braai, sosaties
Wat eet ons vanaand?

Varklies-sosaties & braaibroodjie-jaffels

Ek gebruik my klassieke lamsosatie-sous ook vir hierdie sosaties. Dit verg min tyd om die sous te maak, maar ek sal jou aanraai om dit liefs die dag voor die braai te doen. Die vleis kan tot 3 dae in die yskas marineer. As jy ’n jaffelpan wil aanskaf, kyk by hardewarewinkels – hulle hou dit gewoonlik aan.

genoeg vir 10 sosaties (5 mense)

sarie086

Varklies-sosaties

• 1,5 kg ontbeende varklies
• 400 g klein piekel-uitjies, in kwarte gesny
• 200 g sagte gedroogde appelkose
• 100 ml sonneblomolie
• 2 groot uie, in ringe gesny
• 15 ml kerriepoeier
• 5 ml borrie
• 500 ml bruin asyn
• 30 – 40 ml fyn appelkooskonfyt
• 2 lourierblare
• 10 ml sout
• varsgemaalde swartpeper

 

sarie010

Braaibroodjie-jaffels

• 10 groot snye witbrood
• sagte botter
• 200 g cheddarkaas, gerasper
• 3 – 4 groot tamaties, in skywe gesny
• 1 ui, in baie dun ringe gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper

Varklies-sosaties Sny die vel van die ontbeende varklies af. Sny varklies in sosatie-grootte blokkies. Plaas vleisblokkies, piekel-uitjies en appelkose in ’n groot bak. Verhit olie in ’n kastrol en braai uieringe tot sag en deurskynend. Voeg kerriepoeier en borrie by en braai sowat 1 minuut. Voeg asyn, konfyt, lourierblare, sout en swartpeper by. Laat sous 10 minute oor lae hitte prut. Haal van hitte af en laat afkoel. Gooi oor vleis, uitjies en appelkose. Maak bak toe met kleefplastiek en laat oornag in yskas marineer. Ryg nou sosaties soos jy daarvan hou. Party mense hou van meer appelkose en ander van meer uie – besluit maar self. Pak die sosaties terug in die marinade totdat jy gereed is om hulle te braai. Pak sosaties op ’n toeklaprooster en plaas op warm kole. Smeer elke keer met die omdraaislag ’n bietjie van die marinade oor. Die sosaties sal sowat 40 minute lank braai, na gelang van hoe warm jou kole is.
Braaibroodjie-jaffels Smeer elke sny brood met botter. Plaas een sny brood met die gesmeerde kant na onder op ’n jaffelpan. Plaas van die kaas bo-op, gevolg deur 2 – 3 skywe tamatie en paar ringe uie, en geur met sout en peper. Plaas nog kaas bo-op en plaas nog ’n sny brood met gesmeerde kant na buite bo-op. Maak jaffelpan toe en sny oortollige brood af met ’n skerp mes. Braai 3 – 5 minute aan een kant en draai om. Braai nog 3 – 5 minute, tot rolletjie bros is. Haal uit pan en hou warm. Herhaal met res van bestanddele.

WENK Week sosatiestokkies oornag in water – dit sal keer dat hulle brand tydens die braai.