Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Adriaan Basson

Dis verstommend om te dink dis die president van ons land waaroor Adriaan Basson so skryf, maar as jy die koerante en ander media dophou, besef jy Basson teken ‘n realistiese prentjie van hoe Jacob Zuma sy politieke loopbaan bedryf. Die bekroonde joernalis het in sy eerste boek, Finish & Klaar, ook die loopbaan en onheilige alliansies van ‘n belangrike openbare figuur blootgelê – dié van Jackie Selebi, ons voormalige polisiehoof. Hy dien tans tronkstraf uit en is ‘n baie siek en gebroke man.

Zuma Exposed (Jonathan Ball Publishers, R200) laat jou verstom oor hoe Zuma hom uit alle politieke verknorsings, selfs aanklagte van korrupsie, wikkel en op die oog af daarmee wegkom. Die ergste is dat die Zuma-sage voortsleep, want hy is steeds die president en is onlangs weer as leier van die ANC herverkies. Hy bly ‘n gewilde leier vir ‘n verstommende hoeveelheid mense ten spyte van alles wat Basson aan die lig bring. Jy kan nie help om te wonder wanneer meer mense insig oor die ware karakter van dié politieke leier gaan kry nie. Gelukkig is daar joernaliste soos Basson wat dapper genoeg is om aan te hou skryf oor politieke figure en die dinge wat hulle voete van klei gee.

Mense sê die boek maak hulle erg depressief. Wat het dit aan jou gemoedstoestand gedoen om met die inligting te werk?

Ek is ‘n gebore optimis. Ek weier om sinies en negatief oor die land te wees. Daar is te veel goeie mense in Suid-Afrika wat ‘n verskil maak. Ons moet ophou om ons persoonlike geluk te koppel aan wat ons leiers doen en sê.

Dink jy daar is ander presidente in die wêreld wat ook maar wegkom met dié soort ding?

Beslis. Korrupsie is NIE ‘n Afrika-probleem nie. Lande soos Frankryk en Italië het korrupsie vervolmaak. Korrupsie is altyd ‘n dans waarby twee partye betrokke is – dikwels ‘n Westerse firma en ‘n korrupte politikus. Die vraag of Zuma daarmee behoort weg te kom, is iets anders. Ek dink ons instellings is nog sterk, maar daar is beslis ‘n poging om dit te verswak. Ons moet aanhou onthul, aanhou geraas maak.

Hoe gaan jy te werk wanneer jy ‘n boek met soveel feitelike navorsing saamstel?

Ek is ‘n obsessiewe opgaarder. Ek het laasweek vir die eerste keer my notaboeke van die Schabir Shaik- verhoor weggegooi! So ek het in my eie studeerkamer toegang tot ‘n magdom hofstukke en ander dokumente gehad. Ek delete niks nie, en dit wat ek nie gehad het nie, het ek in argiewe of by kontakte gaan soek.

Is daar enige positiewe nuus rondom Zuma as  president?

Ek dink steeds hy is ‘n baie “warmer” persoon as wat Thabo Mbeki was, wat mense laat voel hy is hulle president. Onder hom presteer die gesondheidsdepartement en binnelandse sake beter, en Trevor Manuel se Nasionale Ontwikkelingsplan is ‘n goeie dokument wat, as dit reg bestuur word, baie probleme in die land kan oplos.

Tref jy enige voorsorg vir jou eie veiligheid en is jy al gedreig?

Enige Jo’burger moet maar oop oë slaap! Maar ja, ek is bewus van die risiko’s daar buite en probeer om nie roekeloos te wees nie. Jy tref maar voorsorgmaatreëls en ontwikkel ‘n betroubare bullshit-radar!

Waarom dink jy dis belangrik dat die soort boeke wat jy skryf wel gepubliseer word?

Vir ons demokrasie om te floreer moet daar meer openheid wees. Dis waarom die apartheidsregime vir so lank hul geheime kon bewaar; die media is onderdruk en joernaliste wat die waarheid gepraat het in die tronk gegooi. Dis nie altyd maklik om as ‘n vyand van die regering gebrandmerk te word nie, maar op die lang duur is dit die moeite werd en jy moet mos jou roeping volg. Gelukkig kort ek nie vriende nie; my vrou en my katte het my innig lief.