel klam te maak en laat afkoel tot kamertemperatuur. Plaas groot vel kleefplastiek op werkvlak en skep vleis in middel daarvan in ’n lang wors. Rol die wors netjies in die kleefplastiek op en maak seker dat die vleis goed bedek is met die plastiek. Knoop punte stewig toe en plaas vleisrol in vrieskas vir 1 uur.

Verhit oond tot 180 °C. Verf fillovelle een op ’n slag met botter en plaas tweede vel bo-op. Herhaal tot al die velle bedek is met botter. Haal vleisrol uit plastiek en plaas op geverfde fillovelle. Rol toe in deeg en plaas op kleefvrye bakplaat.

Bak vir 40 minute of tot goudbruin en bros. Sit voor met kersietamaties en aartappel-krokette.