Lewe + Liefdes

5-Boekdinge met Tina Scotford

In die land van Kachoo is die wilde diere baie besig. ’n Sebravul is op soek na sy ouers (Lost in the land of Kachoo), Koning Leeu lei honger omdat sy prooi te slim is vir hom (The lion hunts in the land of Kachoo) en soms is die diereryk op die punt van ’n staatsgreep (Who is King in the land of Kachoo). Tina Scotford se unieke rymverse prikkel jou lagspiere. Die kleingoed sit op die punt van hul stoele en Frans Groenewald se illustrasies is genoeg om oud én jonk met nuwe oë na wilde diere te laat kyk. Die boeke word deur Jacana uitgegee en kos R89,95 elk.

Scotford, wat in Durban bly, is mal oor die bos en besoek graag natuurreservate in die hele Afrika. Wanneer sy nie kinderverhale skryf nie, is sy in die kombuis, op die joga-mat of by die Kingspark-stadion om die Sharks te ondersteun.  

Wou jy nog altyd ’n skrywer wees?
Nee, toe ek ’n klein dogtertjie was, wou ek ’n kabaret-danser wees. Ek was mal oor die idee van blink, vals oogwimpers en vere in my hare! Maar ek hou nog altyd van skryf. Toe ek 10 was, het ek my eerste kinderstorie oor Jigger die dolfyn in versformaat  geskryf. Ek wens ek het dit gehou om vir my dogtertjie te wys. Op skool het ek daarvan gehou om opstelle te skryf en in matriek het ek so ewe ’n onderskeiding daarvoor gekry. So, ek dink ek het maar nog altyd die vermoë gehad om te skryf. Nou wil ek die graagste ’n suksesvolle skrywer wees. Ek voel baie geseënd om drie gepubliseerde boeke te hê!

Vertel ons meer oor jouself.
Ek is ’n skerp ma van ‘n  besige drie-jarige dogtertjie, Sienna. Toe ek in 2009 uitgevind het ek is swanger, het ek my besigheid verkoop. My plan was om drie jaar saam met haar by die huis te spandeer. Ek koester elke oomblik op my reis as ma, hoewel ek self nog leer hoe om die balanseertoertjie van ma-wees reg te kry. Wanneer Sienna in die oggende by die kleuterskool is, skryf ek sodat ek in die middag saam met haar kan speel. Ek hou van kook en is ’n gekwalifiseerde voedingkundige. Partykeer werk Sienna saam met my in die kombuis. Ek laat haar help waar sy kan, want dit gee haar vertroue in haar eie vermoë. Familie is vir my baie belangrik, so ek sal eerder tyd saam met my familie deurbring as om saam met vreemdelinge by groot funksies te wees. En ek is absoluut gaande oor reis! Ek moedig almal aan om te reis, want dit maak mens oop vir moontlikhede en idees waaraan jy anders nie sou kon dink nie. Ek is gelukkig genoeg om baie dele van die wêreld al te kon sien en hoop om in die toekoms nog baie te reis.

Hoekom skryf jy juis kinderboeke?
Ek het kinderboeke begin skryf nadat ek Sienna na Kindermusik toe gevat het toe sy een jaar oud was. Met die Kindermusik-sessies het my kop in rympies begin dink. Ek was na elke sessie vol inspirasie om stories te skryf. Ek het my stories op die rekenaar begin tik terwyl Sienna, uitgeput van al die pret by Kindermusik, geslaap het. Ek het baie dae sommer lawwe liedjies uitgedink en dit vir Sienna gesing. Ons altwee was mal daaroor! Siende dat ek nog altyd van skryf gehou het, skraap ek toe al my moed bymekaar en stuur een van my stories vir ’n uitgewer.

Het jy ’n spesifieke persoon ingedagte gehad toe jy jou boeke geskryf het?
Ek hou ouers én hul kinders ingedagte as ek die boeke skryf. Dié reeks is geskryf om hardop te lees, so die ouers en die kinders moet die humor in die storielyn kan raaksien.

