joanne_jowell_publicity_pic
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Joanne Jowell

Dis presies wat Sarah Claire Picton doen in Finding Sarah – A True Story of Living with Bulimia (Macmillan, R205). Sy het haar verhaal aan Joanne Jowell vertel. Van hoe sy al vir nege jaar alles wat sy eet weer opbring – in openbare toilette, in plastieksakke, in koffiebekers. Sy is maar 26 jaar oud en is ‘n volslae verslaafde aan die eetversteuring. Dis nie ‘n maklike boek om te lees nie, want jy word gekonfronteer met goed wat mense gewoonlik wegsteek en te skaam is om oor te praat. Sarah se brutale eerlikheid sny ook na aan die been. Om te lees hoe sy haar tande verloor, hoe sy eerste ertjies eet sodat sy weet wanneer om op te hou opgooi; dis ontstellend. Wanneer sy nie meer kon opgooi nie, het sy so min geëet dat sy op ‘n tyd net 41 kg geweeg het. Tog kan jy nie ophou lees nie – en moet jy ook nie. Hierdie verhaal moet deur alle vroue gelees word omdat dit rare insig gee in ‘n siekte waaroor min geskryf word. Boonop het ons almal al vrae oor ons eie gewig en lyf gehad.

Dit het Joanne Jowell drie jaar geneem vandat sy Sarah ontmoet het tot die boek uiteindelik gepubliseer is. Die logistiek rondom die boek was uiters moeilik, want sy het wyd onderhoude gevoer met vriende, familie en mediese kundiges wat betrokke is in Sarah se lewe. Die uitdaging het vir haar daarin gelê om ‘n menslike storie te vertel, sowel as om ‘n groter bewustheid te skep rondom bulimie. Al was haar onderwerp uitmergelend, het sy die skryf van die boek geniet. Al die hoofrolspelers het intense persoonlike inligting en emosies met haar gedeel deur Sarah se storie. Soos Jowell tereg opmerk: ”There is no fame and fortune in this.” Ek het ‘n insiggewende gesprek met haar gehad oor die boek en die ontstellende siekte.

Hoe het Sarah by jou uitgekom om haar verhaal te skryf?

Sy wou graag haar storie vertel in ‘n boek, maar wou dit nie self skryf nie – al kan sy skryf. Sy het op die internet begin soek na ‘n skrywer wat jonk en funky is soos sy self. Sy het kontak gemaak met ‘n skrywer in Johannesburg wat ek ken en sy het my vertel sy dink Sarah se verhaal is iets wat ek moontlik meer sal geniet om te skryf as sy. Sy het Sarah na my verwys en haar verhaal is beslis my tipe storie. Die feit dat dit ‘n sielkundige neiging het, was vir my die aantrekkingskrag. Ek en Sarah het begin korrespondeer en so het die proses sy verloop begin neem.

Jy skryf in die inleiding oor jou eie ervaring van ekstreme gewigsverlies. Het dit jou beïnvloed om Sarah se storie te wil vertel?

My gewigsverlies-episode is nie uitsonderlik nie en dit was nie so ekstreem nie. Meeste vroue gaan een of ander tyd deur ‘n dieet-ervaring. Aan die begin, toe Sarah se storie na my gekom het, het ek aanvanklik gedink dis buite my eie ondervindingsveld. Toe ek mooi daaroor gaan dink het en met haar gepraat het, het ek werklik besef hoe na ons daaraan gekom het om mekaar se lewens te lei en hoe na ek daaraan gekom het om tot die ekstreme te eksperimenteer met gewigsverlies.

Dis vir my belangrik om ‘n konneksie te maak met dit waaroor ek skryf en dié konneksie kan soms onverwags wees. In hierdie geval was dit die besef dat my en haar lewens eintlik bitter na aan mekaar gekom het.

Is jy meer ontvanklik en onbevooroordeeld teenoor Sarah se situasie as gevolg van jou eie ervaring?

Beslis. Dit het my sensitiwiteit verhoog, maar ek kyk terselfdertyd na daardie tyd in my lewe met irritasie, want ek besef nou hoeveel skade ek myself aangedoen het. Ek het niks baat daarby gevind nie. Op ‘n manier kan mense maklik na Sarah kyk en sê sy moet haarself regruk. Mense besef nie hoe ernstig hierdie siekte is nie. Dis amper soos depressie. Iemand wat nog nooit daaraan gely het of saam met iemand gewoon het wat dit onder lede het nie, kan maklik voel dat dit nie so erg is nie. In my eie geval kon ek van buite myself na myself kyk en myself uit my situasie ruk. Ek het die risiko geloop om op dieselfde manier na Sarah te kyk en dieselfde van haar te verwag. Maar deur haar en die siekte beter te leer ken, het ek baie beter begrip ontwikkel vir hoe moeilik dit is. Ek het ook meer waardering dat ek myself wel kon red om te radikaal te raak oor my lyf.

