theo_kemp
Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Theo Kemp:

Vir my persoonlik is dit een van sorgelose dae, van klets met maats in die gange van ‘n rooi baksteengebou, van onderwysers wat my aan die slaap praat en ander wat my inspireer om onmiddellik die biblioteek in te vaar om ekstra inligting te gaan soek oor iets wat ‘n kolskoot in my brein getref het … Só is daar nog baie ander beelde waaraan ek kan dink, maar die hoofsaak is – skool was nie vir my ‘n nare monster nie. Totdat ek Theo Kemp se debuutroman, Skool (Tafelberg, R195,95), gelees het en met die nare beelde van vandag se skoolsituasie gekonfronteer is. Dis duidelik dat my skooldae en dié van vandag se leerders baie van mekaar verskil. Hy skets die verval in die onderwys en die korrupsie, van sekere skole wat te kampe het met ernstige dwelmprobleme, onbevoegde skoolhoofde en ongemotiveerde onderwysers of leerders wat verwyder is van die werklikheid en ‘n gebrek aan dissipline. Dis oorweldigend. En dan hoop ek, mag daar tog iewers ‘n liggie van hoop wees, dat dit darem nie so beroerd gaan nie. En dan is ek dankbaar dat ek nie kinders op skool het nie en dat my skooldae sorgvry en eintlik bevoorreg was.

Theo het heelwat navorsing gedoen oor die onderwys, en het die boek as fiksie geskryf, omdat daar so ‘n magdom materiaal was en die boek groter impak as verhaal sou maak. Hopelik omdat ‘n wyer gehoor die boek sal lees en dit ‘n debat kan begin oor hoe belangrik ‘n gesonde onderwysstelsel is en dat die onus op elkeen van ons rus om te probeer om ‘n sterker bydrae te maak om te verseker onderwys is op die regte pad. Ek gaan nie vir jou vertel presies wie die karakters in hierdie verhaal is nie. Ek gaan ook nie vir jou vertel hoe die verhaal ontvou nie. As jy kinders op skool het, lees hierdie boek. As jy nie kinders het nie en jy wil in hierdie land bly, lees ook hierdie boek. Inteendeel, almal moet hierdie boek lees! Onderwys is die hoeksteen waarop die samelewing rus en dis hoog tyd dat ons daaroor uit ons Rip van Winkel-slaap ontwaak.

Ek het per e-pos met Theo oor sy boek en onderwys gesels.

Waarom het jy oorspronklik onderwys gaan studeer?

Nee, ek het nie onderwys studeer nie. Dit het toevallig gebeur. Ek het my MA in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch klaargemaak en toe besef, asof Rip van Winkel, dat ek nou moet werk. Waar begin jy met ‘n MA in Afrikaans werk soek? Toe stuur ek kompulsief honderde CV’s uit en beland in die onderwys.

Waarom is jy weg uit die onderwys?

My pos was net tydelik en omdat ek nie die regte kwalifikasies gehad het nie, kon ek nie langer aanbly nie. Ek sou ook nie wou nie – die onderwys het my uitgeput, alhoewel ek net een jaar en drie maande voor die skoolbord gestaan het. Ek het daar geleer om respek te hê vir onderwysers wat werklik moeite doen met die kinders. Dit is harde werk en word nie genoeg waardeer of betaal nie.

Wanneer het jy die eerste keer begin skryf en wat was dit?

Ek het op hoërskool begin skryf, onder die groot aanmoediging van my Afrikaans-juffrou, Hanina Loubser. Dis vreemd dat ‘n mens dan altyd begin by gedigte, vandag sal ek nie vir ‘n sekonde lank dink om my hand daaraan te waag nie! “My average gesin” en “Sestien Blues” was my eerste gedigte, wat sommer so half gelyk geskryf is op ‘n winderige middag! Dit was hier in st. 7 rond.

Waarom ‘n fiktiewe werk van jou navorsing oor skole en nie ‘n feitelike werk nie?

Ek het nie in die begin gedink aan die genre waarin ek moet skryf nie, maar was eerder verbete om die ‘waarheid’ neer te skryf. In die optekening van die onderhoude en die verwerking daarvan was dit telkens die ‘stories’ van mense wat my aangegryp het. Ek is verlei deur die fiksie en die tegnieke wat ‘n mens kan inspan om die waarheid te kan oordra. Vir my was dit belangrik dat ek mense moes aanraak op ‘n emosionele vlak, maar ek wou ook nie dat mense die boek neersit en dink dit is gelukkig nie die waarheid nie. Want die onderhoude is waar en die haglikheid van sommige skole, die verval van die skoolstelsel en die korrupsie kan ons nie langer ignoreer nie. Vir baie lank het ek deur voetnota’s en ellelange bronnelyste my navorsing weergegee. Ek wou dat die leser sien ek suig niks uit my duim nie – dit ís so erg. Maar ‘n mens besef dat die leser nie voorgeskryf kan word nie en dat lyste statistiek en bronverwysings nie mense se harte noodwendig gaan aangryp of hulle ongemaklik gaan laat voel nie.

Hoeveel daarvan is outobiografies?

Dit is ‘n moeilike vraag, want dit is alles so verweef. Alhoewel die verteller my naam dra, is hy ‘n konstruksie. Ek wou hom doelbewus meer hulpeloos en oorweldig skets as wat ek hoop ek is. Verder het my eie skooljare en herinneringe van ‘n lewe op ‘n plaas in die Oos-Kaap gedien as die wegspringplek vir die verwysings na die verteller se kinderherinneringe.

