img_8118
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Brett Michael Innes

Dié volksverhaal word al vir jare oorvertel en is so deel van die Suid-Afrikaanse kultuur soos melktert en koeksisters.

Of sy werklik bestaan het of nie, is nie vir Brett Michael Innes die punt nie. Die verhaal van dié jong heldin het hom so geïnspireer dat hy ‘n rolprent daarvan wil maak en dit in ‘n verhoogproduksie wil uitbeeld. Sy boek, Die verhaal van Racheltjie de Beer (Naledi, R149), het verlede jaar verskyn. Racheltjie se ma pleeg selfmoord en die gesin trek weg om ‘n nuwe lewe op ‘n ander plek te probeer maak. Haar pa is maar moeilik en die kinders word verbied om oor hul ma te praat. Op pad breek hul wa en word hulle gedwing om tydelik in die Oos-Vrystaat op ‘n plaas ‘n heenkome te vind, en dit is hier waar Racheltjie uiteindelik haar lewe opoffer vir dié van haar jongste boetie. Die verhaal is boeiend geskryf en jy kan byna die storie voor jou sien afspeel. Die roerende verhaal van Racheltjie de Beer het steeds trefkrag en sal seker nog lank in die volksmond voortbestaan. Ek het Brett Michael Innes per e-pos uitgevra oor sy boek, film en verhoogproduksie.

Waarom wou jy die storie van Racheltjie de Beer vertel?
Die storie het my altyd bygebly as kind en, toe ek dit 8 jaar gelede in filmskool weer onthou het, was ek werklik verras dat daar nog nooit ‘n rolprent daarvan gemaak is nie. Die verhaal het sulke pragtige visuele beelde in my kop opgetower dat ek dit net moes doen.

Hoeveel navorsing het jy gedoen om Racheltjie se bestaan te probeer vasstel en hoeveel vryheid het jy jouself veroorloof met die skryf van die verhaal?
Buiten die navorsing wat ek aanlyn en in biblioteke gedoen het, het ek ook met die navorsers by Erfenisstigting, asook ‘n genealoog wat ‘n boek oor die geskiedenis van die De Beers in Suid-Afrika geskryf het, gepraat. Hoewel almal gesê het die verhaal kan nie geskiedkundig bewys word nie, het hulle my gehelp, onder meer om seker te maak dat ek die Afrikanerkultuur van daardie tyd reg uitbeeld. Omdat ek ‘n Engelsman is, wou ek seker maak ek doen dit reg en vertel nie ‘n Engelse weergawe van die verhaal nie.

Jy vertel die boek het as ‘n draaiboek begin. Was dit moeilik om dit in ‘n roman te verwerk?
Ja, ek het die draaiboek ‘n jaar voor die roman geskryf. Ek voel die twee mediums komplementeer mekaar en ek kon die storie sterker uitbou met elke herskryf daarvan. Die draaiboek het ‘n fantastiese geraamte geskep vir die roman en al wat ek moes doen was om vleis daaraan te gee met die skryf van die roman. Ek wil dit so doen met al my toekomstige rolprente, want die roman laat my as rolprentmaker die wêreld van die narratief ontwikkel op ‘n manier wat die draaiboek nie toelaat nie.

Skryf jy altyd met die visuele in gedagte?
Ek is ‘n baie visuele storieverteller. My skryfstyl word beïnvloed deur dit wat ek in my kop sien en ook dit wat ek as ‘n rolprentmaker visualiseer. Dit help dat ek die plekke waar ons gaan verfilm besoek het voordat ek die roman geskryf het. Ek het dus nie nodig gehad om alles uit my duim te suig nie.

Hoe vorder jy met die reëlings vir film en die verhoogproduksie?
Ons is halfpad deur die pre-produksie met die doel om in Mei/Junie te begin verfilm, met 29 Februarie 2014 as die vrystellingsdatum. Die verhoogproduksie se rolverdeling is gedoen, musiek is in plek en die stelontwerp is byna klaar. Die verhoogproduksie begin in September by die Operateater van die Staatsteater in Pretoria.

Is al die akteurs al gekies?
Die verhoogproduksie is al gedoen en ons is halfpad met die rolverdeling vir die film. Daar is ‘n paar onontdekte, ongelooflik talentvolle mense in die ronde en dit was fantasties om hulle te ontmoet.

Jy is ‘n dokumentêre filmmaker. Waarom het jy so ‘n passie vir dié spesifieke genre?
Ek het in die media-afdeling van die kerk gewerk en deel van my taak was om kort dokumentêre video’s te maak van projekte waarby hulle betrokke was. Ek moes twee keer van Johannesburg na Suid-Soedan ry, sowel as na Mongolië, Sierra Leone, Liberië, Zimbabwe en Mosambiek. Ek het ook baie filmwerk gedoen saam met JAM, ‘n NRO wat voedingsprogramme het, en ek het in hul kampe vir ondervoede mense in Angola gewerk.

Vertel bietjie van jou projek, Peace on Paper, wat deur die Internasionale Emmy-toekennings gekies is as een van die top-10 van oor die wêreld wat ‘n kans staan om die Sir Peter Ustinov-prys te ontvang.
Die Internasionale Emmy-toekennings het ‘n toekenning vir skrywers van buite die VSA en my proefdraaiboek vir ‘n televisiereeks wat in ‘n vlugtelingkamp in Suid-Soedan afspeel was onder die top- 10. Ek is halfpad met die boek gebaseer op die draaiboek en beplan om dit in ‘n televisiereeks te ontwikkel.

Waar kom jou inspirasie vandaan?
Persoonlike ervaring, Suid-Afrikaanse geskiedenis van lank gelede, asook meer onlangs, ander rolprente en boeke. Om die vraag te vra: “Wat as dit gebeur?”

Jy het jou werk bedank en werk die afgelope twee jaar vir jouself. Was dit ‘n moeilike besluit en werk dit uit vir jou?
Dit was een van die grootste risiko’s wat ek geneem het, want ek geen finansiële backup gehad vir in geval dit nie uitwerk nie. Maar ek het my leefstyl afgeskaal en het al my energie gefokus op die ontwikkeling van die draaiboek en die boek, en het vertrou dat my leefstylbehoeftes bevredig sal wees. Te veel mense wil die vrugte pluk van groot risiko terwyl hulle die sekerheid van geld en konstante werk geniet. Ek kan die twee goed nie met mekaar sien saamleef nie, ten minste nie wanneer jy begin nie. Ek dink ‘n kunstenaar wat skep uit ‘n plek van worsteling, wat regtig moet baklei om sy stories gehoor te kry, skep iets wat baie werklik en pragtig is.

Wat is jou grootste droom?
Vir eers is my droom om op stel te wees en die verhaal van Racheltjie de Beer na die grootskerm te bring. My droom vir altyd is om presies te doen wat ek nou doen, maar om net op ‘n baie groter skaal in medewerking met internasionale talent en geld party groot Suid-Afrikaanse stories te vertel.