liezl_thom_copy
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Liezl Thom:

Nou is daar ‘n boek oor advokaat Barbie, oftewel Cézanne Visser, en die hofsaak waarin die hele drama rondom die seksuele gebeure uiteengesit word. Shattered Lives – the Story of Advocate Barbie (TCB Publishing, R200) is geskryf deur Liezl Thom en Laurie Pieters, wat op verskillende maniere betrokke was by die hofsaak. Laurie het vir Dirk Prinsloo gewerk as persoonlike assistent en is deur hom gevra om ‘n verklaring te onderteken, waarin sy moes beaam dat hy oor geen rekenaarvaardighede beskik nie. Die verklaring sou haar lewe verwoes, sou dit in die hof gebruik word. Sy het die ondersoekbeampte van die saak oor Dirk se versoek gekontak en hy het haar gevra om ‘n staatsgetuie  te word en haar getuienis het beslis bygedra tot hoe die hofsaak vir Cézanne Visser afgeloop het. Liezl Thom was die joernalis wat die hofsaak gedek het vir Eyewitness News en haar daaglikse verslaggewing het bygedra tot die algemene publiek se belangstelling in die saak. Sy het ‘n oorsig gehad van al die gebeure wat aanleiding gegee het tot Cézanne se uiteindelike skuldigbevinding en vonnis.

Hierdie hofsaak is een van die opspraakwekkendste en dramatiese rakende seksuele oortredings en kindermolestering wat die afgelope tyd in Suid-Afrika plaasgevind het. Die publiek, maar ook die media was gefassineer deur Visser en Prinsloo. Alles van adv. Barbie se Idols-oudisie, die metamorfose van haar lyf, haar hare en wat sy aangetrek het, het tot berigte in die media gelei. In hierdie boek word die tragiese sy van hoe alles ‘n impak op al die betrokkenes in die gebeure gehad het, bespreek. Dis ‘n fassinerende verhaal wat alles saamvat en uiteensit. Gevra waarom sy juis hierdie boek geskryf het, sê Liezl Thom: “Dis die soort stories waarvan internasionale rolprente gemaak word.” Dit is beslis! 

Ek het oor ‘n paar koppies koffie met Liezl gesels oor die boek.

Hoe was dit om die boek oor adv. Barbie te skryf? Sy word in koerante uitgebeeld as ‘n slagoffer en die seksslaaf van Dirk Prinsloo.

Iemand wat die boek gelees het, het gesê hy kan van die een bladsy tot die volgende nie agterkom of ek vír haar of téén haar is nie. Ek voel jammer vir haar, maar ek verpes haar ook. Cézanne het nog nie verantwoordelikheid geneem nie. Elke keer as daar vir haar iets gesê word dan is dit: “Ja, maar Dirk …” Sy deflekteer alle skuld van haar af. In die hofsaak het ons gesit en luister na absolute horrific goed – dit het my gevang. Wat die samewerking tussen my en Laurie Peters so kragtig maak: Sy was aan die binnekant en kon buitentoe kyk. Ek was aan die buitekant en kon binnetoe kyk. So dit gee ‘n volledige prentjie. Ons het verskriklike sappige stories gehoor, maar ek het geweier om dit in die boek te sit. Ek doen nie skinder nie. Dit gaan oor my reputasie. Ons het ‘n span regsgeleerdes wat die boek met ‘n fynkam deurgegaan het vir laster. Ek verwag dat Dirk ons gaan dagvaar – dis in sy natuur. Maar ons gaan hom nie enige skietgoed gee nie en vir Cézanne nog minder.

Jy beskryf jouself as ‘n weerlose joernalis. Hoe kies ‘n mens dan om die veld te werk, waar jy met die donker kant van die lewe in aanraking kom?

Dit was nie ‘n keuse nie, dit was ‘n sameloop van omstandighede. Ek het my werk geweldig geniet. Ek het swaargekry, ek het seergekry – dis die tipe mens wat ek is. Ek kan nie onaangeraak staan teenoor die mense met wie ek in aanraking kom in stories nie. Ek was mal oor my werk by Eye Witness News. Drie jaar gelede het ek as ‘n life coach gekwalifiseer. Ek het nooit besef hoeveel impak die sekondêre trauma op my lewe gehad het nie. As ‘n life coach moet jy ontvanklik wees. As ‘n joernalis moet jy toe wees. Toe begin ek fisiek in my lyf agterkom daar is konflik. Ek het my nuusredakteur gesê ek wil bedank en sy het my ‘n maand verlof gegee om daaroor te dink. Ek het na my verlof  ‘n storie met Johan Smit (die vermoorde tienermeisie, Anika Smit, se pa) gaan doen. Toe vat hy my in haar kamer in waar sy vermoor is en hy wou deel en praat. Dis toe waar die life coach en joernalis ernstig teen mekaar begin baklei het. Toe ek daar wegry, toe besef ek ek kan dit nie meer doen nie.

