mike_nicol_1_kelly_walsh
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Mike Nicol

Sy trilogie oor die twee hoofkarakters, Mace Bishop en Pylon Buso, en hul aartsvyand, Sheemina February, boei van die eerste boek af. In Payback, Killer Country en Black Heart volg ons Mace en Pylon se doen en late deur die kontrakte wat hul veiligheidsmaatskappy hanteer. Jy kan maar weet Sheemina February gaan ‘n konneksie hê met die konkelary in elke boek, want die verhale draai altyd om korrupsie en uitbuiting. Haar doel in die lewe is om Mace te vernietig, en daarvoor span sy enige truuk in wat sy kan. Hy het immers haar hand verbrysel, die een wat sy wegsteek in ‘n swart handskoen.

Jy beleef elke terugslag waarmee Mace en Pylon en hul gesinne te doen kry. Van die moord op Oumou, Mace se vrou, sy dogter Christa se smart en selfskending, tot die swangerskap van Treasure, Pylon se vrou, en hoe sy dogter Pumla uiteindelik vir Christa red. Aksie is daar volop, want daar is sluipmoordenaars, geheime agente en politici en skelm sakelui met agendas.

Die boeke speel af in Kaapstad, Nicol se tuiste en ‘n stad waarmee hy ‘n spesiale verhouding het. Sy mees onlangse boek kon net sowel die onderwerp van een van sy misdaadverhale wees. Dis ‘n feitelike weergawe van die Anni Dewani-moord en hoe dit wêreldwyd in die media weergegee is. Ek het per e-pos met Nicol gesels oor sy skryfwerk.

Jy het begin as joernalis, nou skryf jy fiksie. Was dit ‘n moeilike oorgang?

Ek het poësie geskryf lank voor ek die joernalistiek in 1974 betree het. My lewe as skrywer was nog altyd verdeel tussen verslaggewing en kreatiewe skryfkuns. Ek het eers in my laat twintigs begin om fiksie te skryf. My teorie was jy kan nie ‘n roman skryf voor jy ten minste 30 is nie, want jy moet eers lewenservaring opdoen. My sewende poging, The Powers That Be, is in 1989 gepubliseer. Die oorgang van nie-fiksie na fiksie was nooit moeilik nie. Ek was in die dag ‘n joernalis en saans en oor naweke ‘n romanskrywer. Die moeiliker oorgang was van literêre fiksie na misdaad-fiksie. Maar as jy lank genoeg daaraan werk, vind jy ‘n manier.

Jy leer ook mense om te skryf. Hoe het jy daar uitgekom?

Blote geluk. Ek was van die vroeë tagtigs af reeds vriende met die digter en akademikus Stephen Watson, en toe hy die Centre for Creative Writing by die Universiteit van Kaapstad begin het, het hy my genader om werksessies aan te bied. Dit het gelei tot ‘n kort kursus elke jaar en ook die toesighouding oor ‘n handjie vol studente. Dit het weer gelei tot die RandomHouseStruik/GetSmarter-aanlyn-kursusse vir nie-fiksie en fiksie.

Hoe werk onderrig met so ’n aanlyn-kursus?

Die internet is ‘n wonderlike uitvinding. Dit het buitengewone kapasiteit as ‘n medium vir onderrig. Studente skryf in en materiaal word weekliks op ‘n webwerf gelaai. Die studente en aanbieders gebruik die webwerf as ‘n kampus.

Die RHS/GetSmarter-kursus werk deur omvattende notas, vasvrae, werkopdragte en die fiksie-studente moet ‘n storie van 5 000 woorde skryf. Daar is ‘n daaglikse forum, wat amper soos Facebook werk, behalwe dit word gewy aan verskeie onderwerpe. Die kursus word nie gemerk vir punte nie, maar studente kry terugvoer van my en hul kollegas. Dit maak dit ‘n uitdagende en stimulerende kursus.

Geniet jy dit om klas te gee?

Mal daaroor. Dit kon nie op ‘n beter tyd in my lewe gebeur nie.

Hoekom skryf jy misdaad-fiksie?

