margaret_r2
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Margaret Roberts


Margaret Roberts wil met haar boek Healing Foods  (Briza, R275) vir mense ’n gids gee wat hulle kan gebruik om hulself mee te bewapen. Sy sê: “As ons reg eet minimaliseer ons die aanslagte van ons tyd, die stres en trauma. Wat ons ook al in ons mond sit, ons moet bewus raak daarvan.” Sy glo soos Hippokrates van ouds: ”Let your food be your medicine and your medicine be your food.”

In hierdie boek word ongeveer 150 plante beskryf, sommige bekend en ander minder bekend. Elke plant se geskiedenis en oorsprong word gegee, en sy sê hoe jy dit kan kweek. Verder word verduidelik wat die medisinale waarde daarvan is en hoe jy dit in jou dieet kan insluit. Daar is selfs resepte en ander wenke en interessante inligting.

Het jy geweet daar is meer as 700 variëteite uie? Uie met verskillende kleure, groottes, vorms en selfs smake word regoor die wêreld verbou. Uie bestaan al sedert 3000 voor Christus en word al sedert die sede eeu v.C. as medisyne gebruik in Indië, Griekeland en Italië. Jaboticaba is een van die meer ongewone plante in die boek. Dis ‘n klein boompie wat blink swart vrugte teen die stam dra en kom oorspronklik uit Brasilië. Die vrugte is baie ryk aan vitamien C, D en E, betakarotien, kalsium, kalium, fosfor, magnesium en fruktose. Wyn gemaak van die vrugte is ‘n kuur vir verkoue en slegte spysvertering. So is daar ‘n hele klomp plante waaraan jy bekend gestel word.

Die boek lees baie maklik en die inligting word interessant aangebied. Die gids in die agterste seksie waarin jy gewone siektes kan opsoek, waarsku teen watter kossoorte gewaak moet word en watter voordelig sal wees om te help met die behandeling van die siektes. Dis ‘n goeie boek vir almal wat ernstig is om meer holisties na hul eie welsyn om te sien. Ek het met Margaret Roberts gesels oor die boek en oor gesond eet.

Jy is bekend as ’n kruie-kenner, vanwaar die belangstelling in dié onderwerp?

So baie van die genesende plante is kruie. Ek doen al baie jare navorsing oor medisinale plante en my belangstelling is verder geprikkel toe ek ‘n kursus in dieetkunde gedoen het. Ek het besef watse waarde hierdie plante inhou en jy kan maar sê al dié plante is ‘n soort kruid.

 

Hoe doen jy navorsing vir so uitgebreide onderwerp?

Ek doen dit uit die antieke kruieboeke. Ek het baie tyd spandeer by Kew [die koninklike botaniese tuine in Surrey, Engeland] en by die Britse Museum [in Londen] met die antieke boeke en het derduisende notas gemaak. Ek moes natuurlik handskoene dra en daar was heeltyd iemand by my om seker te maak die antieke manuskripte word nie beskadig nie. Daardie ou geskrifte het my geweldig gefassineer omdat van hulle so lank gelede geskryf is, sommige selfs lank voor Christus. Plante is daarin eerstens as  medisyne beskryf, en tweedens as kos. Ek het self ook ‘n goeie versameling antieke boeke wat dateer uit 1930 en 1902.  Omdat ek ‘n gekwalifiseerde fisioterapeut is, kry ek heelwat mediese joernale en daaruit het ek toegang tot nuwe navorsing. Ek gesels gereeld met ‘n klompie dokters wat ek ken en hulle gee my dikwels waardevolle advies. Dit alles help my om my bestaande inligting by te werk. Ek het deur die jare rekords in die vorm van ‘n manuskrip gehou en ek hoop dat ek eendag die tyd gaan hê om van daardie ou manuskripte te herskep. Ek is mal oor die idee van die antieke farmakopee, oftewel aptekersboek, wat rekord hou van ou aptekersplante – plante wat as medisyne gebruik is.

Daar is ‘n hele klompie baie ongewone plante in hierdie boek. Waar kry jy die plante en sade, en toets jy werklik alles?

Ja, ek is die ware proefkonyn. So ook almal wat my pad hier by die Herbal Centre kruis! Terwyl ek werk en terwyl ek goed proe, moet almal saam proe. Hoe kom ek aan die sade? Mense bel my en vertel my van ongewone sade. Dikwels ruil ons saad uit. En natuurlik is die Herbal Centre in breë terme ‘n tipe botaniese tuin. Daarom stuur baie van die ander botaniese tuine vir my saad en ek weer vir hulle. Ek versamel ook sade in die natuur op so manier dat ek net ‘n paar oes om te groei en die plant te toets. Ek dokumenteer alles baie deeglik.

Daar is ook ‘n saadbank by die Herbal Centre. Waarom?

Toe ons dit begin het, was dit moontlik die eerste van sy soort in Afrika. Daarin is ‘n versameling sade van al die voedsel- en medisinale plante. Ek het die saadbank gedoen eintlik lank voordat ek hierdie boek geskryf het. Maar ek dra die waarde van medisinale voedsel al baie jare saam met my en het geweet ek moet dit boekstaaf.

Hoeveel jaar het dit geneem om die boek te voltooi?

Ongeveer vyf jaar. Dit was so baie werk. Ná ek al die plante beskryf het, het ek besef ek moet ‘n verwysingsgids vir siektes agterin die boek skep. Ek het soveel navrae gekry van mense wat advies soek oor hul siektes. Die boek bestaan dus uit twee dele: die plante voor en die seksie met gewone siektes agter.