Hoe het dit gekom dat jy die boek geskryf het?

Laurie het my genader. Ek wou aanvanklik ‘n boek skryf, want die hele storie is boeiend. Dis eintlik ‘n draaiboek, dis ‘n verskriklike sterk storie. Toe sy tronk toe gaan, wou ek die boek skryf, toe vra Susan, Cézanne se ma, ek moet saam met hulle ‘n boek skryf. Maar dit realiseer toe nie, want hulle het toe onafhanklik aangegaan met ‘n boek. Laurie het my in April gekontak om saam met haar die boek te skryf. Ek vra haar toe hoekom sy die boek wil skryf en oor watter boeg gaan sy die boek se storie gooi. Toe sê sy sy het intussen kriminologie geswot. Sy het nou die professionele kwalifikasie om ‘n opinie te mag hê. Vir haar was dit ook deel van haar verwerking, want hierdie mense het amper haar lewe verwoes. As sy die verklaring geteken het, dan was sy in groot moeilikheid. Sy het my gekontak omdat sy my van die hofsaak af onthou het. Sy sê ek was een van die mees objektiewe mense tydens die verhoor. Die eerste ding wat ek toe doen, is om na Susan te gaan en te sê: “Laurie het my gevra om saam met haar ‘n boek te skryf. Ek vra nie jou toestemming nie, ek lig jou net in. Ek gaan dit doen.” Toe het Susan probeer om Laurie te diskrediteer.

Hoe het jy Cézanne se ma ervaar?

Susan het haar eie boek geskryf. Iets wat ek ondervind het van die ma was, sodra hulle onder druk gesit word, dan val hulle aan. Sy het my gedreig. Susan is verskriklik lojaal teenoor haar kind. In daai opsig is sy ‘n modelma. Sy is die tierwyfie wat enigeen sal verskeur wat by haar kind kom, maar nie sy of haar dogter neem verantwoordelikheid nie. Toe ek vir Susan sê van die boek, is die indruk wat ek gekry het, hulle storie gaan nie verander nie. Selfs al werk ek saam met hulle, gaan hulle presies by hulle storie bly.

Het Susan ‘n groot invloed op Cézanne oor hoe sy na vrouwees kyk?

Ja, want Susan is Cézanne se ma. Dogtertjies modelleer hulleself na hul ma. Maar Cézanne Visser is ‘n dependent personality (ek weet nie of sy amptelik so gediagnoseer is nie). Een van haar klasmaats het my vertel as sy by hulle is, dan praat sy soos hulle. As sy by my is, dan praat sy soos ek. Wanneer sy by Dirk was, het sy sy persoonlikheid aangeneem. ‘n Kriminoloog wat in die tronk werk, vertel my daar is twee gevangenes wat hulle oor Cézanne ontferm in die gevangenis. Sy neem hulle persoonlikhede aan, sy loop soos hulle, sy praat soos hulle. So ja,  Susan beïnvloed haar kind, omdat sy haar ma is, maar ook omdat Cézanne hoogs beïnvloedbaar is.

Die teenstrydigheid vir my in Cézanne is, sy het haar grade in regte cum laude geslaag en het tog ‘n grondige agtergrond in regte, maar uit die boek lyk dit vir my of sy geen insig het nie.

As ek jou moet sê hoeveel keer sy in die hof gesê het: ”Ek het nie met my regsbrein gedink nie.” Sy is intelligent, verseker. Jy behaal nie jou grade cum laude as jy onnosel is nie. Maar emosionele intelligensie is daar baie min van. As mens kyk hoe beide sy en haar ma optree, kry ek die indruk dat nie een van hulle emosionele intelligensie het nie.

Hoe het jy die boek benader en die materiaal daarvoor versamel?