Wanneer mens die boek lees, lyk dit of Sarah baie insig in die siekte het en eintlik weet wat haar te doen staan om gesond te word.

Dis ‘n verslawing. Daar is ‘n chemiese wanbalans soos enige gemoedsversteuring, byvoorbeeld depressie of bipolariteit. Daar is persoonlikheidseienskappe, daar is nature en nurture. Die nurture-elemente kan sy vir haarself rasionaliseer, maar die nature-elemente is nie iets waarvan sy so maklik kan ontsnap nie. Beslis nie wanneer iemand in haar posisie geen emosionele ondersteuning kry nie. Sy het bitter min familie-ondersteuning al is sy na aan haar broer. Sy het ‘n interessante, maar moeilike verhouding met haar ma, Robyn. Sy benodig onvoorwaardelike ondersteuning en dit kry sy nie. Sy het wonderlike vriende en ‘n ongelooflike intellek – baie goeie ondersteuningsbronne vir haar. Maar daardie “vou jou arms om my, ek is daar vir jou”-ondersteuning ontbreek.

Dis ironies dat haar ma ‘n terapeut is en nie werklik veel aan Sarah se situasie kon verander nie.

Sy is toegewyd en stel belang, maar amper met ‘n tipe gelatenheid. Ek weet nie of dit aangeleer of aangebore is nie en of dit die resultaat is van jare se deel met Sarah nie. Robyn kontak my gereeld. Dis nie dat sy nie in Sarah belangstel nie, dis net dat sy nie altyd betrokke is nie. Hulle het ‘n wipplank-verhouding. Dikwels dink ek sy voel magteloos juis as gevolg van haar opleiding. Sarah se siekte en Robyn se lewenskwessies het gebots op ‘n tyd toe nie een van hulle iets daaraan kon doen nie en dit het ‘n afstand tussen hulle veroorsaak.

Hoe moeilik was dit om met Sarah te werk, want op die oog af is sy baie toeganklik en dan onttrek sy en verdwyn vir dae aaneen?

Ek het besef dis maar haar persoonlikheid. Elke keer wanneer ek met ander rolspelers oor Sarah gepraat het, het hulle oor haar onttrekking en verdwynings gepraat. Sy self erken dit ook. Die praktiese aspekte van die skryf van die boek was uiters uitdagend, maar Sarah se persoonlikheid en die feit dat sy ‘n plesier was om mee te werk, maak op daarvoor.  Sy is so eerlik en die energie wat haar omhul, het my telkens teruggetrek na haar toe en het my vasberade gemaak om die boek te voltooi. Sy was committed tot die boek, maar die uitdaging om haarself so bloot te lê was soms so groot dat sy effe onttrek het. Dit was moeilik vir haar en ek verstaan dit. Ek het dit nie persoonlik opgeneem nie en het net aanhou probeer. Wanneer ek haar gesien het, was sy baie toeganklik en toegeeflik.

Was ‘n deel van die uitdaging dat die skryf van die boek Sarah kon laat terugval na aktiewe bulimie-lyer?

Dit was en bly een van my grootste vrese. Dis ‘n reusagtige verantwoordelikheid waarvoor ek nie altyd heeltemal opgewasse voel nie. Dis hoekom die kenners in die verskillende mediese velde wat deel was van die boek se skryf so belangrik en hulpvaardig is. Die boek kan ‘n sneller wees, maar ek sal dit haat as dit die geval is. Die boek was Sarah se idee, dis haar baba.

 Sarah praat oor die verskil tussen anoreksie en bulimie in die boek.

Wanneer mens eetversteuring hoor, dink die meeste mense aan anoreksie en dit roep ‘n beeld op van so ‘n benerige en uitgeteerde liggaam op. Bulimie is baie meer geheimsinnig en nie so ooglopend nie. Sommige lyers is selfs effe oorgewig. Wat persepsie aanbetref, is dit amper asof anoreksie  ‘n hoër vlak van erkenning geniet. Sarah erken sy is verleë oor haar bulimie en dis iets wat sy nie openlik wou erken nie. In teenstelling hiermee dra sommige lyers aan anoreksie dit as ‘n skild van trots, want dit gaan oor hoe goed hulle hulself kan inhou en beheer om nie te eet nie. Hierteenoor is bulimie ‘n smerige en vieslike besigheid. Dis ‘n skandelike verslawing, want wie wil nou aan die eettafel praat van hoe hulle vreet en opgooi. Maar dis aanvaarbaar en meer verteerbaar om aan die eettafel te sê hoe oulik jy was, want jy het nie die snytjie sjokoladekoek geëet nie, maar wel drie worteltjies. So ek dink bulimie kom eintlik baie meer voor as wat mense dink, omdat mense geheimsinnig is daaroor.

Dis duidelik uit die boek dat lyers aan die siekte eensaam is en geïsoleerd voel. Is hulle ‘n gevaar vir hulself?

