beverley_naidoo_3_credit_linda_brownlee
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Beverley Naidoo:

Mens sou dink daar sal vandag nie meer waarde in fabels wees nie. Moontlik is dit tyd vir almal, jonk en oud, om dié kort stories weer ’n slag te lees. Die beginsels en waardes wat op ’n baie eenvoudige manier oorgedra word, kan net ’n positiewe bydrae tot ’n gesonder samelewing maak. Beverley Naidoo se navorsing het aan die lig gebring dat Esopus waarskynlik ’n man van Afrika-oorsprong was – heel moontlik ’n slaaf wat, omdat hy so slim was, later deur sy meester vrygelaat is. Maar soos sy self sê: ”Ons weet nie regtig nie, maar een ding is seker: Terwyl sy meesters reeds lank vergete is, sal sy naam en fabels bly voortleef.”

Een van my gunsteling-illustreerders, Piet Grobler, het gesorg vir die fassinerende sketse. Afrika en sy diere en sy mense leef op elke blad en ondersteun die energie van die eeue oue fabels. Daar is sestien wyse en pittige verhale waaruit jy opnuut iets kan leer. Dis ‘n baie interessante interpretasie van Esopus se oorspronklike verhale.

Die boek is vir hardop lees vir jou kinders en kleinkinders (en sommer vir jouself voor jy gaan slaap!).

Die skrywer is al benoem vir die Hans Christian Andersen-toekenning vir haar werk. Sy woon in Engeland en gee wêreldwyd werksessies oor skryf, wanneer sy nie self skryf nie. Fabels van Esopus word deur Human & Rousseau (R149,95) uitgegee.

Ek het per e-pos met Beverley gesels oor Esopus, Afrika, skryf en lees.

 

Waarom wou jy Esopus se fabels vanuit ‘n Afrika-perspektief vertel en waarom vir kinders?

Toe ek ongeveer 60 jaar gelede grootgeword het in Johannesburg was ek onder die indruk Esopus was ‘n Griekse slaaf. Selfs vandag plaas die meeste uitgawes van sy fabels dit steeds in ‘n Europese agtergrond. Die fabels self is universeel en daarom oorleef dit al vir langer as 2 500 jaar. Vandag dink ek dis hoogs waarskynlik dat Esopus eintlik van Noord-Afrika af kom. Nie alleen omdat sy naam ‘n aanpassing van “Ethiop” is nie, maar ook omdat die stories na aan die gees van tradisionele Afrika-verhale is waarin klem geplaas word daarop om jou positiewe bymekaar te hê, want die lewe is moeilik. As jy nie jou kop reg gebruik nie, gaan jy nie oorleef nie! Die fabels bevat ook ‘n skerp sin vir humor en eindig met morele lesse soortgelyk aan Afrika-spreekwoorde. Die stories is baie toeganklik vir kinders en groot mense – en kan gesprekke en debatte ontketen. Ek hoop die Suid-Afrikaanse agtergrond van my vertelling daarvan sal dialoog in alle ouderdomsgroepe aanmoedig.

Het jy navorsing gedoen oor Esopus en was jy verras deur dit wat jy gevind het?

Ja, ek was verras deur die groot aantal fabels wat ek nog nooit tevore teëgekom het nie. Daar was meer as 600 om uit te kies. Dis moontlik dat van die fabels deur latere storievertellers in Esopus se styl geskep is, maar ek dink nie dit maak regtig saak nie, want die beste stories verskaf soveel stof tot nadenke.

Piet Grobler het die illustrasies gedoen. Hoe het julle saamgewerk daaraan?

Dis my tweede boek saam met Piet. Hy het my Great Tug of War and Other Tales oor die behendige hasie Mmutla geïllustreer. Ek was mal oor die astrantheid van daardie sketse en was verheug toe die uitgewers voorstel hy moet Esopus saam met my doen. Die oomblik toe ek van sy rowwe sketse gesien het, kon ek sien hy gee vrye teuels aan sy verbeelding en dat die illustrasies wonderlik gaan wees. Piet gee kunsonderrig in Engeland en ons het ‘n paar keer per telefoon gesels, maar ons kon uiteindelik van aangesig tot aangesig ontmoet by die London Book Fair na die boek bekendgestel is. Ek hoop om weer saam met hom te werk.

Wat is die belang van die fabels vandag en is dit nog relevant?

Die fabels is tydloos, nog ‘n rede vir hul oorlewing. Byvoorbeeld, “Die Boer en sy Kinders” met die les Werk is die ware skat of “Die Koedoe by die Watergat” met die les Wat jy as vanselfsprekend aanvaar, is moontlik baie waardevoller as wat jy dink of “Die Leeu en die Vlakvark” met die boodskap Dis veiliger om vriende te wees as vyande. Al die waardes is steeds relevant in vandag se tye. Die mens se natuur het nie veel verander nie. Net deur lesers te vra waaroor hulle dink elke storie gaan, sal baie kontemporêre vergelykings na vore bring.

