bea_potgieter
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Bea Potgieter

Blue Star & Lionheart is die storie van ’n jong meisie wat haar ouers verloor. Sy maak maats met ’n wit leeuwelpie wat haar leer om haar verlies te verwerk. Saam het hulle ’n avontuur van liefde, hoop en moed. Stephanie Gillet se illustrasies beeld die spesiale band tussen mens, dier en die aarde sterk en emosioneel uit.  Bea hoop die boek inspireer kinders én volwassenes om in harmonie met die natuur te leef. Sy het die boek self uitgegee en dit kan bestel word by www.publisher.co.za.

Wanneer het jy besef jy wil ’n skrywer wees?
Ek wou as klein dogtertjie altyd ’n joernalis, wildbewaarder of sielkundige word. Sielkunde was my eerste keuse, maar my liefde vir digkuns, boeke en diere het ek in my hart bly koester. As jongmens kon ek myself in die wêreld van boeke verloor. Ek het altyd ’n plekkie op ons plaas onder die bome uitgesoek om te lees. Daar het ek vry gevoel – ek was deel van die natuur en die groter wêreld. As kind het ek gedigte geskryf, so skryf was maar in my bloed. Ek sien myself nie juis as ’n skrywer nie, maar as iemand met ’n boodskap. Skryf is net een manier om dié boodskap aan die wêreld oor te dra.

Beskryf jouself.
Ek is gebore onder die Afrika-hemel en dié kontinent se hartklop pols deur my are. My kaal voete trap spore in haar vel. As kind het die bome en hul geveerde inwoners na my kinder-melodieë geluister. Die nagapies en blouape het ’n private gehoor vir my geheime wense geword. Ek is lief vir moederaarde se kinders. Vir my is hulle die allermooiste manifestasie van liefde en heilige energie. In die natuur voel ek die naaste aan die hemel en God se liefde. Ek voel na aan my eie wilde natuur wanneer ek saam met diere is. Ek is ’n dromer, geplant op dié aarde, ’n idealis met nugter denke, ’n reisiger op soek na waarheid.  Ek wil graag ’n beter wêreld vir my kind en almal, al die diere van dié wêreld sien. Dis my passie en roeping.

Hoekom het jy die boek geskryf?
Ek het ’n groot deel van my kinderjare op ’n wildreservaat gebly. Dit het ’n baie sterk invloed op my gehad. Hoewel ek uiteindelik sielkunde studeer het, het my liefde vir die natuurlewe en skryfkuns ’n lewendige droom in my hart gebly. Dis eers baie jare later dat ek my liefde vir die drie verwante velde kon kombineer. Ek was onbewus van die wysheid wat in die band tussen my, die natuur en diere lê. Ek hoop kinders sal die wysheid wat in die natuur versteek is, vind en koester. Die storie het ’n relevante boodskap vir Suid-Afrika wat, soos lande in die res van Afrika en die wêreld, ons natuurlewe kan verloor weens verstedeliking en wettige en onwettige jagbedrywe. As ons liefde en respek vir die natuur in kinders  kan kultiveer, kan ons ’n gemeenskap bou wat in harmonie met die natuur saamleef.

Hoe het die boek begin?
Tydens my eerste besoek aan die Global White Lion Protection Trust (www.whitelion.org) het ek tyd saam met dié pragtige wesens deurgebring en dis waar die idee vir die boek gebore is. Ek het eers nadat ek die volgende jaar van nog ’n besoek aan hulle in TSAU! teruggekeer het, my storie begin skryf. Ek het een oggend wakker geword en net die storie in my kop begin formuleer. Toe gaan sit ek voor die rekenaar en ek tik tot dit klaar is. Dit het maar 3 ure geneem.

Hoe het dit gebeur dat Stephanie Gillet die storie geïllustreer het?
Aanvanklik het ek nie geweet wat om met die storie te maak nie, maar ’n maand daarna het ek ’n gesprek met Stephanie gehad. Haar kunswerk het met my gepraat. Ek het ’n onskatbare talent in dié 18-jarige gesien en geweet sy moet die boek illustreer. Sy het nog nooit ’n kinderboek geïllustreer nie, maar dit het haar nie afgeskrik nie. Daar was ’n onmiddellike verwantskap in ons filosofieë en my visie vir die boek. Elke illustrasie is vooraf beplan, maar haar vermoë om my visie in die mooiste beelde te vertaal, het my steeds verbaas. Haar presiesheid, harde werk, toegewydheid en ryk verbeelding het dié boek ’n lewende werklikheid gemaak. Dit het 19 maande geneem om die illustrasies te voltooi. Omdat ek besluit het om self te publiseer, moes ek alles self befonds. Maar dit het nie saak gemaak nie. Die hele proses het sowat 22 maande geduur. Ironies genoeg is dit hoe lank ’n olifant dragtig is met haar kalf. Om die essensie van die boek te behou, het elke aspek sorgvuldige aandag gekry.

Wie of wat inspireer jou?
Die natuur en diere. Mense wat op ’n nederige, volgehoue, eerlike wyse ’n verskil in die wêreld wil maak, wat verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en eienaarskap vir hul lewens aanvaar.