Ek het nie net my ouma se wange en liefde vir kos geërf nie, maar ook haar blymoedigheid. Ten spyte van alle teëspoed, wantroue, irritasie of my verskriklike humeur loop ek nog altyd die pad met onverklaarbare opgewondenheid, selfs vreugde.

Die afgelope jaar het iets vreemds met my begin gebeur, 'n donkerte het oor byna alles kom hang, onsekerheid het alles waarmee ek my besig hou, kom inkleur, enige langtermynplanne is vir eers in die laai, ek bekyk alles nou met 'n gevoel van tydelikheid.

Ek is uiteindelik deel van 'n vlugtelingvolk, die kulture en nasies waarvan ek altyd nog net gelees of gehoor het, die stamme wat oor die aarde dwaal in klein kolonies, dies wat rondsit soos graspolle op 'n siek grasperk, húlle is nou ook uiteindelik ons. Vreesbevange en ontnugter vat ons die pad, of droom daarvan.

Vriende bel vanoor die aarde, "Is jou eiendomme al verkoop? Hoeveel van jou geld is al in die buiteland? Hou op koop, hoe wil jy vlug met al daai goed?" Niemand wil verduidelik wat aan die gebeur is nie.

Die pers het besluit net die heel gevaarlikes is op die voorblad, as 'n gekke nog nie genoeg mag het nie, sal ons dit vir hom gee. Ek het meer as 'n jaar laas 'n koerant gekoop, dit help niks, hulle hang nou teen die pale. En as jy wel die slimmes raakloop, glimlag hulle net rustig. Het hulle 'n geheim of is hulle op pille? Dié wat wel opinies het of voorspellings maak, sit en blaf uit die buiteland.

Ná 'n soektog van byna twintig jaar het ek 'n paar maande gelede uiteindelik my droomhuis opgespoor, die prentjie met die bome, berge, wingerde en kronkelpad wat sedert my kinderdae in my verbeelding lê, die huis waarin ek die volgende vyftig jaar wil woon, bestaan wel. En toe koop ek dit nie, ek klim in my motor en ry weg, want alles is dan tydelik.

Die waansin het aanhou groei, ek het ophou slaap, te bang om saans die ligte af te sit, ek het ophou kuier, nie meer lus vir nog vreesaanjaende (of ontkennende) gesprekke nie. Ek was woedend dat die wêreld, die land, die politiek, die werklikheid, wat ook al jy dit noem, my lewenskwaliteit en vrye wil kan bedreig.

En een oggend het die son opgekom en ek was omring met babas, babas net waar jy kyk. Ek weet nie of almal wat ek ken by dieselfde partytjie was nie, maar daar is 'n kleintjie om elke hoek. My broer se seuntjie is nou een jaar oud, my suster se dogtertjie is nege maande, my jongste broer se dogtertjie is een week oud. My assistent se seuntjie is nou een jaar, my vervaardiger se seuntjie is nege maande, my fotograaf word binnekort pa en twee vriendinne het hierdie week uitgevind hulle is swanger.

My kollega by Kindersorg het 'n splinternuwe seun en sy ouer boetie het so pas geleer om my naam te sê. Daar is nuwe lewe (en vuil doeke) net waar jy kyk.

Byna twee jaar terug het ek 'n erediens by 'n baie informele kerk bygewoon. Die jong prediker het gepraat oor vrees. Hy't genoem dat elke gevreesde mag wat nog ooit iewers wou oorneem, die Romeinse Ryk, die kerk en sy heksejagte, Napoleon, Hitler, die Amerikaanse ekonomie en verwaandheid, alles het uiteindelik tot 'n val gekom of verdwyn. Al wat bly staan het, is die mensdom, die individu, sy wil om te lewe en sy geloof.

Ek het meteens hierdie groot les onthou, ek het ook onthou dat ek so pas die beste jaar van my loopbaan beleef het, ook die jaar waarin my besigheid die meeste gegroei het.

Die lewe gaan sy gang, daar is nuwe geslagte op pad, jong lewens met hoop en nuwe moontlikhede, onskuld, tandlose glimlagte, blink oë en rooi wange. My lewe lyk tans soos 'n speelkamer, mag dit heeljaar aanhou en ook lank daarna.

Nataniël is 'n SA ikoon en bekend vir sy flambojante verhoogproduksies as sanger. Hy is ook liedjieskrywer, skrywer en entrepreneur.