Lewe + Liefdes

5 Boek-minute met Victor Matfield (Deel 2)

Sy boek, Victor: My Reis, word uitgegee deur Zebra Press.

Jy skryf hoe moeilik dit is om as professionele sportman die hele tyd in die openbare oog te wees en hoe julle private lewe ontbloot word. Jy verwys na Andries Bekker en Gary Botha wie se private lewe die koerante gehaal het. Hoe beïnvloed daardie goed jou spel, of los jy dit agter wanneer jy op die veld draf?

Dis moeilik. Ek probeer wegbly van daai tipe goed af, want dit hét ‘n invloed. Daar is aandag daar buite. Almal geniet aandag, veral wanneer baie van die spelers deur daardie fase gaan waar hulle skielik herken word op straat en vinnig bekend raak. Die ouens weet nie hoe om dit te hanteer nie. Ek dink daar moet groter moeite gedoen word om spelers deur hierdie periode te mentor om ongeskonde daaruit te kom. Baie ouens kom daardeur en hulle is oukei,maar baie kom nie daardeur nie. Hulle val heeltemal uit die game uit. Party van ons is gelukkig om daardeur te gekom het – met genade dalk.

Wie moet pa staan vir daardie mentorskap?

Dit moet uit die rugby-fraternity kom. Senior spelers, maar dis moeilik. Wanneer jy met jong outjies praat, is hulle reaksie onmiddellik dat jy dit ook gedoen het. As jy verduidelik dat dit verkeerd was, dan sê hulle jy moet hulle los dat hulle self daardeur gaan. Nog meer, ons het gepraat oor gekleurde spelers wat uit agtergeblewe areas kom wat nog minder het en nou het hulle skielik baie. Hoe hanteer ‘n mens daai geld? Almal is skielik jou tjommie, want jy het geld en hulle neem jou kwalik as jy nie ‘n bietjie deel nie. Dis alles goed wat mens dalk met mentorskap kan deurwerk.

Kan jou ondersteuningsnetwerk hiermee help?

As jy nie ‘n steunpilaar het waarop jy kan terugval nie, dan het jy moeilikheid. 80% van spelers gaan deur so ‘n dip. Ek sê altyd die enigste outjie wat ek nie deur daai dip sien gaan het nie is Pat Lambie. Maar hy’s nog jonk, en tog is hy so steady. Almal sukkel om deur daai fase te gaan. Dit gebeur. Dis menslik.

Jy is deur twee Kampe Staaldraad, eers by die Bulle en toe by die Bokke. Wat het jy daarvan oorgehou?

Die eerste een met die Bulle was baie fisiek. Emosioneel was dit fine. Met die tweede een by die Bokke het hulle ons emosioneel probeer afbreek met koue water en sulke goed.

Ek het dit gelove om in die see te swem! Ek kan nie meer in die see swem nie. As die water nie warm is nie, wil ek doodgaan. Maar as ons Bokke vandag nog agter in ‘n bus ry, die stories wat opkom, is Kamp Staaldraad. Dis iets wat erg was op daardie oomblik. Ek glo nie ons het die Wêreldbeker verloor as gevolg van Kamp Staaldraad nie. Ek dink nie ons het in daai stadium die spelers gehad en ook nie die ervaring nie. Meeste ouens het maar twaalf games gehad. Ons kon nie kompeteer met die top-ouens nie. Die gevaar is –  as jy ‘n Kamp Staaldraad gedoen het en ons het gewen, dan het ons nou nog almal Kamp Staaldraad gedoen. Ja, dit was baie erg. Emosioneel het hulle ons afgebreek, maar dis nie die rede waarom ons nie goed gedoen het by die Wêreldbeker nie.

Is daar enigsins iets positiefs wat jy kon behou uit Kamp Staaldraad?

Ja, dit wys jou weer eens tot waar jy jou liggaam kan druk, dat jou lyf soveel meer kan doen. Dit maak jou nie beter of slegter nie. Wat ek in my boek sê, is my opinie. Oor die eerste Kamp Staaldraad het ek vir Henning Gericke gesê (die ou vir wie ek die meeste respek het) dis ‘n klomp nonsens en dit gaan nie werk nie. Maar dit kon dalk.

