linda_f
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Linda Friedland

Dis die mening van dr. Linda Friedland, skrywer van die boek, Omvattende Gids vir Gesinsgesondheid (Tafelberg, R229,95) waarin sy die nuutste mediese inligting met lesers deel. Vandag kan jy nie net meer staatmaak op dokters en ander mediese praktisyns om jou gesond te hou nie. Jy moet jouself bemagtig. Die gids is ‘n nuttige stuk gereedskap waarin jy vinnig kan naslaan oor die algemeenste siektes, kindergesondheid, mans en vroue se gesondheidsprobleme, simptome en behandelingsopsies, noodhulp en trauma.

Dis duidelik daar is nie ‘n quick fix vir mediese probleme nie. Mens moet aktief daaraan werk om gesonder te leef en beter te voel. Friedland is van mening dat jy beheer het oor ongeveer 70% van die faktore wat jou gesondheid beïnvloed. Vir haar gaan dit daaroor dat jy ‘n ”gereedskapkas” moet hê met strategieë in waarmee jy die lewe kan aandurf. Sy praat van die FIT-beginsel, wat oefening aanbetref. Frekwensie van oefening: 3 keer ‘n week is genoeg; Intensiteit van oefening: matig is die beste; Tydsduur van oefensessie: so ongeveer 40 minute per sessie is ideaal, want dis wanneer immuniteit inskop en vet begin verbrand. Hierdie strategieë moet die basis van jou gereedskapkas vorm. Friedland beklemtoon dat jy dit ‘n leefstyl moet maak en dat jy hierdie gesonder gewoontes ook aan die res van jou familie moet oordra. Die verantwoordelikheid begin by jouself.

Ek het met haar gesels tydens haar onlangse besoek in Suid-Afrika om haar boek bekend te stel. Ons het uiteraard gefokus op gesondheid!

Jy het ‘n baie besige program. Hoe bly jy gesond?

Ek het ‘n klomp strategieë in plek. Ek is nie perfek nie. Ek is ‘n paar kilo’s oorgewig en ek is soms oormoeg. Ek is nie by die perfekte plek van perfekte welstand nie, maar ek is in balans. Ek kyk na wat ek eet en eet 90% van die tyd gesonde kos, maar daar is ruimte vir klein bederfies soos ‘n paar cappucino’s, ‘n glas goeie rooiwyn en goeie donkersjokolade. My dieet is vegetaries en ek eet drie maaltye per dag, asook twee klein  peuselhappies.

Ek is ‘n baie intense mens en verbruik heeltyd energie en daarom moet ek mediteer. Ek probeer dit twee keer per dag doen. Dan fokus ek daarop om myself weer te aard en te kalmeer.

My oefenprogram moet ek mooi beplan, want ek word baie gou moeg, veral na my laaste swangerskap ‘n paar jaar gelede. Ek kan nie te hard en intensief oefen nie en daarom doen ek so drie keer ‘n week oefeninge met ‘n laer impak soos stap en swem. Ek doen ook bietjie joga en Pilates. Wanneer ek reis, probeer ek om te stap wanneer ek tyd het. My program is baie meer gereguleerd as ek tuis is.

Moes jy dinge in jou lewe verander om ‘n gesonder gemoed te hê?

My werk was nog altyd om ‘n real woman te wees en om eerlik te wees met my eie familie, my kinders, in my verhouding en met my gehoor. Ek moet dus baie eerlik wees met myself en ek moes daardie konsep van perfek wees en alles altyd reg doen, opgee. Ons het mos maar almal af-dae, maar dit is wat jy doen wanneer jy dit ervaar, wat tel. Ek probeer om myself weer positief  te lig. Ek het al sulke lae buie ervaar. Ek het nageboorte depressie gehad na my jongste se geboorte en ek het ook depressie gehad na ons geëmigreer het na Australië. Die lewe is moeilik, maar dit gaan ook daaroor om in beheer te bly van die goed waaroor jy wel beheer kan hê, jou fisieke en geestelike gesondheid.

Ons woon ‘n wêreld waar ons toegegooi word met inligting op papier en in die kuberruim. Hoe maak jy seker dat jy jou boodskap oor gesondheid effektief oordra?

Dis baie moeilik. My boek is propvol inligting, maar wat anders is daaraan, is dat dit op datum is met al die nuutste gesondheidsinligting. Dit bevat al die hoofstroom-data en word gestaaf deur die wetenskap, maar is geskryf vanuit ‘n nuwe wêreldperspektief waarin gees, liggaam én medisyne belangrik is. Dis belangrik om persoonlik bemagtig te wees. Gesondheid is nie meer nét die terrein van die dokter nie. Die dokter se rol is belangrik, maar dis ook die pasiënt wat verantwoordelikheid moet neem om hulself  te bemagtig vir wanneer hulle siek is.

Hoe kies mens ‘n algemene praktisyn?

