anchien_troskie1
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Anchien Troskie

Dié vraag het die skrywer, Anchien Troskie, ook bly jaag, want wat word dan nou van Anna? Dit het haar so gejaag dat sy die navorsing van ‘n nuwe boek opsy geskuif het en Anna se fiktiewe verhaal weer opgetel het. Sy beantwoord die vraag in die opvolgboek, Die Staat teen Anna Bruwer. Anna het haar stiefpa vermoor en nou moet sy verantwoording doen daarvan.

Troskie sê in die voorwoord oor die fiktiewe Anna: “Sy is nie ek nie. Maar ek kon – as ek my fantasie uitgeleef het – sy gewees het.” Die verhaal vertel van die ondersoek, die hofsaak en die vonnis wat opgelê word, van Anna wat ‘n kans kry om die drade van haar lewe op te tel en aan te gaan. En hopelik is dit die begin van vergifnis.

Dié verhaal het ‘n groot impak op lesers gehad. Die eerste boek was een van die topverkopers in Afrikaans en die verkope van die opvolg, Die Staat teen Anna Bruwer, bewys die verhaal spook steeds by lesers. Ek het Anchien per e-pos uitgevra oor Anna se storie.

Waarom het jy ‘n opvolg geskryf van Dis ek, Anna?
Omdat ek Anna aan die einde van Dis ek, Anna met bloed aan haar hande los. Ek het bly wonder: wat het met Anna gebeur? Maar die eintlike motivering vir die opvolg het eers gekom nadat baie lesers dieselfde vraag aan my gevra het.

Was jou emosie met die skryf van hierdie boek anders as toe jy Dis ek, Anna geskryf het?
Die woede was nog daar, maar minder. Wat wel nuut was, en wat my effens onkant betrap het, was dat hoop en vergifnis uit die bloute hand aan hand voor my kom staan het.

Het jy die skryf anders ervaar, want hierdie is Anna se fiktiewe verhaal?
Die hele proses was tog anders, want hierdie is nie my eie storie nie. Maar omdat dit fiktief is, beteken ook nie dat ek nié my emosies hierin kon stort nie. Dit was op ‘n manier goed om eenkant te staan en bloot waar te neem hoe Anna sekere situasies hanteer en beleef. Maar ook het ek nuwe vrese deur haar oë gesien en beleef. En ja, ek het hierdie boek met my hart en kop geskryf. Dis ek, Anna was net hart.

Moes jy baie navorsing doen vir Die Staat teen Anna Bruwer, en hoe het jy die navorsing aangepak?
Baie, baie navorsing! Ek het met sielkundiges en psigiaters gesels, met lede van die polisie, die selle in Humansdorp besoek. Ek het met prokureurs gesels, ure in ‘n hof gaan sit om te sien hoe dit werk. Hofverslae gelees tot my oë traan, regsterminologie onder die knie probeer kry (‘n verlore stryd – ek’s so dankbaar dat ek nooit enige begeerte gehad het om regte te gaan swot nie!). En hoe meer navorsing ek doen, hoe meer besef ek dat dit een van die aspekte van skryf is wat ek geweldig geniet.

Waarom het jy die twee aanhalings gekies wat jy voor in jou boek gebruik?
Invictu
s is vir my die mooiste stuk poësie wat nog geskryf is en vir my spreek dit meer as enigiets anders van volharding, van hoop, van selferkenning. En die gedeelte uit Jane Eyre van wraak: Ek kon nie aan twee meer gepaste aanhalings dink nie.

Hoeveel van jou karakter is in hierdie Anna?
Te veel. Ek het hard probeer om Anna haar eie identiteit te gee. Om regtig van haar ‘n karakter te maak. Halfpad deur die manuskrip het ek besef dat dit ‘n verlore stryd is. Anna is ek. Ek is Anna.

Is Anna in staat om ware vergifnis te ervaar oor wat met haar gebeur het?
Om dit wat met jou gebeur het te aanvaar is moontlik. Om jouself te vergewe ook. Ek is nog nie oortuig daarvan dat dit moontlik is om die persoon wat jou dit aangedoen het te vergewe nie. Maar ons werk daaraan, ek en Anna.

Anna soek in die kerkhof toenadering tot haar ma. Hoekom het jy die toneel daar laat afspeel?
Daar is iets aan die atmosfeer van ‘n kerkhof wat my nog altyd aan die hart gryp. Dit is asof ‘n mens langs die graf van ‘n geliefde (lees: Carli) met piëteit en deernis na die mense om jou kan kyk. Asof jy juis daar alles wat hulle jou aangedoen het, kán en mág vergewe.

Anna het ‘n interessante verhouding met Joubert. Eers vertrou sy hom nie en later raak sy verlief op hom?
Dat sy mans moeilik gaan vertrou, is ‘n gegewe. Dit neem tyd. Soms ‘n bietjie wroeging.
En ek wou haar darem ook nie ‘n hart van klip gee nie. Ons almal het iemand nodig vir wie ons lief kan wees, op wie ons vertrou, wat ons geanker kan hou.

Sy probeer ook ‘n paar keer om Joubert in die bed te kry. Hoekom is dit vir haar belangrik om ‘n fisiese verhouding met hom te hê voordat hulle regtig ‘n paartjie is?
Wanneer jy jou lyf, met toestemming, kan deel – sonder foefies, sonder geweld, sonder om verneder te word, met liefde en sagtheid – dit is vir my persoonlik ‘n tree op die pad na herstel. En sy moes weet dat haar verkragter nie vir altyd saam met haar in die bed gaan klim nie. Want hy hoort nie daar nie. Eers dan, glo ek, is jy gereed vir ‘n langtermynverhouding en vir wat dit alles behels.

Waar het jy aan Windhond en sy storielyn gekom?
Windhond sou bloot die ondersoekbeampte in Anna se stiefpa se moord wees. Maar hoe meer ek met die polisie gesels het, hoe meer het ek besef dat hulle daagliks met verkragting, moord, onsedelike aanranding, kindermolestering en die ander vergrype te doen kry. Hoe doen hulle dit? Hoe lank neem dit vir iemand voordat hy ‘n versadigingspunt bereik en knak? Windhond was/is ‘n goeie man, ‘n goeie polisieman, maar in ‘n stadium moes selfs hy erken: genoeg is genoeg. Windhond het gevrá om geskryf te word.

Is dit die laaste van Anna of gaan jy weer iets oor haar skryf?
Ek het closure oor Anna. Sy is op ‘n goeie plek. Soos ek. Vir eers is dit genoeg.

Wat beteken hierdie twee boeke vir jou op ‘n persoonlike vlak?
Vandat ek Dis ek, Anna geskryf het, voel ek waarlik skoon, die pyn dowwer. Ná Die Staat teen Anna Bruwer nog meer so – omdat ek eindelik ook oor Anna ‘n gerustheid het. As slagoffer van molestering en/of verkragting voel dit soms asof dit al is wat jou definieer. Wat natuurlik glad nie waar is nie. Met die skryf van Dis ek, Anna het ek besef dat ek meer as net ‘n slagoffer is. Ek is ‘n survivor, mét ‘n stem. En dit is ook die boodskap wat ek sou wou uitdra: daar is lewe na molestering en/of verkragting.

Waaraan werk jy nou?
Ek het so ‘n paar maande gelede aan ‘n manuskrip begin werk, maar vinnig besef dat ek nie nou my volle aandag daaraan kan gee nie. Dus neem ek nou ‘n welverdiende ruskans.