Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Margie Orford

Sy is klein en fyn, met ’n skalkse sin vir humor en ’n oog vir detail. Veral as sy ’n moordtoneel in een van haar verhale beskryf. Sy lyk glad nie soos iemand wat sulke gewelddadige verhale kan uitdink nie. Eerder soos jou buurvrou, wat soos ’n besorgde ma haar kinders heen-en-weer pendel.

Sy is al die koningin van misdaadskrywers in Suid-Afrika genoem. Wanneer jy haar jongste boek, Gallows Hill (Jonathan Ball, R195) lees, is dit maklik om hierdie benaming te verstaan. Die verhaal is vol kinkels en hou jou die hele tyd aan die lees om te sien wie die skuldige is. Natuurlik is Orford se twee hoofkarakters weer Clare Hart en Riedwaan Faizal, die mense wat die raaisels oor die gebeure by Gallows Hill moet oplos. ’n Klomp beendere word by ’n bouplek opgegrawe en dan is daar ’n toutrekkery oor wat moet gebeur. Kan die ontwikkeling aangaan, of moet al die beendere opgegrawe word en op ’n ander plek begrawe word?

Maar een van die lyke is nie deel van die historiese vonds nie: Daar is ook die geraamte van ’n veel jonger vrou tussen die beendere. En dís die probleem – wie is sy en waarom is sy vermoor? In hul ondersoek word Clare en Riedwaan gekonfronteer deur Hond Williams, sterk man van ’n opportunistiese “tenderpreneur”. Glo my, al die elemente is daar om dié verhaal relevant te maak in vandag se politiek en ekonomie. Jy sal, net soos ek, lees tot aan die einde. Ek het oor ’n paar koppies koffie met Margie Orford gesels oor haar skryfwerk.

Wat trek jou aan na die misdaad-genre?

Dis die genre waarin oor gewone mense geskryf word. Dis oor wat gebeur wanneer ’n betekenisvolle, dikwels dramatiese gewelddadige ding ontplof in ’n doodgewone voorstedelike woonbuurt. En dan die polisiemanne saam met wie ek werk: Wat my van hulle fassineer, is dat hulle net gewone ouens is. Selfs die vroue is okes. Ek was ’n ondersoekende joernalis en in ’n 1 000 woorde storie het jy beperkinge wanneer jy ’n hele klomp feite moet weergee. Dit bring jou nie noodwendig by die waarheid van die storie uit nie. In fiksie, daarenteen, het jy baie meer ruimte en dan kan jy ook ’n storie driedimensioneel weergee. Die waarheid van ’n misdaadtoneel is gewoonlik ’n hele klomp faktore wat die oortreder, die slagoffer en die polisie daarheen gebring het. In Suid-Afrika is niks wit en swart nie en dis nie goed of sleg nie. Dis nie regtig cut out en clear cut nie. Dít trek my aan.

Was die oorgang van joernalis na skrywer moeilik?

Ek het as joernalis nooit harde nuus gedoen nie, eerder artikels en meer ondersoekende stories, waar jou aanslag anders was en jy ook langer kon skryf. Toe ek in 2001 teruggekom het Suid-Afrika toe, was ek gefassineerd met hoe gewelddadig die land is, maar hoe nice terselfdertyd. Suid-Afrikaners is die gaafste mense, behalwe wanneer hulle jou probeer doodmaak. Ek wou uitwerk hóékom hierdie mense my wil doodmaak en my lekker tyd so verwoes.

Met fiksie kan jy verskillende soorte waarhede vertel. Jy kan die kompleksiteit ontgin. Sommige mense ís bloot sleg en doen slegte goed. Maar daar is ook die geskiedenis hier wat gelei het tot soveel onenigheid, skeidings en sprakelose woede wat mense nie kan uitdruk nie. Toe ek SA toe gekom het, het ek baie in die lykshuis gaan werk om te probeer vasstel hoe dood lyk, hoe ’n Maandagoggend in ’n Kaapse lykshuis lyk.

Jy kry ’n ander prentjie as wat jy verwag. Ek het by die nadoodse ondersoeke opgemerk hoeveel oormatige krag gebruik is om iemand dood te maak. Soveel steekwonde, soveel skietwonde. Dit het my laat wonder waar hierdie buitensporige geweld vandaan kom.

Waarom juis in die misdaadgenre skryf, as dit ’n genre is wat eintlik op ’n manier al bietjie “oorbevolk” is?