Dis ‘n feit dat GP’s nie baie tyd het nie, maar ek dink dis belangrik dat jy vir ‘n lang afspraak vra wanneer jy ‘n eerste afspraak maak. Dit gee die dokter tyd om jou te leer ken. Dan, as die dokter nie reg voel nie, jy moet ook maar staatmaak op word of mouth van ander,  en jy voel daar is geen aanvoeling tussen julle nie, gaan na iemand anders. Jy is geregtig op ‘n tweede opinie. Dokters hou nie van pushy pasiënte nie, maar dis juis hierdie pasiënte wat siektes oorkom. Nie pushy op ‘n ongeskikte manier nie, maar wel op ‘n selfgeldende wyse.

Wat is die grootste bedreiging vir ons kinders se gesondheid?

Ons kinders gaan sterf voor ons. Die grootste bedreiging vir hulle is steeds hartsiektes. Dis hoofsaaklik leefstyl-faktore wat hartaanvalle veroorsaak. Goed soos dieet en oefening, of eerder die gebrek daaraan. Wat dieet aanbetref, gaan dit nie net oor wegneem-etes nie, maar ook oor ongesonde kookgewoontes in die gesin. Rook is natuurlik ‘n bydraende faktor, al is dit sekondêre rook.

Hoe gaan ons hierdie golf van oorgewig, ongesonde kinders probeer stuit?

Ons kan ons kinders nie straf nie. As ‘n kind oorgewig is, probeer ons die kind onmiddellik op ‘n dieet en oefenprogram sit. Maar dis nie so eenvoudig nie. Die hele gesin moet onderneem om beter te eet en meer aktief te wees. As ma wat kook, kan jy ook anders kook en baie van die verkeerde bestanddele reeds uitsny. Jy kan ook nie heeltemal wegkom van peuselhappies nie, maar jy moet dit beheer en dit net gee by geleentheid. Die hele gesin moet ‘n nuwe ingesteldheid aanneem teenoor kos en dit begin by die ma. ‘n Groot bydraende faktor tot oorgewig, ongesonde kinders is die feit dat hulle groot gedeeltes van die dag voor ‘n skerm sit. Mens moet hulle meer aktief kry, maar op ‘n manier wat hulle geniet. Vind ‘n sport waarvan hulle hou en moedig hulle aan om deel te neem. Of begin as ‘n gesin net meer gereeld stap in die buitelug. Wees kreatief met hoe jy jou kind aktief kry, want dis vir almal se beswil.

Die grootste gesondheidkwessie vir mans?

Die grootste kwessie vir mans is erektiele disfunksie. Hoekom? 45% van mans bo die ouderdom van 45 ervaar die een of ander vorm van erektiele disfunksie. Wat kommerwekkend is hieroor, is hoe jonk die mans is. Dis ‘n hele klomp mans wie se gesondheid in gevaar is, want dis die eerste waarskuwingsteken van hartsiekte. Dis ‘n teken wat mans nie durf ignoreer nie. Gelukkig kan hulle ingryp om hul gesondheid te verbeter deur beter leefstylkeuses te maak – gesonder eet, deur te oefen en deur nie te rook nie.

Wat is die grootste gesondheidsrisiko vir die toekoms?

Ons is ‘n wêreld in ‘n staat van depressie. Meer as 150 miljoen mense ly reeds daaraan. Dis ‘n onderwerp waaroor gepraat móét word. As ons sien ons kind lyk depressief, dan moet ons daardie moeilike vraag var: Wil jy jouself dood maak? Die vra van hierdie vraag het al vele lewens gered. Ons moet hierdie probleem tromp op hanteer, saam met terapeute, deur dieet, deur die regte oefeninge en deur ‘n beter leefstyl. As ons nie iets hieraan doen nie, gaan ons ons eie ondergang bewerkstellig.

 

Die moderne gemeenskap is die hele tyd besig met sosiale media. Dis Facebook, Twitter, e-posse en die internet. Dra dit by tot ons gesondheidsrisiko’s?

Beslis. Ek dink dis uiters belangrik dat ons soms afskakel. Ons breine is nie gedraad om so konstant besig te wees nie. Dis ‘n aanhoudende toegooi van inligting, veral wanneer dit oor werk gaan. Ek probeer om elke dag afskakeltyd te maak. Ek noem dit die portable minute. Ek skakel my rekenaar en selfoon af en luister vir ‘n minuut na ‘n stukkie musiek met ‘n stadige tempo. Wat gebeur is dat jou harttempo onmiddellik verlaag en jy effe tot bedaring kom. Ek probeer almal aanmoedig om elke twee  ure ‘n portable minute te neem. Ons het hierdie verposing nodig. Kognitiewe funksie kan hierdie konstante oorvloed inligting nie verwerk nie. Dis belangrik om ook van aangesig tot aangesig met ander te kommunikeer, want mens verloor heelwat breinfunksie as jy dit nie doen nie.