Lewe + Liefdes

“My stryd met my gewig” – vrou skryf boek

In Anne H Putnam se eerlike memoir, Navel Gazing: One Woman’s Quest for a Size Normal (Faber & Faber, R209) vertel sy van haar eie stryd met haar lyf en hoe haar gewig nog altyd ‘n rol in haar lewe gespeel het. Jy kry ‘n intieme kykie in haar rouste gevoelens oor hoe haar gewig die nommer-1- verhouding in haar lewe is. Sy het selfs as 16-jarige die desperate stap geneem om ‘n gastriese omleidingoperasie te ondergaan in ‘n poging om haar gewig onder beheer te kry. Dit was volgens haar nie ‘n kitsoplossing vir al haar probleme nie, want baie daarvan het in haar kop gelê. Daaraan moes sy baie hard werk, om haar houding teenoor haar lyf en haar selfbeeld te verander. Dié stryd duur voort, soos sy in hierdie onderhoud vertel.

Waarom wou jy ‘n boek skryf oor jou stryd met jou gewig?
As mense vra hoekom ek hierdie onderwerp gekies het, antwoord ek dié onderwerp het my gekies. Vir jare, elke keer as ek wou skryf, was dit omdat ek gevoel het ek moet myself verduidelik: my snaakse tics en verwronge liggaamsbeeld, my redes om op ‘n jong ouderdom ’n drastiese stap te neem, hoekom ek so onbeholpe optree in ouens se teenwoordigheid en waarom ek so teësinnig partytjies toe gaan of in gemengde groepe gaan uiteet. My geskiedenis met gewig en liggaamsbeeld was ‘n groot deel van die verduideliking vir my “vreemdheid”. Ek het dikwels soos ‘n ruimtewese tussen my vriende gevoel, en die skryf van hierdie boek het begin as ‘n soort Anne-handleiding, iets waarna nuwe vriende (en steeds verwarde familielede) kan verwys as ek iets snaaks of onverklaarbaar doen.

Ek wou ook graag my ondervinding en my gemak om oor my vreemdheid te praat gebruik om ander mense te help. En eintlik wou ek die boek skryf wat ek wou lees toe ek 16 was en ‘n operasie ondergaan het om gewig te verloor. Dis nie dat ek dink die boek gaan lesers se selfbeeld-probleme oplos nie. Maar ek dink daar is troos in die gevoel dat jy nie alleen is nie, of die eensaamheid te make met gewigsprobleme, vrese dat jy nooit liefde gaan ervaar nie, of bloot obsessiewe gedrag – dís wat ek met lesers deel. My gesprekke wys mense is gelukkig om te weet ek is hierdeur en dat ek steeds hierdie stryd veg, van dinge wat húlle ook pla.

Jy het ‘n gastriese omleidingsoperasie gehad toe jy sestien jaar oud was. As jy nou terugkyk, was dit die regte besluit?

Dit was reg vir my. Die operasie het my op ‘n eienaardige manier toegelaat om jonk te wees terwyl ek nog tyd gehad het, eerder as om my te dwing om te vinnig groot te word. Daardie tyd het die gewigsverlies my bevry om die laaste dae van my tienerlewe aan te gryp – ek het vir die eerste keer ‘n seun gesoen; saam met vriende partytjies toe gegaan; ek het nuwe mense ontmoet en myself probeer oortuig hulle dink nie heeltyd aan hoe ek lyk nie. Om sosiaal in te haal was moeilik genoeg, maar ek dink dit sou moeiliker gewees het as ek tien jaar gewag het om die operasie te kry.

My lyf was ook in die regte toestand vir so operasie: ek was gesond en sterk, want my gewig het nog nie my organe beïnvloed nie. Ek is seker ek het vinniger herstel as my pa wat saam met my dieselfde operasie ondergaan het. Ek het nie siektes gehad soos diabetes of hoë bloeddruk, wat verband hou met vetsug nie. As ek so vet gebly het, sou ek vermoedelik later in my lewe hierdie siektes gekry het.
My jeugdigheid het daartoe bygedra dat ek geglo het my hele lewe sou verander as my gewig verander. Miskien sou ek meer realisties gewees het oor die resultate as ek ’n bietjie ouer was, maar dit was steeds vir my die moeite werd. Ek voel dikwels nog soos ‘fat girl’ in my kop, maar ek dink die feit dat ek nie heeltyd so voel nie is te danke daaraan dat ek so jonk was toe ek die operasie gehad het. Ek het 100 pond (45,35 kg) in ‘n jaar verloor, maar dit het my tien jaar geneem om 50 van dié 100 pond in my kop te verloor. Ek bly wonder of dit my langer sou neem as ek gewag het tot ek ouer en emosioneel volwasse was om die operasie te kry.

Jy praat in die boek baie daaroor dat jy steeds probleme met jou selfbeeld gehad het ná die operasie. Het dit intussen verander?

Dit het, hoewel ek nog heeltemal vrede moet maak daarmee. Ek het darem meer selfvertroue en is minder sensitief oor my lyf. My lewensmaat, Guy, het baie te make met hoe my houding die afgelope sewe jaar verander het. Sy konstante liefderikheid teenoor my lyf en sy onwrikbare ondersteuning het gehelp om my skanse af te breek en my selfvertroue op te bou. Deesdae ignoreer ek meestal my liggaam, dis ‘n groot verbetering van my obsessie met my liggaamsfoute. Soms, in sekere uitrustings en teen die regte hoek, kan ek selfs my liggaam waardeer. Ek hoop die volgende stap is om heeltemal gemaklik te wees met myself en om eendag regtig van my lyf te hou. Stappie vir stappie . . .

