Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Victor Matfield (Deel 1)

Fier en regop stap hy in vir die onderhoud. Victor Matfield is ‘n man wat gemaklik is in sy vel. Maar sy selfvertroue het nie altyd so maklik gekom nie.

“Partykeer moet jy opoffer om in te pas.” Dit het ‘n rugbyloopbaan van 16 jaar hom geleer, ‘n loopbaan wat hy in sy outobiografie, Victor: my reis (Zebra Press, R220) vervat. Vandag, na al die hoogte- en laagtepunte, die pyn en glorie, wéét Victor wie hy is.

Dis duidelik in die onderhoud. Hy praat openhartig, eerlik, ontwyk nie ‘n enkele vraag nie. En elke nou en dan as ‘n vraag hom onkant vang, dan is daar ‘n nadenkende stilte en soms ‘n ondeunde glimlaggie.

Is jy ‘n hegte gesinsman?

Enige mens se pilare is belangrik en my gesin is definitief daai anker-pilare vir my. My vrou, Monja, het ‘n groot aandeel in die sukses van my loopbaan. Ek dink sy is ‘n onafhanklike vrou met haar eie loopbaan en wil my nie heeltyd in haar ruimte hê nie. Sy is ‘n tandarts. Sy gee my daai vryheid om te doen wat ek moet doen. En my twee kinders, Jaime (5) en Giselle (2), is natuurlik wonderlik. Hulle verander jou lewe. Dit maak dit nie altyd makliker nie, maar dit verander jou lewe.

Jy was baie weg van die huis met rugby. Is dit moeilik om gesinsbande heg te hou?

Dit is. Dis moeiliker vir die vrouens, want ons manne gaan op toer. Mens mis jou familie verskriklik, maar jy is darem saam met jou vriende. Soos dit mos maar gaan, wanneer ek weg is, dis wanneer die kind haar toon oopsny en sy hospitaal toe moet gaan en gips kry. Mens wil daar wees. Gelukkig met rugby het jy ook meer kwaliteit-tyd. Ander mense werk van agt tot vyf, kom die aand by die huis, is moeg en het dalk nog werk wat hulle moet afhandel voor die volgende dag. Ons is anders. Ek het ‘n baie goeie verhouding met my kinders. Baie van my tjomme raak kwaad vir my as ons ‘n naweek af is en hulle wil weggaan om gholf te speel, dan sê ek ek sal kom, maar ek sal terugry. Ek voel skuldig, want ek kan nie die tyd saam met my gesin inboet nie. Dis dalk hoe ek grootgeword het. Ek glo jy moet baie tyd saam met jou ouers spandeer. Ek het as kind dit gedoen en dis vir my lekker.

As daar ‘n krisis by die huis is wanneer jy weg is, is Monja paniekerig?

Sy is baie rustig en kan alles hanteer. Ons het nie oumas en oupas in Pretoria nie en sy het nie gewoonlik iemand om op terug te val nie. Gelukkig, as daar regtig ‘n probleem is, sal ons ouers kom help. Daar was darem tot dusver ook niks wat so erg was dat sy dit voor ‘n groot wedstryd moes weghou van my tot na die tyd nie.

Ondersteun Monja jou emosioneel baie?

Dit was moeilik, lank terug toe ek gedrop is. Jy kom huis toe en wil net in sak en as by die huis lê. Dan het jy iemand nodig om jou te ondersteun en om jou perspektief te gee op die lewe. Ons rugbyspelers kan so vasgevang word in hierdie rugbywêreld. Dis jou werk, jy wil jou alles gee daarvoor, maar dis net ‘n wedstryd wat jy verloor het. Volgende week is jy weer in die span. Die groot ding wat Monja vir my doen, is om dinge in perspektief te stel, dat rugby nie so groot is en dat alles anders so klein is nie.

Hoe voel Monja daaroor as vroue jou tromp-op loop en met jou flankeer in die openbaar. Is dit vir haar moeilik?

Gelukkig is Monja selfversekerd en dis een ding wat glad nie vir haar ‘n probleem is nie. Ek sal ‘n mooi vrou sien en vir haar sê: “Jo, kyk daar.” Ek is baie oop daaroor. Die moeilikste vir haar is wanneer ons probeer om ‘n bietjie tyd alleen met mekaar te spandeer. Eenkeer was ek lank weg van die huis en sy was gedreineer – met die kinders en alles.  Ons het gaan praat oor alles, alleen agter in ‘n weggesteekte hoekie van ‘n restaurant. Sy het net ‘n bietjie tyd nodig gehad en sy was so half in trane. Toe kom daar twee mense wat handtekeninge vra. Selfs in ‘n winkelsentrum drom die mense om my saam. Wat moet Monja doen? Sy loop maar so half agter my en soos die vrouens verbyloop, dan hoor sy alles wat hulle sê en sy kan maar net lag daaroor.

Wanneer jou span nie goed doen nie of wanneer jy nie goed doen op die veld nie nie en daar is kritiek van bewonderaars en in die media. Hoe hanteer jy dit?

