Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met John Carlin

Dis baie duidelik uit sy lewensverhaal, Rafa – my story (Sphere, R200) soos hy vertel het aan die skrywer John Carlin. Carlin, ‘n internasionale joernalis wat in die verlede in Suid-Afrika gewerk het, is ook die skrywer van Invictus, wat ons Suid-Afrikaanse suksesverhaal van die 1995-Wêreldbekerrugby vertel het. Wat hom die meeste opgeval het van Rafael Nadal, is hoe toegewyd hy is aan die spel en hoe hy, maak nie saak hoe laat hy in die bed gekom het, of hoe goor hy voel nie, klokslag soggens op die baan is om te oefen. En hoe hoflik hy teenoor almal is. Respek verdien respek.

Gee my maar die bakkie aarbeie en room, dankie. Veral as dit ‘n eindstryd op Wimbledon is tussen die einste Nadal en my ander groot tennisster, Roger Federer. Hierdie grootse gebeurtenis in Nadal se loopbaan in 2008 skop ook die boek af, bal vir bal, stel vir stel. En deur hierdie vertelling leer jy onsettend baie van Nadal se ingesteldheid teenoor die spel, sy opponente en die lewe. Dis een van die mees fassinerende boeke wat ek die afgelope tyd gelees het, juis omdat Nadal nie emosie wys op die tennisbaan nie, en omdat mens nie skandes en skinderstories oor hom in die poniepers sien nie. Inteendeel daar word omtrent net oor sy sportprestasies geskryf. Hy is ‘n uitsonderlike sportman, maar dit het nie oornag gekom nie. Hy moes van kleins af hard werk en moes toegewyd oefen om sy ideale te verwesenlik en hy het veral gewerk aan sy kop. Hy speel tennis bal vir bal en konsentreer op elke bal. Soos hy self sê: ”That’s where mental strength comes in, what seperates champions from near champions.”

Sy ondersteuningsnetwerk is baie belangrik om hom gefokus te hou. En dan is daar die rituele. As jy gedink het hy het rituele op die baan voor elke bal wat hy afslaan, dan kan jy bly wees jy is nie sy teenstaander wat sy rituele in die kleedkamer moet aanskou nie. Nadal gaan in sy eie wêreld in, waar niks of niemand bestaan nie, wanneer hy op die baan moet stap. Dan is dit net hy, sy raket, wat ‘n verlenging van sy arm word, en sy ongelooflike fokus.

Wat my betref, is hy ‘n kampioen en ná ek sy verhaal gelees het, is hy vir my nog ‘n groter een. Dis nie net ‘n storie oor tennis nie, maar hoe sport betekenis aan mense se lewens gee en hoe hard jy moet werk om die beste te wees. Rafa – My Story is op Exclusives se Wish List vanjaar, en as jy vir ‘n sporgeesdriftige ‘n boek wil persent gee, kan ek hierdie een aanbeveel. Ek het per e-pos met John Carlin gepraat oor sy verhouding met Rafael Nadal.

Is dit jou eerste boek na Invictus en hoe het dit gekom dat jy dit geskryf het?
Ja, dit is. Die boek het gebeur omdat Nadal en sy mense my gevra het om sy lewensverhaal te skryf. Ek raai dit help seker dat ek Spaans kan praat en in Engels kan skryf en vice versa!

Hoe het jy die taak aangepak? Het jy saam met Rafael gereis en het jy beperkte tyd met hom gehad?
Ek het saam met hom gereis na Katar en Australië vir ‘n paar weke. Daarna was ek vir  twee weke in Majorka om met sy familie, vriende en ander kennisse te praat. In April het ek Rafael weer gesien in Barcelona. My plan was om eers soveel moontlik rou materiaal oor sy lewe te versamel as wat ek kon, hoofsaaklik deur onderhoude met hom, en dan om ‘n ontvanklike manier te vind om sy verhaal te vertel. 

Hoe is hy as persoon? In die boek kom hy voor as nogal skaam en nie juis gemaklik buite sy gemaksone van tennis nie.
Hy kom oor as nogal skaam, alhoewel ek dink dis deels die wyse voorsorg van die rykes en bekendes. Hy is ongelooflik respekvol teenoor al die mense rondom hom, of dit nou kelners, vlugkelners, hoofde van regerings of teenstaanders op die tennisbaan is. Dít bewonder ek baie in iemand wat so beroemd is soos hy. Maar hy is ook nogal speels as jy hom eers leer ken, en hy is soms nogal eiesinnig en altyd gevat.

 Was dit moeilik vir hom om oor sy diepste gevoelens te praat?
Beslis, want dis nie sy styl om oop te maak nie. Dis ook nie sy familie s’n nie. Maar hulle het, uiteindelik, tot my groot verbasing.

Wat van hom het jou die meeste beïndruk?
As ‘n man, sy beleefdheid en aandag teenoor alle mense. As ‘n speler, sy ontsaglike – ontsaglike! – konsentrasievermoë en sy dissipline om te oefen. Sy oefensessies is ‘n kruising tussen ‘n heilige mis en ‘n peloton seesoldate wat marsjeer.

Sy familie behandel hom soos ‘n gewone mens wat ‘n goeie werk doen en hulle ondersteun hom duidelik. Wanneer hulle nie by hom is nie, wys hulle darem hul trots en sal hulle so bietjie spog met hom?
Nee. Of baie min. Hulle voel so deel van hom en om te spog om sy onthalwe sal gesien word as om oor hulself te spog. As jy verstaan wat ek probeer sê. Hulle spog nooit, wat nog te sê kraai van trots. 

Dink jy hy het ‘n invloed gehad op hoe tennis in die wêreld gesien word?
Hy het dit gewilder gemaak, het dit ‘n wyer aantrekkingskrag gegee, vanweë sy charisma op die baan. Ek dink die kontras tussen die gladiator op die baan, die oerkrag, teenoor die aangename, skaam, hoflike mens af van die baan, is baie aantreklik. Veral, as ek dit mag waag om te sê, vir vroue.

Rafael sê in sy nawoord julle het vriende geword. Het jy steeds kontak met hom?
Ons het goed met mekaar oor die weg gekom. Vriende is egter ‘n groot woord. Ek is beslis nie in sy binne-sirkel nie, maar ons ruil vrolike SMS’e en so uit. Ek is seker as ons mekaar weer sien, sal ons mekaar ‘n drukkie gee.

Waaraan werk jy nou?
Net goeie ou dag-tot-dag joernalistiek. Maar ek hoop om aan meer boeke en dokumentêre te werk, baie meer, voor my wedloop verby is.