Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Lucia Prinsloo

Lucia Prinsloo se boek Kwaheri, my geliefde (CoralsPublishers, R129,95) vertel juis haar voorsate se verhaal, maar ook dié van haar eie gesin. Dis ‘n interessante reis wat jou neem van Suid-Afrika na Tanzanië, waar jy kennis maak met die eerste Lucia, die skrywer se ma. Lucia sr. is hier omdat haar man, ds. Christiaan van den Berg, beroep is deur die Hervormde Kerk om ‘n gemeente op die been te bring aan die hange van die berg Meru. Deur Lucia leer ken jy die familie se geskiedenis, van hoe hulle immer aan die trek was na waar die bediening hulle geneem het. Hoe hulle teruggekom het Suid-Afrika toe en hoe die grond in haar predikantman se bloed was en hulle gaan boer het in die Laeveld. Lucia jr. neem die verhaal by haar oor en vertel dan die geskiedenis verder tot in die hede.

Waarom sal mense hierdie familie se geskiedenis wil lees, sal jy vra. Hul geskiedenis het raakpunte met die van soveel ander Suid-Afrikaners. Ons is ‘n volk van trekkers. In die verlede en nou ook weer. Hoeveel van ons het nie ‘n grootjie wat deel was van die Groot Trek nie? Baie mense gryp deesdae geleenthede aan om in ander lande te gaan werk, en so bly ons maar mense wat swerf. Kwaheri is ‘n onderhoudende verhaal waarmee elkeen van ons kan identifiseer. Dit gee insig in ‘n faset van die Afrikaner wat my nog altyd interesseer. Ek het per e-pos met Lucia Prinsloo gesels oor haar reis terug op haar familie se spore.

Waarom wou jy die Prinsloo-familiegeskiedenis opskryf?
Ek het feitlik grootgeword met ‘n tas in die hand! My ouers het nooit lank op ‘n plek gebly nie, maksimum drie of vier jaar. Dié nomadiese leefwyse het myne geword en ek het – sonder dat ek dit toe besef het – getrou met ‘n man wat ook ‘n swerwersgees het. My en my man, Dappie, se pad het interessante draaie geloop. Ek wou dit neerpen ter wille van die nageslag. Toe ek begin het, het ek besef hierdie swerwersgees lê baie diep in my gees ingebed, en as ek regtig iets daarvan wil verstaan, sal ek by my voorsate moet begin. Ek moes uitvind hoekom hulle so rusteloos was! Dis waar alles begin het . . .

Vanwaar die titel Kwaheri, my geliefde?
My verhaal begin aan die voet van Meru in Tanzanië  My pa is in die vyftigerjare soontoe beroep as die eerste predikant van die Hervormde Kerk in die destydse Tanganjika. Hy, my ma, Lucia, en my sussie Friena (toe ‘n paar maande oud) is sak en pak die wildernis in. Op die dorpie Arusha is my sussie Elsa gebore. My ouers het ‘n gemeente op die been gebring met absolute passie en entoesiasme. Dit was ‘n avontuurlike lewe waarvan safari’s, olifantjag, Afrika-misterie en Swahili deel uitgemaak het. Hulle moes Swahili leer praat om met die plaaslike mense te kon kommunikeer. So het die woord “kwaheri” deel van hul alledaagse woordeskat geword. Dit beteken “totsiens”. Maar ook “mag dit met jou goed gaan” en “mooi loop” en “mag jou reis voorspoedig wees”.

Later het my ouers Tanganjika verlaat en my pa het ‘n plaas gekoop op die walle van die Groot Letaba in die Laeveld. Hierdie plaas se naam was Kwaheri. Ons het grootgeword met hierdie woord as deel van ons familiegeskiedenis. Toe omstandighede in my eie lewe in 2003 verander het dat Dappie in Engeland moes gaan werk en ek en ons vier kinders hier moes agterbly, het ons mekaar elke twee maande op die lughawe gegroet met “Kwaheri, my geliefde” . . . Mag jou reis voorspoedig wees.

Hoe het jy die navorsing aangepak en het dit jou lank geneem om al die inligting bymekaar te kry?
In 2002 het ons in Pretoria-Oos gewoon. Ek het my pa gebel (hulle het in Pretoria-Noord gewoon) en gevra of ons mekaar kan ontmoet om oor ons familie se omswerwinge te gesels. Dit was die begin van vier jaar se gereelde afsprake. Een maal per week het ons ontmoet en op ons spore teruggegaan. Dit was kosbaar, want later het my pa vir my sy diepste hart oopgemaak en vertel van hul drome toe hulle die jong mense was wat op die buiteblad van die boek pryk. En hoe daardie drome nie noodwendig gerealiseer het nie. As kind weet jy nie dié goed van jou ouers nie. Jy pak maar in as daar getrek word.  Vir jou is die lewe een groot avontuur. Maar wat was hul diepste begeertes en ideale en hoe het hul leefwyse joune beïnvloed?