Daar is twee goed. As dit regtig so swak gaan met my of die span, dan wil ek nie eers gaan brood koop nie. Ek stuur my vrou. Ek gaan van die rugby af huis toe, ek kom nêrens nie. Die ander ding is iets waaroor ek en John Smit baie praat. Mense sit jou op ‘n troontjie en verwag jy moet ‘n sekere tipe mens wees. Jy doen alles reg en niks verkeerd nie. Ek weet ons is rolmodelle vir kinders, maar ons is net mense. Ons kry ook af-tye wanneer ons, ek weet nie wat die mooi woord is nie, ‘n bietjie bedonderd is, en wanneer jy nie lus is om gaaf te wees nie, jy’s dalk lus om stupid goed te doen. Maar jy kan nie, want orals waar jy gaan, sien mense jou. Dis wanneer jy soms dink ek wil net weghol en vir ‘n maand wees wie ek is.

Jy sê jy is nie emosioneel nie. Tog skryf jy met emosie oor goed wat gebeur wat jou aanraak. Hoe nou?

Ek het eintlik die laaste jaar baie emosioneel geraak. Miskien omdat goed op die veld nie altyd reg gegaan het nie. As ek ‘n ding op ‘n spesifieke manier sien, gaan ‘n emosie my nie daarvan laat afsien nie. Monja sê altyd ek kan altyd die ander kant sien. Soos die media – die media kan my mal maak. Maar ek kan verstaan as jy aan daai kant is, jy moet skryf. Jy kan nie sê ek is goed as ek verloor het nie.

In dieselfde asem sê jy in die boek jy is skaam, maar later dat jy van aandag hou?

Ek wás skaam. Op skool, ek was nie teruggetrokke nie, maar ek was stil en op die agtergrond, al het ek goed gedoen in sport. Maar later, hoe beter dit met die rugby gegaan het, hoe meer het ek ontpop. Ek gee nie om oor die aandag nie. Baie ouens is gepla as mense om hulle saamdrom. Ek is nie so nie. Ek is gemaklik daarmee.

So, ry jy ‘n uitspattige motor?

Ek het altyd. Ek het in ‘n stadium ‘n sportmotor met ‘n afslaankap gery. In plaas van ‘n grys kar, het ek ‘n geel een gekies. As jy in die boek kyk, sal jy ‘n foto sien van my met ‘n bril wat groot is, wat deurskyn, wat snaaks is. Ek het deur daardie fase gegaan. Ek het altyd anders aangetrek as almal. Veral in Pretoria het ek uitgestaan. In die begin het die prentjie nie gepas nie – dis nie hoe ‘n Bloubul-slot moes lyk nie. Ek was heeltemal die teenoorgestelde, het my hare lank laat groei, as ek ‘n snaakse baardjie kon sny, het ek.

Hoe voel jy dat daar dikwels baie meer oor jou hare geskryf is as oor jou spel?

As ek nou terugkyk en ‘n Springbok-coach sê vir jou as jy in my span wil wees, sny net jou hare korter en jy doen dit nie. Dis stupid. Dit kan nie so erg wees om jou hare te sny nie. My hare was altyd kort. Monja het gesê ek moet my hare ‘n bietjie laat groei. Terselfdertyd het ek 10 kilo’s verloor ook. Dit het net beter gelyk en was toe deel van my. Ek het ‘n bietjie moeilikheid gekry op ‘n stadium. Dis net anders tot mense weer gewoond raak, dis hoe Victor is. Hy kan nog steeds ‘n ordentlike ou wees, al is sy hare bietjie lank.

Wat gaan jy doen noudat jy klaar is met rugby?

Ek gaan nou eers oor die draad spring en by die media aansluit. Ek gaan SuperSport toe vir twee jaar. My groot droom is nog altyd om af te rig, maar ek gaan vir eers ander dinge doen van die veld af. Ek gaan nou tyd daarvoor hê. Ek dink dis Jake wat gesê het: “‘n Coach is gefire of hy gaan gefire word. Die vraag is net wanneer.” Dan wil mens nie as jy in Pretoria in die pad gesteek word, moet trek na ‘n ander provinsie, of oorsee nie. Dis nie wat mens vir jou familie soek nie. Ek is ook betrokke by ‘n sake-onderneming saam met ouens wat ek vertrou en met wie ek groot vriende is.

Hoogtepunt in jou loopbaan?

Rugbygewys moet die Wêreldbeker van 2007 uitstaan, maar my hoogtepunt was daai twee games in Soweto. Ek het in 1995, toe ons die Wêreldbeker gewen het, gesien wat dit aan ‘n nasie doen, hoe dit mense bymekaar bring. Maar toe die bus in Soweto inry in 2010 … Om te sien hoe mense saam braai agterin die erwe en op die sypaadjies. Almal het vuvuzelas gehad. Ons kry ‘n bietjie van mekaar se kultuur. Dit was ongelooflik.

As jy vir Monja wil bederf, hoe doen jy dit?

Ek is nie ‘n baie romantiese ou nie. Ek is nie goed daarmee nie, want ek praat te min. Enigiets wat ons alleen kan gaan doen, al is dit ‘n movie, al is dit ‘n koffie gaan drink, al is dit ‘n etetjie uit … Net iets waar ek en sy alleen is, waar iemand anders na die kinders kyk. Dan is sy gelukkig.

Jy doen alles oor ‘n koppie koffie? Het jy ander klein sondetjies ook?

Ek is mal oor koffie. Ek drink te veel koffie. Ek het sondetjies. Almal het dit maar. Ek is nie die perfekte ou nie. Ek het ook foute. Maar ek probeer, dis belangrik om goed en eg te wees.