Einde 1990 wou ek iets heeltemal anders skryf. My lewensmaat, Jill, het voorgestel ek kyk na misdaad-fiksie. Ek het laas in my tienerjare ‘n misdaadverhaal gelees, maar het dit herontdek as ‘n opwindende genre en het potensiaal raakgesien. Ek het besluit waarom nie? Dit het my ‘n rukkie geneem om in dit in te kom, maar ek geniet dit om die boeke te skryf. Misdaad-fiksie lewer sosiale kommentaar op ‘n manier wat ek baie interessant vind en dít het my ook aangetrek na die genre.

Dink jy jou verhale kan lesers uit verskillende agtergronde help om mekaar ’n bietjie beter te verstaan?

Dis nie my bedoeling wanneer ek skryf nie. Met ‘n bietjie geluk is dit ‘n byproduk. Payback, byvoorbeeld, word op die oomblik goed ontvang in Duitsland en ek het baie navrae gehad oor die geskiedkundige verwysings. So dalkies bied die boeke ’n bietjie meer insig in ons gemeenskap.

Jy fokus op korrupsie en uitbuiting in die sakewêreld, gekombineer met politiek. Waarom?

Ek stel nie soveel belang in die hoofbestanddeel van die internasionale misdaadmark nie – persoonlike afwykings, die sielkundige probleme wat mense in reeksmoordenaars of -verkragters verander. Ek word gefassineer deur hoe gemeenskappe gedryf word deur politiek en besigheid. Uiteraard is daar korrupsie en uitbuiting. Dit lyk asof dit deel van ons menswees is. Dís waar ek my stories vind. Plekke waar baie op die spel is en mense baie het om te verloor of te wen. Dis ook hier waar ons die sukses van ons gemeenskap meet. Hierdie fassinasie hou verband met my werk as joernalis; dis ‘n ander vorm van verslaggewing.

Maak dit jou meer sinies omdat jy skryf oor die donker kant van die lewe?

O nee, ek is ‘n optimis! Ek dink ons, as ‘n spesie, het ongelooflike dinge bereik, ten spyte van onsself. My gevoel is ons is diep gebrekkig, maar dit maak ons prestasies soveel merkwaardiger. Ek dink ook dis ongelooflik dapper dat ons aanhou om elke dag betekenis vir ons lewens in ‘n niksbeduidende heelal te vind. So, nee, dit maak my nie sinies nie. Dis maar hoe ons is in die wêreld en juis daarom skep ons opwindender, skrikwekkender, asemrowende en aaklige stories oor onsself.

Is jy klaar met Mace Bishop en Pylon Buso vir nou, of gaan hulle later in ‘n ander boek hul verskyning maak?

Dis nou ‘n vraag. Die antwoord is: Wag en kyk. Al wat ek kan sê, is dat daardie twee families byna tien jaar lank (Payback het lank geneem om te skryf) ‘n reusagtige deel van my lewe was.

Jou jongste boek gaan oor die Anni Dewani-moord. Waarom ‘n boek daaroor? Omdat dit in Kaapstad gebeur het?!

Nee, dit was nie die Kaapse konneksie nie. Monkey Business was ‘n joernalistieke oefening. Die storie van dié moord en sy nasleep was boeiend. Dit het net aanhou loop en loop. Die storie het voortgeleef op koerant-webwerwe, op blogs, Facebook, Twitter ens. – ‘n internet-storie. Daar was ‘n behoefte om die gebeure chronologies te dokumenteer en dis wat ek gedoen het. Ek het ook besluit om bestaande brokkies uit nuusberigte te gebruik om die storie saam te stel. Basies bestaan die verhaal uit kort paragrawe en die leser skep self die konneksie. Die meeste mense is verstom dat die boek so vinnig en maklik lees. Wat mense vergeet, is wat ons as ‘n spesie doen, stories skep. En dis waaroor die lewe van ‘n skrywer en joernalis gaan: om die besonderhede te gee sodat die leser se verbeelding die verhaal kan vertel.

Wat lê vir jou voor?

Dis ‘n skrikaanjaende vraag. Meer skryf en meer klasgee, hoop ek.

Die volgende RandomHouseStruik/GetSmarter-kortkursus in kreatiewe skryfkuns skop vroeg in Maart af. Vir meer besoek: www.randomstruik.co.za.

  • Zeal

    An intellgient point of view, well expressed! Thanks!