‘n Professionele rugbyspeler het eintlik ‘n kort rak-leeftyd, veral as hy beserings opdoen. Hoe bestuur jy jouself saam met jou afrigter om fiks en gesond te bly?

Dis moeilik. Sekere beserings is dalk wanbestuur, maar dan is daar ook fratsongelukke. As iemand van die kant af op jou knie val, jy gaan beseer word. As ons vandag ophou speel en ons het drie weke af, dan is ek die volgende dag in die gim. Ek haat dit om onfiks te raak en weer fiks te moet raak. Ek bly oefen. Ander ouens glo hulle moet rus, want hulle moet herstel. Elke ou ken sy lyf en weet hoe hy homself moet bestuur. Soos ek ouer geword het, het dit ook verander. Vier jaar terug sou ek na ‘n ligte oefening op die treadmill gaan hardloop het. Die laaste ses maande kan ek dit nie doen nie. My knieë begin seer word, my laerug pak op. Ek moes myself anders bestuur. Gelukkig by die Bulle en die Bokke het ons die laaste vier jaar ouens gehad wat verstaan. Hulle het nie gesê almal moet dieselfde program volg nie. Hulle het jou oefenprogram aangepas om beter te werk vir jou.

Hoe moeilik is dit vir jou om ouer te word en nog rugby te speel?

Mens raak half slim. Na ‘n af-seisoen as ons by ‘n oefenkamp gekom het, geen ander slot mag my weggehardloop het nie. Dis my doelwit, selfs hierdie jaar op 34 het ek die verste van almal gehardloop. Maar na ‘n week se oefen, dan begin my lyf seer raak en die jonger spelers begin fikser raak. Dan is dit om myself te bestuur – om myself te druk wanneer ek dit nodig het. Die ouens wat suksesvol is, is gedissiplineerd om te weet wanneer hulle moet rus en wanneer hulle moet oefen. Jy moet jou lyf ken en eerlik wees met jouself.

Afrigters speel ‘n groot rol in ‘n rugbyspeler se lewe. Hoe voel jy oor afrigters en hul benadering tot spelers?

Ek was gelukkig om saam met van die beste ouens te werk, maar ek het ook saam met die snaaksste ouens gewerk. Hang af van waar jy is, het jy verskillende afrigters nodig. Toe ons begin het by die Bulle, was ons baie jong outjies wat net wou rugby jol. Jy kan rugby jol, maar jy verstaan nie die game nie, jy ken nie die fyner detail nie. Toe het Heyneke Meyer ons gemaak – hoe ons oor rugby dink, hoe rugby werk. Daar was baie coaching en mentoring nodig. Nou’s dit agt jaar later, jy het jou span soos Peter de Villiers gehad het. Jy het 2 ouens wat al 100 toetse gespeel het, jy het 10 ouens wat al meer as 50 toetse gespeel het, wat al 6 jaar internasionaal speel. Jy gaan nie regtig hulle koppe verander oor rugby nie. Nou moet jy manage. Nou moet jy ouens gelukkig hou dat almal in dieselfde rigting dink. Jy moet hulle bymekaar hou, dat iemand nie buite die strukture gaan nie. So op verskillende vlakke het jy verskillende goed nodig afhangende van die spelers met wie jy werk. Jy moet kan aanpas daarby.

Was dit moes moeilik om met ‘n afrigter soos Rudolf Straeuli te werk, wat sy wil afgedwing het op spelers?

Ons was nie ‘n span vol ervare spelers nie. Ek dink as iemand soos Rudolf dalk met ons Bokke aan die einde kon werk – daar is so baie ouens wat met hom sou kon sit en in die oor gesê het ons kan nie hierdie doen nie, ons kan nie daardie doen nie. Dis waar John Smit en Jake White so ongelooflik was. As Jake iets gedoen het … kyk, Jake het nie nonsens gevat nie, en die druk was te erg, dan was John daar om Jake te kalmeer. Dis wat John die ou maak wat hy is. Peter de Villiers het meer gehad. Hy het my en John gehad en vir Fourie. Hy het ‘n klomp ouens gehad wat hy kon intrek.

Wie is jou beste afrigter en waarom?

Dit sal Heyneke Meyer moet wees. Hy het van 80% van ons ouens by die Bulle gemaak wat hy wou, maar dit vat niks weg van Frans Ludeke af nie. Dit vat niks weg van Jake White af nie. Hy het ‘n Wêreldbeker gewen. Fantastiese afrigters, maar ek is geskool in rugby deur Heyneke. Hoe ek oor rugby dink, het hy in my ingedril.

