jenny_3_032
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Jenny Crwys-Williams

Hierdie Bloody Book Week is die breinkind van die bekende radiopersoonlikheid Jenny Crwys-Williams. Dis so opwindend, want Suid-Afrikaanse misdaadskrywers gaan skouers skuur met oorsese skrywers en hulle gaan gesprekke voer oor allerlei bloederige sake. Ek is ‘n verslaafde en lees baie van hierdie moord- en spanningsverhale.

Dit gaan interessant wees om te hoor hoe skrywers van dié verhale se koppe werk. Van die skrywers wat gaan praat, is Deon Meyer, Michael Robotham, Mike Nicol, Mandy Wiener, Carol Thompson en Micki Pistorius. Die gesprekke gaan by verskillende boekwinkels in en rondom Johannesburg gehou word.

En wie onthou nog die speletjie Clue? Ons het ‘n stokou weergawe wat nog Cluedo genoem word en die leidraad-kaartjies is al afgeskilfer van baie gebruik. Ons het soms sommer vir ure aaneen gesit en speel en moes dan die moord oplos wat deur een van die karakters gepleeg is. Was dit colonel Mustard wat miss Scarlett geskiet het in die studeerkamer of was dit die uwe, reverend Green, wat haar verwurg het? Tydens hierdie boekfees gaan daar ‘n ingewikkelde ”moord” wees wat opgelos moet word, beplan deur die forensiese wetenskaplike David Klatzow. Lesers kan bespreek om die hele naweek by te woon, wat by die Winston Hotel in Melrose gehou gaan word. Meer inligting is beskikbaar by http://www.thewinstonhotel.co.za/.

Ek het Jenny Crwys-Williams per e-pos uitgevra oor die boekfees.

Waar kom die idee vir The Bloody Book Week vandaan?

Ek dink al ‘n geruime tyd aan so ‘n boekweek. Al die misdaadskrywers ken mekaar: Hulle reis in sulke jagtroppe. Ek het ook misdaadboeke en my vriende wat misdaad skryf, bymekaar gemaak in een stad, Johannesburg. Dié stad het ‘n boekfees nodig, maar m.i. nie ‘n literêre een nie. En so het Afrika se eerste misdaad-boekfees gestalte gekry!

Waarom juis misdaad as tema?

Misdaad is die genre in die wêreld wat die vinnigste groei. In die VSA is daar selfs reuse-misdaadkonvensies. Daar is kwalik ‘n rolprent of TV-reeks wat nie hul basis in ‘n boek het nie, of op ‘n geskrewe verhaal geskoei is nie. Natuurlik is dit ook pret (die beplanning van die plot) en dit gee lesers ook ‘n kykie in die underbelly van ‘n gemeenskap. Ek dink dit kan net ‘n wenner wees.

Lees jy self misdaadverhale?

O ja, dié van Raymond Chandler toe ek ‘n tiener was tot Stieg Larsson.

Gunsteling-skrywer of -boek?

Ek lees heeltemal te veel om te kan sê. Ek is heeltyd verbyster deur alles wat nou geskryf word. Maar kan mens beter doen as Stieg Larsson vir ‘n kontemporêre roman? Of reeks van romans?

Waarom dink jy is daar so ‘n ontploffing van publikasies in hierdie genre, nie net in SA nie, maar ook wêreldwyd?

Dis ‘n weerkaatsing van die wêreld en die omgewing waarin ons leef. As jy ‘n misdaadverhaal wat in Kaapstad (Mike Nicol) geskryf is, vergelyk met een wat in Durban (Sifiso Mzobe) geskryf is en een wat in Johannesburg (Jassy McKenzie) geskryf is, sal jy sien elkeen van die verhale weerspieël die stad waarin dit afspeel. Dis fassinerend. Dan is daar ‘n nie-fiksie boek soos Mandy Wiener se Killing Kebble wat wydsbeen oor al die stede staan met sy boodskap van universele misdaad en korrupsie.

Tydens die Bloody Book Week is daar ‘n “moord”-naweek a la die speletjie, Clue. Was dit jou idee en gaan jy daar wees om die moord te help oplos?

Ek het ‘n nare gevoel dat ek moontlik die slagoffer gaan wees, so ek sal daar wees, maar hoofsaaklik in die gees! Die hele naweek word deur die forensiese wetenskaplike David Klatzow beplan en aanmekaar gesit. So ek glo dit gaan uit die boonste rakke wees.

Waar kry jy die energie vir alles wat jy doen: radio-aanbieder, skrywer, MC en organiseerder van ‘n klomp boekgoed op ‘n gereelde grondslag?

Ek het nie die vaagste benul nie. Ek hou van baie slaap en ook om een dag per week net vir myself te hê. Dit help dat ek alles kan hanteer. Ek is mal oor wat ek doen, en ek dink dit help ook.

As jy ‘n skrywer, in die verlede of hede, kon ontmoet, wie sal dit wees?

O, genade. Miskien Chaucer. Hy was so standvastig en hy het geskiedenis gemaak in die Engelse taal. Hy het na die sterre gereik en dit amper geraak.

Wat was die moeilikste onderhoud wat jy met ‘n skrywer moes doen?

Paul Theroux. Maar die moeilikheid het gelê in die verwagting, want ek is vertel hy is nors, stuurs, kortaf en aaklig met joernaliste wat nie sy werk ken nie. Maar toe ons die onderhoud doen, toe is hy so dierbaar soos Paul Theroux kan wees, alhoewel ek dink nie hy sal daarvan hou dat ek hom as dierbaar beskryf nie.

Beste manier om te ontspan?

Tuin maak, voëls, lees, die bos, waar mens al daardie behoeftes kan bevredig. Ek kan net nooit genoeg daarvan kry nie.

Boek of Kindle?

Boek.

  • Carel Aucamp

    Jenny se CD van die week is ook altyd iets waarna ek uitsien