Ek is vandag diep dankbaar vir daardie tyd. My pa is in 2006 oorlede. Ek het toe genoeg inligting gehad vir my spesifieke doel. Die boek bestaan uit vier dele wat elk begin met ‘n kaart om die storie in konteks te plaas. Daar is ook foto’s van die rolspelers. Om alles bymekaar te kry was ‘n groot poging – veral omdat ons gesin steeds aan die trek en swerf was en ek op ‘n stadium vanuit Engeland moes werk.

Het die skryf van die boek self lank geduur en het jy ‘n spesifieke manier hoe jy skryf?
Dit het byna tien jaar geneem. Toe ek met die werklike skryfproses begin het, het ek nog glad nie geweet wat die uiteinde van die verhaal gaan wees nie, want ons gesin het weer getrek, Jeffreysbaai toe in die Oos-Kaap en later Engeland toe. Hierdie omswerwinge het later ‘n kerndeel van Kwaheri uitgemaak.

Ek het nie regtig ‘n spesifieke manier van skryf nie. Ek het op ‘n skootrekenaar geskryf wanneer die geleentheid hom voorgedoen het – in ‘n tent as ons gekamp het in Engeland, op lughawens tydens wagtye tussen vlugte, in ons huis op Jeffreysbaai.

Wat beteken hierdie boek vir jou?
Dis in die eerste plek ‘n nalatenskap aan my kinders. Soos wat ek wou verstaan hoekom ons Van den Bergs (my nooiensvan) sulke rustelose mense was, so wou ek hê hulle moet verstaan hoekom hul ouers so is. 

Tweedens is dit ‘n boek waarin liefde, geloof en getrouheid deurslaggewend is. Toe my ouers op hul lewensreis groot teëspoed en terugslae moes hanteer, was dit hierdie eienskappe wat ons as kinders raakgesien het. Toe ek en Dappie voor uiterste uitdagings te staan gekom het, het ons probeer om dieselfde boodskap aan ons kinders oor te dra  Ek probeer om ‘n boodskap van hoop uit te dra aan my kinders, my familie en aan elke leser.

Derdens het Kwaheri my die geleentheid gegee om ons passie en liefde vir die natuur en meer spesifiek die Drakensberg te deel. Dis waar ons gesin nog altyd bymekaarkom deur lang en uitdagende staptogte en perspektief op die lewe vind. En natuurlik baie naby ons Skepper kom.

Wat het jy van jouself geleer met die skryf van die boek?
Ek het wonderlike ontdekkings gemaak, soos dat my ouers se swerwerslewe my eintlik voorberei het vir die uitdagings wat later op my sou wag. Ek het nooit die geleentheid gehad om my wortels op ‘n plek te laat vasgroei nie en was gewoond om te groet. Toe ek dus later in SA moes agterbly en my man telkens vir lang tye moes groet op die lughawe, het ek besef my swerwerslewe het my voorberei hiervoor. Selfs toe ek later by hom aangesluit het in Engeland vir drie jaar, en van my kinders hier moes agterbly, het ek besef die lewe is kosbaar en jy kan hom voluit lewe waar jy jou ook al bevind.

Jou familie se spore loop wyd in die wêreld. Het julle ‘n besondere pioniersgees?
Ongetwyfeld. Toe my pa ‘n gemeente vir die Hervormde Kerk in Tanganjika gaan begin het, was dit absolute pionierswerk. Daar was niks en dit was altyd vir hom die uitdaging – die onbekende. Ek het getrou met ‘n tandarts wat vroeg in ons verhouding laat blyk het hy gaan later ‘n predikant word. Ek het dit aanvanklik nie te ernstig opgeneem nie, maar hy het voet by stuk gehou, die lang studie voltooi en toe die eerste predikant van die Hervormde Kerk op Jeffreysbaai geword. Dit was ook pionierswerk, want hy was ‘n tentmaker – ‘n tandarts cum predikant! Nou is ons in die bevoorregte posisie dat ons jongste dogter, Aniena, ‘n vyfdejaar-teologiestudent aan Tukkies is. Die pioniersgees en die roeping om die Woord van God te verkondig loop sterk deur ons are.

Is julle nou permanent terug in SA?
Ja, ons het in 2010, te midde van die wêreldwye resessie en al die donker ekonomiese vooruitsigte, die sprong gewaag. Dappie praktiseer voltyds as tandarts op Jeffreysbaai en ek is sy ontvangsdame/praktykbestuurder. 

Wat was die mees onverwagse ding van jou voorsate wat jy uitgevind het en wat jy nie voor die skryf van die boek geweet het nie? 
Ons het in Linden in Johannesburg gebly – ek het daar matriek geskryf – toe my pa as predikant bedank het om voltyds te gaan boer. Dis wat ek as kind geweet het en waarmee ek grootgeword het. Dat die aanleidende oorsaak vir sy bedanking ‘n byna-bankrotskap was, en gepaardgegaan het met soveel drama en emosie en uiteindelike verlies en hartseer, het ek eers uitgevind tydens ons gesprekke. Ek het met nuwe oë na my ouers gekyk. Noudat die boek gepubliseer is, besef my jonger broers ook hierdie dinge en het hulle ‘n beter begrip van ons lewenspad.