Praat jy enige Afrikaans, want jy is eintlik Engels?

Ek het my Taalbond-eksamen in 1960 gedoen, maar omdat ek die taal vir baie jare nie in Engeland gehoor het nie, moet ek nou eers weer intune! Nietemin, met my klein woordeboek kan ek die geskrewe woord ontsyfer, en wanneer ek heeltemal vasbrand dan vra ek vriende. Ek is ingenome met die Afrikaanse vertaling van Esopus en nou kan ek my Afrikaans heerlik oefen deur hardop te lees.

Jy dra die boek op aan jou ouers. Hoe belangrik was hul rol in jou lewe?

Ek was gelukkig om ouers te gehad het wat soms stories vir kinders gemaak het, met my pa wat liedjies en musiek bygesit het. Hulle het ‘n reeks kinderprogramme vir SAUK Radio gemaak, genaamd “Tales from the Bushveld”. Ek dink Esopus was deel van hul inspirasie en die stories was ook pittig en snaaks. Al het my kinders in Engeland grootgeword, was hulle ook mal oor die stories. Dis ‘n groot geskenk om vir jongmense ‘n liefde vir stories en lees te gee, want boeke maak nuwe wêrelde oop. 

 Verkies jy om vir kinders te skryf?

Jongmense maak uitdagende lesers. Hulle vereis baie, en hulle gee baie. Ek sien dit in die honderde briewe wat ek kry. Kinders het ‘n dors na kennis oor ons wêreld. Hulle word geboei deur sterk komplotte en betekenisvolle karakters wat groot vrae in die gesig staar, insluitende morele kwessies. Ons moet kinders nie onderskat nie. Ek het egter die afgelope vier jaar hoofsaaklik aan ‘n volwasse projek bestee, waartydens die hervertelling van Fabels van Esopus ‘n welkome verligting was.

Wanneer het jy begin skryf en waarom?

My eerste boek vir kinders was Journey to Jo’burg en is steeds in druk 26 jaar later, as ‘n Collins Modern Classic, en word nou gesien as ‘n universele verhaal van twee kinders se moed. Destyds wou ek vir my kinders ‘n venster gee op die land waarvan ons, hulle ouers, uitgewekenes was. Die boek het gou ‘n venster geword vir baie duisende jong lesers in Engels en ander tale in verskillende dele van die wêreld. Ongelukkig was dit verban in Suid-Afrika tot 1991. Ek sien uit na die dag wanneer dit in Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse tale vertaal sal word.

Wat lees jy en is jy ‘n boekwurm?

Daar’s nooit genoeg tyd om al die boeke wat ek graag wil lees te lees nie. Ek hou spesifiek van romans wat my verby myself neem. Op my rakke is baie Afrika-skrywers aan wie ek verskuldig is dat hulle my wêreld verbreed het, sowel as ander internasionale skrywers, uit die verlede en die hede. Romans neem ons binne-in die hart van mense, waar daardie hart ook al mag wees. ‘n Goeie verhaal is ‘n ongelooflike opwindende reis. Maar ek heg ook waarde aan goed geskryfde nie-fiksie wat my kennis en begrip verbreed.

Wat is die genotvolste aspek van jou huidige besoek aan Suid-Afrika?

Baie van my tyd gebruik ek vir navorsing vir die projek waarmee ek besig is en spandeer dus ure in argiewe. Ek weet egter een van my beste herinneringe gaan wees oor waar ek nou is – in die Magaliesberg, terwyl ek ‘n paar dae afneem van my werk. Dis baie naby die plek waarheen ek as kind saam met ouers gekom het en dit kon net sowel die plek wees vir my fabels van Esopus. Ek kan na die veld kyk vanuit my venster. Ek is mal daaroor.

 Waarna kan ons uitsien uit jou pen?

Dis baie anders as wat ek voorheen geskryf het. Dis nog geheim, al wat ek kan onthul, is, dis vir volwassenes en ek glo dis ‘n baie relevante Suid-Afrikaanse verhaal.

 

  • Abhishek

    Markus Respekt wie man ber so ein (krasses/gest rtes/lebensgef rhliches) Event mit Testostern pur und 30 pueritrpeenden Onlinern einen so seri sen Bericht schreiben kann. Das zeigen dann mal alle Agenturler Ihren Chefs wenn Sie die Rechnung einreichen! War super, das n chste mal verzichten wir auf Wellness und gehen mit Dir in die Dosen gucken! hihi