Hoe belangrik is dit vandag om gesonde kosse te eet pleks van geriefskos?

Ek hoop die boek sal mense motiveer om te kyk na wat hulle eet. In die inleiding vertel ek hoe ek in die winkel by die betaalpunt staan en sien hoe trollie na trollie met geriefskos en ander ongesonde eetgoed verby kom. Ek voel naar wanneer ek dit sien. Mense wat daaraan gewoond is om sulke kos te koop, sal baie moeilik hul dieet aanpas. Hulle sal wel ‘n tyd bereik wanneer hul skete en kwale hulle gaan noop om na hul eetgewoontes te kyk.

Ons is ‘n nasie in ‘n staat van depressie. Is daar iets wat ons kan eet om ons te help om ons depressie te verlig?

Daar is. Al kweek jy net ‘n paar plante in ‘n bak op jou vensterbank sodat jy iets vars kan pluk en eet. Die belangrikste is om elke dag groen groentes in te neem. Depressie en swaarmoedigheid en angstigheid gee ons dikwels suur en swaar bloedvloei – ons voel nie energiek nie. Daar is ‘n traagheid oor ons. Kinders se kosblikke bevat gewoonlik een of ander verwerkte styselproduk en dalk ‘n gaskoeldrank en ‘n lekker. Dit alles veroorsaak depressie. Gee eerder vir die kind slaai met neute, gee  vars vrugte en gee eerder water om te drink. Ek weet as ek nie reg eet nie, daal daar ‘n swaarmoedigheid op my neer.

So wat is die danger foods waarvoor ons moet uitkyk?

Alle verwerkte kosse en gaskoeldranke. En verwerkte wit meel. Ons moet wegkom van geriefskos. Die enigste manier om energie te kry en gesond te word is om terug te keer na die tuin en weer organies te plant en te oes. Eet vars.

Wat is die super foods?

Alle vars organiese vrugte en groente. Wanneer jy die groente gaarmaak, stoom jy dit en geur dit met seesout en bietjie suurlemoensap en bietjie gekapte kruie. Vars kosse gee jou die antibakteriese, antiseptiese en antivirale elemente wat ons onderdrukte immuunsisteme  so broodnodig het.

As ek reeds ‘n gesonde eetplan volg, wat kan ek eet om my te help om stres beter te ontlont?

‘n Smoothie, wat jy maak en in ‘n termosfles saamvat werk toe. Jy kan enige vrugte en groente gebruik en neute of hawermout byvoeg. Piesang en amandels met ongegeurde jogurt is ‘n heerlike kombinasie. Eet vir middagete ‘n slaai met neute en kekerertjies, dit bevat proteïen. Kekerertjies is ‘n fantastiese kos.

Daar is so baie kinders wat deesdae hiperaktief is. Wat kan ons doen om hulle situasie te verbeter?

As ‘n ma gedurende haar swangerskap versigtig is en sy eet self die regte kosse, én sy het nie stres gedurende die swangerskap of geboorte nie, gaan dit dikwels klaar beter met die kind. Borsvoeding stabiliseer ook die kind, want dit laat die kind geborge voel. Die manier wat ons deesdae ons kinders kos gee vererger dikwels die situasie. Kinders kry baie keer geld om wegneemkos by die skool te koop, of ons gee hulle selfs wegneemkos vir aandete. Al die suiker en gaskoeldranke is nie goed nie en veroorsaak hiperaktiwiteit. Daar is baie argumente daarteen, maar ek sien dit met my eie kleinkinders. As hulle nie ordentlike kos eet nie, beïnvloed dit hulle gedrag. Alles begin by ‘n goeie ontbyt van roereier op volgraan-roosterbrood, of ‘n bakkie hawermout met neute en rosyne. As die kind se dieet gemonitor word en hulle drink genoeg water, kan dit help om hulle kalmer te hou.

Daar is baie druk op die wêreld om die groeiende bevolking te voed. Hoe gaan ons dit regkry met al die praatjies oor aardverwarming?

Dis een rede waarom ek die saadbank geskep het: Ek wou sade bewaar wat nie geneties gemanipuleer is nie. Wie weet in hierdie stadium wat ons doen, want dit klink soos ‘n goeie idee en mense sê ons kan so die massas kos gee. Maar in my eie klein hoekie doen ek dit op my manier. Ek het ‘n plant waarmee ek help om mense kos te gee. Dis ‘n spesifieke patat waarvan jy die blare eet. Ek skenk die plant aan soveel mense ek kan, want dit groei maklik en kan maklik verdeel word om nuwe plante te maak. Ek het ook nou ‘n versameling van verskillende patatsoorte. Dié plant is vir my meer waardevol as die aartappel, want dit het  ‘n lae GI. Jy pluk die blare, kook dit vlugtig in ’n bietjie water en eet dit met ’n paar druppels suurlemoensap. Die water waarin jy die blare gekook het, kan jy in sop of sous gebruik sodat die voedingstowwe nie verlore raak nie.

Ek hoop mense kyk na hul koolstofvoetspoor en dat hulle bewus is daarvan. Ek is al vir jare ‘n organiese boer en verlaag al vir jare my koolstofvoetspoor en probeer help om die omgewing te red. Ek hoop gesondheid en welstand, en die noodsaaklikheid van reg eet om ons breinkrag en energie te gee, om ons lewenskragtig te hou, word deel van elkeen se lewe.