Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Wat eet ons vanaand?

Vuurwarm hoender op die kole

Lekker hoender peri-peri oor die kole om die naweek af te skop! 

(6 PORSIES)

  • 1 groot hoender
  • 250 ml braaisous
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 60 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit jou oond tot 180 °C. Gebruik ’n skerp mes en sny die hoender-ruggraat só uit: Plaas die hoender met borskant na onder op ’n houtbord. Gebruik ’n skerp mes en maak twee diep snye aan weerskante van die ruggraat – dis die harde been wat dwarsdeur die hoender se rug loop. Sny dit versigtig los. Draai die hoender om met snykant na onder en druk dit heeltemal plat. Meng braaisous, knoffel en olyfolie saam. Plaas plat hoender in oond-roosterbak. Gooi sous bo-oor. Geur goed met sout en swartpeper. Draai bak toe in tinfoelie en bak vir 25 minute. Verwyder uit oond en plaas halfgaar hoender in toeklaprooster. Braai verder oor warm kole vir sowat 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar. Verf die hoender heeltyd met die sous.

WENK: As jy nie van branderige kos hou nie, kan jy enige ander sous van jou keuse gebruik. Kyk by ’n supermark vir ’n wye reeks braaisouse.