Waarom dink jy sal ander Suid-Afrikaners aanklank kan vind by die Prinsloos se geskiedenis?
Nog nooit voorheen in ons land se geskiedenis was reis en bestemming so relevant soos juis nou nie.  Daar is weinig gesinne wat nie geraak word deur afskeid op lughawens nie, wat nie familie het wat in Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Engeland ens. woon en werk nie. 

Daar is ook tans in Suid-Afrika ‘n groot bewuswording van die rol wat SA en van ons voorsate in die res van Afrika gespeel het. Baie navorsing word gedoen en publikasies verskyn oor bv. die Dorslandtrekkers wat Angola en Namibië toe getrek het, asook die geweldige invloed wat Suid-Afrikaners in Tanzanië uitgeoefen het. So ook in Kenia, Zimbabwe en Mosambiek. Suid-Afrikaners sal ongetwyfeld aanklank vind hierby.

Hoe voel jou gesin oor jou prestasie?
My ma is 82 jaar oud en leef nog voluit en onafhanklik. Die lees van Kwaheri, my geliefde het soveel gebeure uit haar lewe weer laat leef en sy is dankbaar dat haar kinders en kleinkinders nou die geskiedenis kan lees en verstaan. My eie gesin is almal opgewonde en positief. Hulle moedig my ook grootliks aan om die volgende skryfprojek aan te pak!

Hoe ontspan jy?
Stap in die Drakensberg is steeds vir my die toppunt van ontspanning en “wegkom”. Op Jeffreysbaai kan ons elke dag langs die see stap. Oor naweke stap ek en Dappie baie ver langs die see in die rigting van Gamtoosmond. Dis ‘n stuk ongerepte duinestrand waar jy min ander mense teëkom, baie voëls en bosbokke sien, en jou kop heeltemal oopkry. As ek enigsins tyd het, luister ek na Beethoven of Chopin se klavierkonserte of die Walliese mannekore. Ek is ook lief om in my tuin te werk en om te lees.

Wat lê langs jou bedkassie?
Ek het pas Deon Meyer se 13 uur gelees. Hy lê nog daar sodat ek hom bietjie kan oordink! Dan is die volgende boek reeds daar: Kronkelpad, die derde boek in Irma Joubert trilogie. Ek het ook pas ‘n interessante boek oor ons wêreld aangeskaf, Coast of Storms – A Maritime Story of the Kouga Tsitsikamma

Het jy ‘n gunsteling-boek?
Ek het nog altyd wyd gelees en geniet ‘n verskeidenheid genres. Daar is wel ‘n paar boeke wat ek kan uitsonder. Wuthering Heights en Doctor Zhivago is die twee klassieke liefdesverhale wat ek meer as een keer gelees het. Dan het The Kite Runner en A Thousand Splendid Suns ‘n groot indruk op my gemaak in ‘n tyd toe my seun self in Afghanistan was. Die aangrypende boek I Dreamed of Africa van Kuki Gallmann het my ongetwyfeld geïnspireer om my eie Afrika-storie te skryf.

  • Leoné Van Deventer

    Sjoe, dis nou ‘n boek wat ek graag wil lees! Ons het ‘n maand gelede verhuis na Tanzanië, en woon in Kidatu, nie ver van die Selous & Ruaha Nasionale Parke nie. "Kwaheri" was een van die eerste woorde wat ons moes aanleer, en so ook ‘n hele paar ander om jouself darem verstaanbaar te maak as jy gaan inkopies doen in die "village". Ons vind nog ons voete, maar geniet elke oomblik van ons nuwe lewe in die hartjie van Afrika.

  • Marietjie

    Dit was heerlik om jou boek te lees! Ons wag vir die volgende boek…

  • Frieda

    Het die boek vreeslik geniet. Ons woon self in Engeland op die oomblik so kon my vereenselwig met situasies uit die boek uit – daardie afskeide op die lughawe! En die beskrywings in die boek het my so na Afrika laat verlang, veral die gedeeltes wat in Tanzanië en die Drakensberge afspeel.

  • Myra

    Ek kon hierdie boek nie neersit nie. Die tempo is vinnig en vloeiend. Dis nie net familiegeskiedenis nie, maar ook ‘n baie mooi storie oor mense. Omdat ek self besig is om my familie na te vors, het Lucia se boek my geinspireer om self die pen op te neem. Ek is al besig met die derde hoofstuk. Mense wil almal, soos Lucia, iets vir hulle kleinkinders nalaat. Hierdie boek is so ‘n goeie idee.

  • Thea Badenhorst

    Dankie vir ‘n wonderlike boek wat my gees verryk het! Uitstekend geskryf! Baie geluk en baie seen vir die toekoms wat voorle vir jou en jou familie. "kwaheri"…..