Wanneer die siekte begin, het verslaafdes nie die kennis oor hoe gevaarlik die siekte vir hulle is nie. Hulle foeter hul gesondheid vir ewig op. Hulle verloor tande, kan hul slukderm skeur, ‘n hartaanval kry en vernietig hul beendigtheid. In Sarah se geval het sy eers later besef wat die gevolge van die siekte is. Teen daardie tyd was die siekte al ver gevorder en so deel van haar. Sy is ‘n verslaafde en dis moeilik om gesond te word.

Is daar genoegsame hulpbronne om die siekte te behandel?

Nee. Selfs voorkomende maatreëls is onvoldoene. Skole kla hulle kry nie inligting of riglyne hoe om leerders bewus te maak van die siekte en die gevare nie. Hierdie siekte is ‘n toenemende probleem in Suid-Afrika, omdat ons kulturele landskap besig is om te verander. Die mediese personeel wat wel met die siekte werk, moet daagliks baklei vir beter en meer hulpbronne. Dit sluit klinieke in. Dis nie goed genoeg om die pasiënte in klinieke vir mense met gemoedsversteurings te behandel nie. Bulimie benodig gespesialiseerde behandel. Dr. H, Sarah se sielkundige, sê die dokters wat in die openbare gesondheidsdienste werk, is baie bekwaam, maar daar is geen hulpbronne om iets wat as ‘n nismark-siekte gesien word te bekamp nie.

Speel die media ‘n rol in die toename van die siekte?

Die media se rol is ‘n aanvegbare en moeilike een. In stedelike omgewings waar mense baie meer blootgestel word aan die media, is daar ‘n besliste styging in ‘n toename van mense wat eetsteurnisse onder lede het. Sarah werk in die media en sy is mal oor alles wat daarmee verband hou. Sy is heeltemal te veel blootgestel aan alles in die media. Sy was ‘n sitting duck. Ons word konstant blootgestel aan size 0-modelle en selfs kleiner. Hierdie foto’s het ‘n invloed op hoe ons onsself sien. Daar is deesdae gelukkig meer protes daarteen, maar vir jong meisies is dit steeds die ideaal van hoe hulle wil lyk.

Sarah se verhoudings met mense is kompleks, veral mansvriende. Kies sy bewustelik mans met probleme?

Soort van. Sy praat van hoe wonderlik sy voel as sy iets in iemand se lewe kan regmaak en hulle gelukkig maak. Sy is so besig om die leemte in haar te vul en weer leeg te maak oor en oor. Wanneer sy iets heel maak in ander se lewens laat dit haar self heel voel. Daar is ‘n interafhanklikheid aan al haar verhoudings wat nie haalbaar is nie. Dan, om dinge verder te kompliseer, neem kos amper die rol van ‘n derde persoon in die verhouding in. Sy besef die verhoudings is nie gesond vir haar op die lang duur nie. In haar meer onlangse verhoudings het dit beter gegaan, want sy het meer perke gestel vir die “regmaak” van mekaar in die verhouding. Jy kan nie ‘n siekte (wat jou emosioneel onvolwasse hou) beveg, as jy nie die emosionele kwessies kan uitdruk, beheer of konfronteer op ‘n gesonder manier nie. Emosionele volwassenheid is al wat gaan help dat verhoudings meer suksesvol is.

Sal Sarah ooit herstel?

Die vraag van herstel is oop. Daar is nie ‘n begin en einde met die siekte nie. Soos met enige verslawing is dit iets wat altyd deel van die lyer gaan wees. Die gesondwordproses is ‘n vyf tot sewe jaar proses. En dan moet jy daarna steeds aktief bewus wees om nie terug te val nie. Hopelik sal Sarah dit kan doen. Ek dink sy is innerlik baie sterk en sy het al so ver gevorder. So baie van die genesing het sy op haar eie gedoen en sy sal aanhou om daaraan te werk.

Wat was die belangrikste ding wat jy persoonlik uit die skryf van die boek geleer het?

Selfkennis en om oukei met myself te wees. Daar is wysheid in volwassenheid. Ek kyk na Sarah wat so ‘n uitdaging in die gesig staar en dink tot jy nie geestelike en emosionele volwassenheid het nie, is dit bloot ‘n lewenspad wat jy moet volg en hopelik kry jy die regte ondersteuning om jou tot volwassenheid en insig te bring. Dis fantasties as jy lank en hard na jouself kan kyk en jouself nie kasty nie.

Wie wil jy hê moet die boek lees?

Potensiële lyers aan eetsteurnisse, medici wat in die veld werk, maar eintlik almal. Hoe die verhaal aangepak is, maak die boek baie toeganklik. Jy sal wel aanklank vind by ‘n karakter in die verhaal. Dis ‘n baie moeilike onderwerp, maar ‘n baie leesbare boek. Dis so vol emosie. Ek hoop die boek help om debatte en gesprekvoering te begin oor die kwessie en dat daar iets positiefs vir die breër gemeenskap daaruit voortvloei.