Dit was per ongeluk. Ek wou nie spesifiek in die misdaadgenre te skryf nie. Ek wou boeke skryf wat my sou toelaat om Suid-Afrika vas te vang soos dit ís, nie soos dit wás nie. Daardie tyd was daar net eintlik Deon Meyer wat regtig misdaadverhale geskryf het, waarvan ek bewus was. Ek het Engelse verhale gelees wat glad nie sin gemaak het nie. Die karakters was op plekke waar hulle nie gewoonlik sou voorkom nie. Hoe, het ek gedink, het hierdie vriendelike wit vrou in die township-sjebien beland? Sy is nie ge-hijack nie, sy is nie mal nie, sy het nie verdwaal nie. Omdat daar sulke skeidings in SA is, hoe kry jy mense oor kleurgrense en klasverskille bymekaar uit? Iemand van Oranjezicht gaan byvoorbeeld nie sommer in Goodwood rondhang nie. Dit gaan nie gebeur nie. My ervaring as joernalis het my geleer dat joernaliste en polisiemanne eintlik die enigste mense is wat oral kom en mense sal aanvaar dit moet so wees. Hulle sal moontlik nie met jou as joernalis wil praat nie, maar sal nie bevraagteken waarom jy daar is nie. Polisiemanne is dieselfde. Die enigste ander manier hoe Suid-Afrikaners uit verskillende agtergronde bymekaar uitkom, is in oomblikke van trauma – motorongelukke, gewapende roof, motorkapings, verkragting of moord – óf as slagoffer en oortreder óf as onskuldige ooggetuies. Hierdie genre is die enigste wat my toelaat om dit wat gebeur te beskryf.

Hoe het jy Clare Hart geskep? Kom sy suiwer uit jou verbeelding of het jy eienskappe van mense wat jy ken gebruik?

Sy is soort van gevorm soos die Griekse mite van hoe Athena gebore is, wat uit haar pa se been of kop gespring het, geklee in volledige wapenrusting. Clare is ’n bietjie so. Sy het net eendag in my opgekom, hoe sy is. Om as joernalis te werk is jy konstant in die openbare sfeer. Dis vyandig en nie veilig teenoor vroue nie. Sekere plekke meer so as ander, soos kroeë en strate snags. Dan is vroue soms weer onopsigtelik wanneer hulle in huislike omstandighede is, hulle smelt weg en raak deel van die toneel. Clare beweeg tussen hierdie grense en baie keer kan sy dit net doen omdat sy ’n persona projekteer van waaruit sy funksioneer.

Sukkel Clare nogal met emosionele kwessies?

Sy is bang vir commitment. Sy huiwer die heeltyd tussen om te commit en om nie te commit nie. Die verhouding tussen haar en Riedwaan interesseer my. Ek is gek oor hom. Hy is ’n tipiese polisieman, so gekompliseerd, maar tog ook eenvoudig.

Hoekom ’n reeks en nie alleenstaande verhale nie?

Ek wou skryf oor die samestelling van kwessies wat Suid-Afrika so kompleks maar interessant en opwindend maak. Ek sou dit nie in net een boek kon doen nie. In ’n reeks kom jou hoofkarakter altyd terug en jy weet presies hoe sy na kwessies gaan kyk. Ek het Clare al beter leer ken deur die boeke, en vir Riedwaan ook. Die interessante ding is dat jy hierdie karakters skep en dan neem hulle ’n lewe van hul eie aan. Jy wil hê hulle moet sekere goed doen en hulle doen dit net glad nie. Jou beplanning is dan lekker tot niet en jy moet maar die plot verander. Ek het so vies geraak vir hulle oor hulle nie wil saamspeel nie, maar ons het uiteindelik ‘n kompromie aangegaan.

In ’n reeks boeke weet jy ook waar jy eties en moreel staan. Ek weet byvoorbeeld Riedwaan doen nie altyd goed streng volgens wet nie, maar dat hy steeds die regte ding doen.

Ontgin jy jou donker kant om jou verhale te skryf?

Beslis. Dit het al menige lewens gered. Ek weet nie hoeveel mense ek al sou vermoor het as ek my donker kant nie in my skryfwerk kon uitleef nie! Die meeste mense hou van misdaadverhale omdat die skrywer ’n spieël ophou van wat jy sou kon doen as jy nie ’n opregte mens was nie. Die meeste van ons kies om nié gewelddadig te wees nie.

Riedwaan is soms sy teenstanders een voor, dink hy soos ‘n krimineel?

Hy kom uit dieselfde bende-agtergrond as sy opponente. Dis insiggewend hoe dieselfde agtergrond goeie en slegte karakters oplewer. Riedwaan is oukei, want in sy geval het sy verhouding met sy ouers hom ’n gevoel van selfversekerdheid en identiteit gegee. Hy kan empatie voel. Baie kriminele wat ek ontmoet het, het nooit iemand in hul lewe gehad wat hulle gehelp het om empatie te kan voel nie. Dis nie ’n verskoning nie.

Hoeveel navorsing doen jy vir jou skryfwerk?

Baie, want ek kom uit ’n goeie middelklas- liberale Engelse familie, waar niemand ooit mekaar opgefoeter of geskiet het nie. Niemand drink Vrydagaande en rand dan die gesin aan nie. Hoe vervelig! Daar is geen geld in gelukkige kinderdae nie. Ek moes die detail rondom misdaadtonele gaan instudeer om geloofwaardige tonele te kan skep. Ek het ook gaan kyk hoe word nadoodse ondersoeke gedoen en hoe die mense wat daarby betrokke is optree. Die polisiemanne, die patoloë, almal. Die verhaal lê dikwels in die klein goedjies aan die rand van die gebeure. Ek lees ook baie oor forensiese wetenskap en ballistiek en ontbinding. Dis merkwaardig om te sien hoeveel kennis daar in SA is in hierdie velde en hoe wyd hierdie kenners in die res van die wêreld gebruik word.