Peter de Villiers is baie in die media gekruisig oor uitsprake wat hy gemaak het, maar in die boek kom jy vir hom op. Waarom?

My pad met Peter het begin toe hy gedink het ek is ‘n rassis en hy het my nie in die span gehad nie. Ons het met mekaar gesels, waar hy besluit het ek is nie meer ‘n rassis nie. Ek het dit altyd in my kop gehad, as jy by die Bokke kom, moet alles die beste wees. Jou travel, jou klere, alles, en Peter het dit vir ons verskaf. Hy het nie een keer ‘n slegte woord van ‘n speler gesê nie en dis wat spelers soek. Selfs met Schalk en Bakkies as hulle stupid goedjies doen, dan het Peter opgestaan en hy lyk soos ‘n idioot, want hy verdedig hulle. En dan kruisig die media hóm. Hy het dit gevat en hy het dit aanvaar. Tegnies kon hy dalk beter gewees het, maar hy het dinge reg bestuur. Hy het ouens soos Jacques Nienaber en Rassie Erasmus voor die Wêreldbeker ingekry, wat briljant is in wat hulle doen en dit het vir ons gewerk, het ek geglo.

Nes Peter de Villiers baie kritiek gekry het, het John Smit ook deurgeloop en is hy baie keer afgeskryf in die media. Intussen moet julle as span in hom glo. Wat maak hom so spesiaal?

Almal het respek vir hom. John is die een ou, maak nie saak of dit die president van Sarvu, die president van die land of die afrigter is nie, as daar goed is wat gebeur wat nie vir die span die beste is nie, sal hy dit gaan aanspreek en hy sal dit gaan verander en daar moet maar ander reëlings gemaak word. Dit het die ouens na hom laat opkyk.

Julle het ‘n goeie verhouding?

Ja, en waar dit by die game-goed kom, het hy ouens soos ek, Fourie du Preez en Jean de Villiers bemagtig – waar hy sal terugstaan. Ek skryf ook hoe ek aan die begin van my kapteinskap alles wou doen. Ek wil die coach hanteer, ek wil calls maak, ek wil al die besluite neem. Jy kan dit nie doen nie. Jy moet ouens vertrou en terugstaan. Dis die ouens wat jy moet sterk maak en dit het hy my geleer.

Is daar nog provinsialisme in groot rugby?

In die begin was daar beslis. In my beginjare kon jy voel daar is kampe, Engels, Afrikaans … Maar omdat ons die laaste sewe, agt jaar dieselfde ouens is, ek het amper meer wedstryde saam met Schalk Burger gespeel as wat ek saam met losvoorspelers by die Bulle gespeel het. Ons klomp Bokke het saam gegroei en het verander deur die jare en ons het na aan mekaar geraak. Maar steeds as ons gaan uiteet, veral ons Bulle is skuldig daaraan, dan sal jy sien daar is die Bulle-tafel en dan die ander ouens. Ek weet nie of dit die Afrikaans/Engelse ding is nie en of dit ons moeiliker laat meng nie. Maar tog sal Schalk Burger of Jean de Villiers, en in die ou dae, Percy Montgomery, by ons sit.

Het rugby vir jou deure oopgemaak?

Natuurlik. Hierdie laaste paar maande het ‘n hele klomp mense my gekontak om te hoor of ek by hulle kan betrokke raak, maar ek het reeds ja gesê vir ander goed.

Die afgelope Wêreldbeker, was dit vir jou ‘n laagtepunt in jou loopbaan?

Ja, dis baie hartseer. Ek glo nog steeds ons het alles gedoen om reg te wees. Ons voorbereiding was spot on. Die manier hoe ons gespeel het, ons het regtig goeie rugby gespeel op die dag wat ons verloor het. Dinge het ongelukkig net nie gewerk nie. Dis nie net die skeidsregter nie. Ons het nie ons geleenthede gebruik nie. Dis baie teleurstellend omdat dit my laaste game was. Tog was dit ‘n lekker Wêreldbeker saam met great vriende. Ons het great goed gedoen. Daar was lekker tye ook. Dis sleg om in my finale jaar nie ‘n enkele beker te kon wen nie.

