FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Kos

Wenke vir jou kind se kosblik!

Dis weer tyd vir skool. Hier is ‘n paar idees vir jou kind se kosblik.

Sorg dat die kosblik gebalanseerd is en al die basiese voedselgroepe bevat, met ander woorde koolhidrate, proteïene, suiwel, vet, vrugte en groente. Gee ook genoeg water saam, want die geringste dehidrasie sal jou kind se geheue en konsentrasievermoë drasties belemmer. Probeer die kosblik die vorige aand reeds pak. Só vermy jy die geskarrel vroegoggend en kan jy meer tyd aan die beplanning en bereiding van die kos bestee. Probeer sover moontlik verfynde koolhidrate en suikers vermy.

 Wat moet in jou kind se kosblik wees?

  • Koolhidrate/stysel is ’n bron van energie. Dit moet verkieslik kos met ‘n lae GI wees, soos twee snye volkoringbrood. Alternatief: Gebakte soetpatat-skyfies.
  • Proteïene verseker volgehoue konsentrasie. Eier, biltong, hoendervlerkies of  ’n stukkie vleis soos ham is ideaal.
  • Vet bly ’n belangrike bron van energie. Gebruik botter of mayonnaise op ’n toebroodjie, sit ’n verskeidenheid neute in die kosblik en sny ‘n avokado op.
FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

  • Vrugte of (onversoete) vrugtesap (200 ml) is propvol vitamiene, minerale en vesel. Pak aarbeie, appels met neutbotter of ’n paar korrels druiwe in.
  • Groente is ook lekker peuselhappies vir die kosblik. Pak stukkies wortels en suikerertjies met hoemoes in.
  • Suiwel is ’n belangrike bron van kalsium.Maak jou kind se kos so aantreklik moontlik. Pak klein blokkies kaas in. Jy kan selfs ’n tandestokkie vat en klein tamaties, kaas en vleisies daarop inryg.
FOTO: Micky Hole

FOTO: Micky Hole

Wenke

  • Kies kosse wat teen pouse nog lekker gaan lyk en nie te skerp sal ruik nie (waak teen tuna en eier).
  • Skil jou kind se vrugte af. Baie kinders hou nie van vuil of taai hande nie en word daardeur afgeskrik.
  • Kinders is gewoonlik baie gretig om te speel en wil so gou moontlik eet. Gee hulle dus klein, hanteerbare porsies soos vingerbroodjies en stukke vrugte.
  • Pak ’n naskoolpakkie in as jou kind aan buitemuurse bedrywighede deelneem.
  • Droëvrugte, neute, sade en biltong is baie geskik vir ondergewig- of aktiewe kinders met hoë energiebehoeftes.
  • Laat jou kind sy eie kosblik kies.
  • Sny die kos in oulike vorms.

Dele is geneem uit SARIE KOS Somer 2007.

Lees ook