Waar het Gallows Hills vir jou begin?

Dit het soort van ontstaan uit Daddy’s Girl waarin ek na bendes en geweld gekyk het en hoe dit gebeure vorm. Gallows Hills is aan die gang geskop deur ’n ontwikkeling in Groenpunt so paar jaar gelede, waar ’n hele spul geraamtes opgegrawe is. ’n Politieke herrie het daarom losgebars, want party mense wou hê alles moes opgegrawe word en ’n ander groep wou alles net laat begrawe. Dit het my na die geskiedenis van slawerny en ook bendes se ontstaan laat kyk – veral die geweld van number gangs. Ek het ontdek Kaapstad was moontlik ’n slawestad vir baie langer as wat dit ’n vry stad is. Die stempel van moderne Suid-Afrika lê in slawehandel, ’n geskiedenis wat onderdruk word. Die Kaapse slawelosie het min of meer ’n paar honderd jaar huisvesting gebied aan 1 000 slawe. Daar was groepe slawe wat die losie in die dag beheer het, soos die 26’s dit in die tronk doen. Dan was daar ’n ander groep wat snags in beheer was, en nog ’n groep wat die  aandklokreël toegepas het, hulle het ook al die onthofings en amputasies gedoen – ’n vreemde soort geregtigheid wat ons moderne geregtigheid vooraf gegaan het. Vir my voel dit hierdie goed is die oorsprong van alles, die oorspronklike stempel. Daarmee saam was daar in die 1980’s ’n onopgeloste moord wat my interesseer het. Dit was so maklik om ’n gewone persoonlik gemotiveerde moord te laat verdwyn tussen die honderde politieke moorde wat toe plaasgevind het. Jy steek dit oop en bloot weg.

“Die waarheid is vreemder as fiksie” geld dikwels in Suid-Afrika. Hoe moeilik is dit om jou storie geloofwaardig en boeiend in die lig daarvan aan te bied?

Elke verhaal het sy eie  tempo, ritme en gebeure. Ek skryf ten minste ’n jaar aan ’n verhaal. As die verhaal my bly boei in daardie jaar, behoort dit die lesers ook te boei. Die kuns is om al die onnodige goed in die verhaal uit te sny, want dis maklik om af te dwaal omdat die sosiologie van Suid-Afrika so fassinerend is. Maar in jou boek moet dit net ’n omgewing vorm vir jou karakters, met ander woorde – wys, moenie vertel nie. Om deur ’n goeie verhaal gekaap te word is baie anders as om gekaap te word deur vier ouens wat pistole teen jou kop druk.

Skryf jy nog met die hand?

Ja, want daar is ’n konneksie van die hand na die hart en na die brein. As jy so skryf, voel jy die konneksie. Ek spandeer ook baie tyd langs die hokkieveld, of in ’n kar terwyl ek vir my kinders wag. Met ’n notaboek en pen kan ek ten minste twee hoofstukke neerpen terwyl ek wag.

Jy is baie aktief as spreker by konferensies vir skrywers van misdaadverhale. Is die interaksie vir jou belangrik?

Misdaadskrywers is die lekkerste mense om mee uit te hang. Hulle is bekommerd oor net twee dinge: hou my bewonderaars van my en kry ek goeie royalties. Verder is hulle van die vriendelikste skrywers wat ek ken. Literêre skrywers is altyd neerslagtig en bekommerd. Ek dink hulle verdien dalk nie genoeg nie. Grappie! Ek hou ook daarvan om te sien hoe verskillende Suid-Afrikaanse misdaadskrywers die aspekte in hul verhale interpreteer. Die meeste van hulle is ook mans, en hulle is goedgemanierd. Hulle sorg dat jy ’n drankie kry, dat jy ’n sitplek kry en maak graag geselsies. Ek hou daarvan.

Waaraan werk jy nou?

My volgende boek is Water Music en daarin bekyk ek kwessies soos patriargie en godsdiens. Daar gaan weer baie moorde wees en ’n klomp slagoffers.

Het jy ’n gunsteling onder jou eie boeke?

Jou boeke is soos jou kinders. As jou kind vra wie jou gunsteling is, sê jy altyd jy is my gunsteling- oudste kind, of my gunsteling- middel kind, of my gunsteling- jongste kind. So sal ek nooit my boeke antagoniseer deur ’n gunsteling te kies nie. ’n Nuwe boek is altyd soos ’n minnaar met wie jy nog nie volle oogkontak gemaak het nie. En jy dink hy gaan perfek wees. Hy gaan verstaan hoe jy voel, die euforie. En as jy nou eers op dreef is, dan vind jy uit die nuwe minnaar is eintlik maar net soos jou man – funksioneel en ergerlik!

  • Patience

    That’s rellay thinking of the highest order