Ek is baie dankbaar dat Laurie die onderhoude gedoen het. As ‘n kriminoloog skroom sy nie om haarself bloot te stel aan die donker kant van die lewe nie. Ek moet myself bietjie beter oppas. Ek wou nie gaan kyk na waar die kinderprostitute vandag nog op die straat staan nie. Sy wou my saamvat, maar ek wou nie. Ons het volle toegang tot die hofrekords gehad. Ek het met kennisse, advokate en prokureurs gepraat, veral oor Dirk, want Dirk se prentjie is vaag en nog baie duister. Ek het met Hanti gepraat wat vir Dirk gesien het in Rusland. Ek het onderhoude gedoen met professionele mense. Ek het nie in die donker onderwêreld gaan rondkrap nie. Laurie het dit gedoen en sy het genoeg nuwe inligting om ‘n hele boek oor Jeannine du Plessis (een van die slagoffers) te skryf.

Moes jy baie navorsing doen?

Nee, want om met mense te praat is nie vir my navorsing nie – dis praat. Ek het Cézanne en Dirk se storie geskryf. Laurie het die slagoffers s’n geskryf. Ons het albei met die hofrekords langs ons gesit terwyl ons geskryf het. Die storie van die ses slagoffers het nooit baie mediadekking gekry nie, want dit was in camera. Die storie van Jeannine du Plessis veral is aaklig. Sy was ‘n straatkind, ‘n prostituut. Sy sou ‘n miljoen keer saam met Dirk en Barbie gespeel het. Wat haar storie so erg maak, is dat sy op die punt was om haar lewe reg te ruk. Sy het net begin skoolgaan toe Cézanne haar betrek het by hulle aaklighede. Jeannine kan nie alles onthou wat gebeur het nie. Daar is vermoedens dat dinge baie erger was as wat gesê is, dat die “assault” al die pad gegaan het, en dat Cézanne nie so onskuldig is soos sy sê nie. Maar dis alles bewerings. Ek het wat Laurie geskryf het in storievorm verwerk. Sy is ‘n akademikus en skryf ook omslagtig.

Een van die goed in die boek wat my ontstel het, is dat die kinderhuise waar die slagoffers tuisgegaan het, nie keuring doen vir mense wat kinders oor naweke kom oplaai het nie. Weet jy of dit nog so is?

Dis vir ons moeilik om te bepaal. Dit is een van die groot redes waarom Laurie die boek wou skryf – om te wys hoe blootgestel is weerlose kinders. Ons kry nie ‘n definitiewe antwoord hieroor nie. Ons het vir die departement van Welsyn ‘n brief geskryf en nou nog nie ‘n woord van hulle gehoor nie. Gepraat van briewe, ek het vir Dirk ook twee briewe geskryf. Ek weet hy het dit nie gekry nie, want hy is daai tipe ou – hy sou geantwoord het. Ek sal my laaste twee rand daarop verwed.

Die briefwisseling en kontak tussen hom en Hanti (die Pretoria News-joernalis) soos beskryf in die boek is baie interessant. Daaruit lyk dit of hy ‘n misplaaste sin het van wie en wat hy is. Lei hy aan ‘n grootheidswaan?

Ek dink hy het ‘n hele paar persoonlikheidsafwykings, maar hy is gevaarlik. Soos ek in die boek ook sê, hy is nie skuldig voor hy skuldig bewys word nie. Volgens Suid-Afrikaanse reg is hy nog onskuldig op die seksklagtes. Ek het ‘n wesentlike probleem daarmee dat al Cézanne se kenners hom gaan diagnoseer het. As ‘n leek mag ek sê, iemand is sus en so, want dit dra nie gewig nie. Maar hy moet eers geëvalueer word voordat enige aannames gemaak kan word. In enige artikel wat oor my, Laurie en die boek geskryf word, is dit vir my belangrik dat hierdie uitgelig word.

Ons het die boek opgedra aan Irma Labuschagne, die kriminoloog. Irma het geglo daar is goed in elke mens, daar is ‘n rede hoekom ‘n mens doen wat jy doen. Ek gee nie om hoe sleg Cézanne se dade was nie, ek gee nie om hoe sleg Dirk se dade was nie, maar daar is iets goeds iewers in hulle.

Het jy kontak gehad met Cézanne na sy in die tronk opgeneem is?

Ek het vir haar gaan kuier verlede jaar op haar verjaardag, 9 September. Dit was ‘n kort besoekie oor koeitjies en kalfies. Ek weet sy kan amazing wees. Mens gaan nie deur hel en leer nie iets nie en wanneer jy so iets groots leer, is dit jou verantwoordelikheid om dit met ander te deel. Ek hoop van harte sy het die vermoë om haar lewe om te draai.

* Lees die eksklusiewe uittreksel uit dié boek in die November-uitgawe van SARIE, wat nou te koop is.  Volg SARIE op Twitter en Facebook