Die ritueel van truie uitdeel voor ‘n wedstryd is vir die spelers ‘n belangrike geleentheid en as ‘n rugbylegende soos Frik du Preez kritiek lewer is dit seker moeilik?

Ek wil nie sê hy het kritiek gelewer nie. Hy het bevraagteken of ons alles gee. Ons het in daardie stadium nie goed gedoen nie en hy wou weet of ons harte in ons spel is en of ons dit vir die geld doen. Dit sny na aan die hart. Vir almal wat daar sit, beteken daai trui alles en oom Frik is ‘n groot held vir my, vir ons almal. As ek hom sien, my hart klop sommer vinniger. Hy is ‘n fantastiese mens en daarom was dit vir ons moeilik.

Kan ons praat oor aanvullings en die bestuur daarvan?

Ek dink ons is baie laks daaroor. Ons kry aanvullings van maatskappye af en dan glo ons die goed is reg. As daar iets in daai goed is, is dit twee jaar van jou loopbaan wat daarmee heen is. Dis ‘n moeilike situasie en moeilik om te beheer. Jy kan nie elke ding toets voor jy dit gebruik nie. Jy moet dokters vertrou wat vir jou goed voorskryf, dat hulle die regte goed voorskryf. Jy het nie die kennis nie.

Wat van jong rugbyspelers wat voel hulle moet steroïdes gebruik, omdat rugby so mededingend is?

Dit gaan alles oor druk. Ek het in ‘n huis grootgeword waar daar hard geoefen is, maar daar was nooit daai tipe druk van as jy dit nie maak nie, is daar moeilikheid. Ek dink baie keer ouers is half verantwoordelik, want waar kry die kind geld om daai goed te koop. Dis oefen, dis nie vir ietsie drink en die spiere kom nie. Jy moet reg eet, jy moet die regte lewenstyl hê. Dis waaroor dit gaan.

Jy was oorsee om by Toulon te gaan rugby speel vir baie geld, maar het nogal gou weer teruggekom. Hoekom?

Ek was net nie reg om dit wat ons gehad het by die Bulle en die Bokke op te gee nie. Dit het vir my gevoel of ek ‘n leuen leef daar. Die helfte van daardie ouens sal nie eers Curriebeker-rugby speel nie. Ek was op die top, het toe net ‘n Wêreldbeker gewen en toe speel ek daar tweede divisie-rugby. Ek het familietyd gehad en kon dinge saam met hulle doen. Maar dit waarvoor ek lewe, die rugby, was nie daar nie. Ek was nie bevredig nie en vir die eerste keer was rugby vir my werk. In Suid-Afrika is dit vir my lekker om elke dag Loftus toe te gaan. Ek is opgewonde en ek het iets om voor te werk.

Hou jy van reis?

As jy my ‘n keuse gee om nou Herholdtsbaai toe te gaan of Singapoer toe vir ‘n week, dan gaan ek Herholdtsbaai toe. Ek hou nie van toer nie. Ek hou nie van sightseeing nie. Ek was nou al veertien keer in Sydney, en as jy vra of ek die Operahuis gesien het, is die antwoord nee. Maar ek was by elke gholfbaan daar!

Is jy ‘n leser?

Ja, ek lees nie-fiksie. Ek het tydens die Wêreldbeker die boek oor Brett Kebble gelees en ek is nou besig met Jannie Mouton se boek.

In ‘n sportrubriek lees ek dat in jou loopbaan het jy al hoe knorriger en minder toeganklik geraak. Is dit ‘n regverdige stelling?

Mens begin in jou lewe en dan is dit lekker om in die media te wees. Hoe meer jy in die media is, hoe meer opinies spreek mense uit oor jou. Ek was elke week in die media as gevolg van rugby, so ek het nie die behoefte om nog meer vir ander dinge in die media te wees nie. Die laaste twee jaar was baie erg, ek kon my nie draai nie, want oral is oë en ore.

Belangrikste lewensles wat rugby jou geleer het?

Almal het verskillende opinies. As iemand van jou verskil, is dit nie te sê hy is verkeerd nie. Mens moet verstaan dat almal nie dieselfde oor die lewe dink nie. Partykeer moet jy opoffer om in te pas. Jy kan nie net jou sin kry nie.

  • Sussie en Piet

    Rugby lees dinge