handgemaakte_kaartjies_in_n_kits
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Anita Rossouw en Lounette Fourie

In hul nuwe boek, Handgemaakte kaartjies in ‘n kits (Human & Rousseau, R185), deel hulle een van hul kreatiewe stokperdjies met lesers. Hulle wys jou hoe om handgemaakte kaartjies te maak uit stukkies papier, kant, lint of enigiets anders waaraan jy moontlik kan dink. Hulle gee presiese aanwysings van wat jy nodig het en hoe jy te werk moet gaan om elke kaartjie te maak. Daar is ook patrone wat jy kan natrek om jou spesiale kaartjie te skep. Soos hulle in die voorwoord van hul boek sê: “’n Handgemaakte kaartjie kan so baie sê waar woorde ontbreek. . . .En die beste van alles is dat dit net so lekker is om die kaartjie te maak as wat dit is om dit te ontvang.” Ek moet bieg, ek het nie vir hulle ‘n kaartjie gemaak om te vra dat hulle ‘n paar gedagtes met ons deel nie. Dit was eerder ‘n nuwerwetse en bra voorspelbare e-pos!

Vir 'n handwerker-vriendin Kom eet by my Boekblaaie met diertjies Koekie-kaartjies

Julle is al 23 jaar vriende. Wat maak dat jul vriendskap bly staan, al werk julle ook saam?
Ons is sielsgenote en baie eerlik met mekaar. Ons het so baie parallelle in ons lewens en deel dieselfde belangstellings. En ons hou albei van LAG.

Wat is julle gunsteling-tipe handwerk?

Anita: Naaldwerk en borduur.
Lounette Fourie Lounette: Brei.

Wie van julle is die meer praktiese een en wie is meer van ‘n dromer?
Lounette is definitief die meer praktiese een en ek die dromer.

Hoe kry julle dit reg om maand na maand kreatief te wees en goed uit te dink wat mense kan maak?
Dis ons passie en stokperdjie. En die kleinste dingetjie kan ons inspireer.

Hoe lank het julle aan “Kaartjies in ‘n kits” gewerk, en het julle self al die kaartjies gemaak?
Seker so ‘n jaar lank het ons elke aand en naweke sit en kaartjies maak. Ja, ons het almal self gemaak en baie pret gehad.

Waar kry julle die idees vir al die kaartjies?
Ons is albei mal oor skryfbehoeftes, kalligrafie en kaartjies. Ons het bokse vol ou kaartjies wat ons oor baie jare versamel het.

Is julle opgaarders van goedjies, materiale, krale en alles en nog wat?
Ja, ons het elkeen ‘n werkkamer waar daar bokse en kaste en nog bokse vol goeters is.

Ken julle al die handwerktegnieke of leer julle ook nog nuwe goed?
Ja, oor die jare het ons baie tegnieke bemeester en stel in elke vorm daarvan belang. Ons leer steeds en wens ons kon houtwerk doen.

Julle het ook al ‘n boek oor mosaïek gedoen. Is daar nog boeke aan die kom?
Ons hoop so. Hou dié spasie dop.

Dink julle daar is ‘n opleef in handwerk en dat dit nou weer mode geraak het om self goed te maak?
 Ja, definitief. Dit help verlig stresvlakke, skep werk, en laat jou jou kreatiwiteit ontwikkel. Dit maak mense gelukkig om iets met hul hande te doen. Ons moedig dit ten sterkste aan.

  • poppie

    Hallo
    Kan iemand my help? Ek wil leer naaldwerk doen, maar wil nie klasse gaan neem nie, is daar nie ‘n
    boek wat my stap vir stap kan help nie. Iets soos leer ritse insit, en patrone sny, so iets.
    Baie dankie van ‘n baie terug getrokke poppie

  • Phyllis

    Hallo Poppie
    Butterick (‘n ou patroonmaak-maatskappy) het in ‘n stadium so boek uitgegee en Reader’s Digest het ook so hele naaldwerkboek gehad. Miskien moet jy by jou naaste boekwinkel navraag doen.

  • Rene Bosman

    Hallo, julle strooikussings op die aanlynwinkel sarie.com met woorde soos ‘Jannie is dood van kruiwastoot’ ens, is pragtig. Kan ek by julle kussings bestel met my eie woorde op?
    Rene