Voel jy ons skoolstelsel en die onderwys is gedoem?

Ja. Ons skoolstelsel het ons onderwysers en kinders gefaal. En daar moet nou ‘n plan gemaak word om dit reg te stel. En die plan is nie vir die regering om meer geld te begroot wat nooit by die skole uitkom nie.

Wie wil jy hê moet jou boek lees en wat moet hulle daaruit put?

Ek het nooit ‘n spesifieke leser in my kop gehad nie. Maar ek sou mense aan die dink wil sit, dat hulle anders begin kyk na skole. Ek kry so baie mense, veral in die onderwys, wat sê: “Hoekom beeld jy net die negatiewe uit, alle skole lyk tog nie so sleg nie?” Dit is reg, ja, maar verander dit iets aan die feit dat daar wel skole is waar ons kinders nie geleenthede gebied word om skool te kan gaan nie. Ek is nie so naïef om te dink dat rolspelers binne die regering, wat wel ‘n verskil sou kon maak, die boek gaan lees nie. Die verskil moet by ons gewone mense begin; die dae van wag vir die regering is verby, ons moet self die foute regstel.

Het jy steeds kontak met van die mense wat jy in jou navorsingsreis mee in aanraking gekom het?

Ja, ek is byvoorbeeld baie goeie vriende met Fiona van Kerwel, sy is die projekbestuurder van die Woordfees se WOW-bemagtigingsprojek en het my van die begin af bygestaan met die navorsingsproses. Maar ek het nie regtig weer kontak met die ander mense gemaak nie, alhoewel ek onophoudelik dink aan die skole wat ek besoek het en hoe dit nou daar gaan.

Lees jy al die resensies oor jou boek en hoe laat dit jou voel?

Ek was ontsaglik bang toe ek die eerste keer hoor Joan Hambidge het ‘n resensie van Skool in Rapport geskryf en het die Sondag eers gewag totdat iemand my gebel het om geluk te sê met die goeie resensie, voordat ek dit gelees het. Ek lees die resensies, ja, deels uit nuuskierigheid om te sien hoe mense die boek lees, maar ook omdat ek graag wil leer uit die kritiek. Ek is baie dankbaar vir die goeie ontvangs en weet nie of my dun debutant-velletjie fel kritiek sou kon hanteer nie. Van die resensies, soos Nicol Faassen s’n op LitNet, roep vir my interessante invalshoeke tot ‘n gesprek op – soos byvoorbeeld hoe ‘n fiksieskrywer ‘n skoolstelsel in nie-fiksie behoort aan te vat. Ek lees telkens nog verslae van opvoedkundige ontleders, en dan besef ek dat my fiksieboek niks anders vertel as wat ander met lang lyste statistiek sê nie.

Is jy besig met ‘n nuwe boek?

Ek speel die hele tyd met idees oor ‘n nuwe boek, maar elke keer besef ek dat, indien ek nou begin, ek die gevaar sal loop om Skool net in ‘n ander gedaante oor te skryf. Die nosie van weerloosheid, die woede oor die verlies in ons samelewing om te kan versorg en die nalatigheid en onbeholpenheid van ons regering – dit bly spook by my. Ek wens om vinnig weer te kan skryf, want ek mis die golf van besetenheid wat ‘n skryfprojek meebring.

Wie is jy as jy nie skryf nie?

As programbestuurder by die Absa KKNK en my betrokkenheid by die Breytenbach Sentrum, werk ek nogals hard in die kunste-adminstrasie. By die sentrum is dit ook lekker om bemagtingsprojekte te help uitdink en fasiliteer – dit is ‘n groot passie om individue uit kwesbare gemeenskappe deur die kunste by te staan en op te lei. Tussendeur lees ek baie, put my dinktyd as ek na ‘n lang dag se werk met my reusagtige boerboel op die plaaspaaie buite Wellington rondloop. Verder is ek ‘n introvert wat op my lekkerste en gemaklikste in ons huis kuier saam met my vrou, Magdel, en ons klein Hannah (vier maande oud).

Wat is jou gunsteling-boek en waarom?

Dit is ‘n té moeilike vraag! My kop staan stil as ek hieraan moet dink, want so baie boeke is die beste op ander maniere. Ek dink tog dat W.G. Sebald se Austerlitz my altyd sal raak – omdat hy dit so regkry om ‘n mens melankolies te laat, om jou sintuie oop te maak, en sy sinne skep altyd ‘n onderliggende gevoel van opwinding. En dit alles sonder dat hy ooit stroperig raak of ritse byvoeglike naamwoorde gebruik. Inteendeel.

As jy ‘n skrywer (dood of lewendig) kon nooi vir ‘n gesprek, wie sou dit wees en waarom?

Ek sou graag myself wou nooi om net vir één dag saam met Jan Rabie-hulle op die strand in Onrus te sit en kuier. Marjorie Wallace moet daar wees, Ingrid Jonker en Uys Krige. Ek sal niks sê nie, net luister. Daardie era se skrywers was net so eksentriek en vrydenkend!

  • Onnie

    Thoe, geluk met jou boek maar ek lees baie moeilik daaraan. Reeds 5 keer oorbegin. ek het so uitgesien na die boek – jammer ek verstaan nie die ‘stories" nie. Ek het gedink ek sal baar vind bt jou besoeke aan skole….miskien moet ek vir ‘n 6 de keer probeer.