Hoe het jy by die idee van die “land van Kachoo” uitgekom?
Ek is bevoorreg om al na baie natuurreservate in Suid-Afrika, Tanzanië, Kenia en Botswana toe te kon gaan. As kind het my gesin vakansie gehou in natuurreservate en die Drakensberge. Die natuur- en dierelewe trek my aan, so ek het my eerste storie oor ’n hiëna geskryf. Aan die begin was die stories in die Karoo, want ek het ’n plek nodig gehad wat met ‘shrew’ rym. Maar toe het ek besef dat die Karoo te ruimte-spesifiek is. Ek wou hê die stories moet oor diere van die hele Afrika gaan en nie net diere van Suid-Afrika nie. Toe dink ek die woord ‘Kachoo’ uit. Dis lekker op die tong en die idee van ’n verbeeldingsland met die naam ‘Kachoo’ het so begin.

Hoe moeilik is dit om die stories te skryf, met dié dat ’n groot deel van die teks moet rym?
Omdat die versreëls ’n bepaalde ritme het, is dit tog moeilik tot ’n mate. Ek moet genoeg woorde in elke versreël gebruik om by die ritme in my gedagtes te pas. As kind was ek mal oor rympies. Ek glo dat kinders nodig het om rympies te lees, want rym en liedjies ontwikkel hul fonetiese bewustheid. ’n Kind leer dat ‘kat’ nie met ‘hond’ rym nie, maar met ‘mat’. Plus, ek dink dis pret en dat die teks ’n tipe lawwigheid en opgemaakte woorde het wat moeilik is om in prosa te doen. Daar is te veel politieke korrektheid in ons wêreld. Dis goed vir die siel om so dan en wan na ’n lawwe plek in jou verbeelding waar jy kan lag, te ontsnap. Selfs al lag jy dan vir jouself of vir die sogenaamde held!

Ken jy die illustreerder, Frans Groenewald, en hoe het hy jou stories begin illustreer?
Ek het Frans nog ooit ontmoet voordat hy die stories begin illustreer het nie. Neil Austin van 2SQ, wat saam met Jacana gewerk het om die reeks te publiseer, het hom betrek. Ironies genoeg het ek ’n paar jaar gelede ’n verjaardagkalender wat Frans geïllustreer het, gekoop omdat ek mal oor sy styl was. Nog voordat ons besluit het om Frans te vra om die boeke te illustreer, was dié kalender op die lessenaar waar ek gesit en skryf het. Intussen het ek Frans al ’n paar keer ontmoet en hy is ’n onbeskryflike mens met ’n uitsonderlike talent. Sy vermoë om te illustreer en sy gebruik van woordspel is ongelooflik. Hy is briljant!

Lyk die karakters in die illustrasies soos wat jy hulle vooraf in jou gedagtes gesien het?
Ja, hulle lyk 100% soos in my gedagtes.

Gaan jy nog boeke in die reeks skryf?
Ja, ek het al drie ander stories klaargemaak. En hopelik begin ek een van die dae ’n ABC-boek wat op die karakters van die land van Kachoo gebaseer is.

Is jy ’n ywerige leser en wat lees jy?
Die een plesier wat ek as ’n skrywer en ’n tuisbly-mama het, is lees. Ongelukkig het ek nie baie tyd om stories of boeke te lees nie, behalwe dié wat ek vir my dogter lees. Ek is die middelste kind van drie dogters en het nog altyd daarvan gehou om te lees. Toe my oudste sussie geleer lees het, het ek elke aand gebid dat ek tog ook sal kan lees. Ek het selfs die woorde in die stories wat sy moes leer lees, gememoriseer sodat ek dit uit my kop kon lees. Ek was die eerste kind in my graad een-klas wat ’n biblioteekkaartjie gekry het en was baie trots daarop. Ek lees oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe, van outobiografieë tot romanses, maar ek het nou nog nie die Twilight-reeks gelees nie. Hopelik kry ek met die vakansiedae in Desember ’n kans om bietjie ’n boek te lees. Een boek op my Kersfeeswenslysie vir 2012 is When Broken Glass Floats: Growing Up Under the Khmer Rouge deur Chanrithy Him. Ek was in 2004/2005 in Kambodja. Nie net het die wrede geskiedenis van dié land my gefassineer nie, maar ook die volharding van almal wat dié wreedheid oorleef het. 

  • Gemaskerdesopbeen

    Goeie storie! Lyk na oulike boeke.