Was dit moeilik om so openlik oor jou persoonlike kwessies in ‘n boek te skryf?
Die skryf was nie moeilik nie, want ek was my eie gehoor! Gedeeltes waarmee ek gemaklik was, het ek aan my kritiekgroep vir my MA-graad gewys, maar buiten my lektor het niemand die dele waaroor ek selfbewus was gelees nie. My vriendin en eerste redakteur, Natalie Bank, het die eerste volledige manuskrip gelees. Eers nadat agente die manuskrip begin lees het, het dit werklik begin voel en toe die kontrak met die uitgewers geteken is, moes ek vrede maak daarmee dat vreemdelinge gaan lees oor die intiemste en rouste dele van my lewe – dit was te laat om kop uit te trek. Toe die resensies begin instroom, het ek eers regtig besef waarvoor ek my ingelaat het, en ja, dit was baie moeilik. Maar dit was ook bevredigend, want die reaksie van lesers was oorweldigend positief en ondersteunend.

Dink jy vroue is obsessief oor hul gewig en dat dit te ‘n groot rol speel in hul geluk?
Ja, en weer ja! Luister maar net na vroue se gesprekke en maak ‘n nota van elke keer dat gewig, dieet, oefen of voorkoms genoem word. Ek werk in ‘n kantoor saam met vroue van alle ouderdomme, groottes en persoonlikhede. Niemand dink dis vreemd dat ons soveel energie op ons lywe fokus nie, en dikwels is daai energie negatief en kom in die vorm van self-haat of commitments van om beter te doen. Ek wonder soms wat ons sal doen as ons nie so oorywerig besig is om oor ons gewig te pieker nie. Die afgelope jaar het ek geweier om myself te weeg en ek het bewustelik probeer om te fokus op hoe fiks ek voel en hoe gemaklik my klere aan my lyf sit. Ek was beslis minder angstig oor my gewig, maar of dié angstigheid dalk in ‘n ander aspek van my lewe manifesteer, weet ek nie! Dis ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Waar dink jy kom jou issue met jou gewig vandaan?
Die fisieke issue met gewig optel en sukkel om dit te verloor is ‘n kombinasie van genetika, ‘n suikertand en ‘n gebrek aan wilskrag (wat sterker moet wees juis oor die genetiese aspek). Dis moeilik om my emosionele kwessies oor my gewig aan een oorsaak toe te dig – ek dink baie daarvan kom van die gemeenskap wat die heeltyd maer wees as ‘n toonbeeld van voortreflikheid en skoonheid voorhou. Maar ek het ook ‘n natuurlike neiging tot angs en ligte depressie. Ek weet nie of dit as gevolg van my liggaamsbeeld-kwessies is en of dit daardeur veroorsaak word nie. Die feit dat ek oorgewig was, het in die eerste plek ‘n rol gespeel by my self-haat, maar ek ken net soveel maer vroue wat ewe venynig oor hul lywe is.

Hoe het jou gewig jou verhoudings met ander mense beïnvloed?
Dit het my skaam en sosiaal angstig gemaak – op hoërskool het ek net drie partytjies in vier jaar bygewoon, want ek was die heeltyd bang mense vra agteraf: “Wie het die vet meisie genooi?” Ek het om dieselfde rede nie ná skool saam met vriende op ander plekke gekuier nie. Ná my gewigsverlies het ek steeds baie van die angstigheid gehad en aannames gemaak oor hoe ander my sien. Ek was vriendelik en kon lekker gesels as iemand my eers genader het, maar andersins het ek probeer wegkrimp in hoekies waar ek kon wegkruip. Dit was vir my baie moeilik om eerste toenadering te maak. Dis steeds so, maar soos ek ouer word, is ek minder bekommerd oor wat mense van my dink.

Watter raad kan jy gee aan mense wat met hul gewig sukkel?
Fokus jou energie op jou gesondheid, nie op jou gewig nie. Dis belangriker om fiks en gesond te wees as om 2 kg per maand te verloor deur jouself uit te honger. Dis baie beter om ‘n oefenplan te volg en af te skaal op die gebruik van vette en suikers, sodat jy steeds gesond en lekker eet.

As iemand se gewig regtig ‘n gesondheidsrisiko inhou, dan is drastiese stappe moontlik nodig. Ek sal nooit gewigverliesoperasies aanbeveel sonder om iemand se agtergrond en leefstyl te ken nie, maar in my geval het dit my selfvertroue ‘n boost gegee en my gehelp om gesonder te word.

Die belangrikste ding is om negatiewe motivering (om te sê jy is vet sodat jy iets nie eet nie, om vir ander mense te sê jy moet jou vet lyf gim toe sleep en om op die vet op jou bobene te fokus sodat jy nog een squat kan doen) te vermy. Dis moeiliker as wat jy dink, maar op die ou einde doen dit meer skade as goed as jy so venynig oor jouself is.

Werk jy aan ‘n nuwe boek?
Nee. Op die oomblik fokus ek op my werk in die digitale afdeling van ‘n onafhanklike uitgewer in Londen, my verhouding, en om te herstel van hierdie eerste boek. Sodra my brein geregenereer het, belowe ek om ‘n nuwe boek aan te pak. Intussen blog ek steeds oor my liggaam by www.myearlobesstillfeelfat.blogspot.com en oor kos by www.linzersinlondon.blogspot.com, en soms oor skryf by www.annehputnam.com.