weer_geneem_deur_beaunitta_van_wyk
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Christo Gerlach

Agter die Skerms (Tafelberg, R165) is sy lewensverhaal waarin hy openhartig vertel van al die dinge wat verkeerd geloop het in sy lewe, sy dwelmmisbruik, sy verslawing aan voorskrifmedikasie, sy molestasie as kind. En sy ongelukkige verhouding met sy pa. Dis ’n emosionele reis, gestroop van alle tierlantyntjies en maskers waaragter hy sy lewe lank geskuil het. Soos hy self sê: ”As daar mense is wat dink dat die skrywer van ’n boek oor sy lewe egosentries is, kan ek met oorgawe getuig dat die teenoorgestelde dalk eerder waar is. Dis ’n daad wat jou stroop. Jy is skielik weerloos teen die aanslae van jou eie lewe, jou goed en sleg. Jy voer jouself vir die wolwe.”

Van openbare belangstelling is Gerlach maar te bewus, want hy was tydens sy loopbaan as akteur gereeld in die kollig en ook later as regisseur en vervaardiger van opspraakwekkende  televisieprogramme soos Glitterati en Tonge Los.

“Om ’n boek te skryf waarin jy jouself in ’n spieël sien verg helse eerlikheid”, sê Christo in sy boek. Ek het oor ’n koppie tee ’n paar eerlike antwoorde verwag op my ongemaklike vrae.

Waarom wou jy die boek skryf? Is jy by ’n keerpunt in jou lewe?

Toe ek deur my probleme en krisis gegaan het, het my liewe vriendin Irene van Wyk vir my gesê om ’n dagboek te hou. Ek het dit toe begin doen en dit was genesend. Saans het ek gesit en net geskryf. En toe het dit mettertyd gevoel of dit begin vorm aanneem. Ek het dit geskryf met die idee van ’n boek, maar een wat mens in die onderste laai wegsit. Ek wou nie eintlik my familie blootstel aan publisiteit nie, want hulle kom van ‘n klein dorpie af. My broer en suster is baie jonger as ek. My suster bly in ‘n klein gemeenskappie. Daar’s goed in waarvan my suster nie geweet het nie. Ek het my boek net aan die uitgewers gestuur as ‘n soort intellektuele oefening. Maar ek het besef as jy vir die eerste keer in Afrikaans ‘n klomp groot “nees” aan die groot klok hang, kan dit dalk ander mense help. Mense sê altyd kindermolestering is verskriklik, maar die oomblik as hulle dit swart-op-wit sien, deins hulle terug. Dis presies wat met my gebeur het met die hoofstuk oor die stasievoorman wat my as kind gemolesteer het. Die uitgewers was benoud daaroor en wou dit sagter maak, maar kindermolestering is nie sag nie.

Jy is as kind deur  ‘n familievriend gemolesteer. Hoe het dit jou uitkyk op die lewe beïnvloed?

Dit was die eerste keer dat ek, afgesien van my pa met wie ek van kleins af nie ‘n verhouding gehad het nie (ek het altyd verwerp gevoel deur hom), werklik die gevoel van verwerping ervaar het. Die dag toe die familievriend weggeloop het, het ek verwerp gevoel. Ek het skuldig gevoel. Wat het ek verkeerd gedoen dat hy weg is? My hele lewe het ek gewonder oor hierdie man. Het hy kinders? Wat het van hom geword? Ek dink daar was ’n band tussen ons. Mense vra altyd of dit is hoekom ek gay geword het. Ek dink nie so nie. Ek dink die gay-geen was maar altyd daar. Hy het my op ’n baie jong ouderdom seksueel bewus gemaak. Jy kan self dink watse skuld gaan saam met enige seksuele bewustheid, veral op so jong ouderdom.

In die inleiding  skryf jy “want ek haat my pa”. Het jy ’n moeilike verhouding met jou pa gehad?

Ek het gedink die boek sou my genees, want hierin het ek alles gesê. Ek het gesê ek haat hom. Teen die einde, voor sy dood, was daar ’n wapenstilstand tussen ons. Maar ons het nooit daaroor gepraat nie. Daar was baie onopgeloste sake. En toe hy so skielik en gewelddadig in ’n motorongeluk sterf, het ek die pad byster geraak. Ek het baie gehuil, ek het die boek geskryf en weer gehuil. Ek het met mense daaroor gepraat. Ek sukkel daarmee, ek het ’n issue met my pa. Ek het altyd die idee gekry my pa is effe jaloers op die verhouding tussen my en my ma.

Uit die boek blyk dit jy het ’n baie hegter verhouding met jou ma gehad. Is dit so?

Sy was nie ’n goeie ma nie, maar sy het haar kinders baie liefgehad. As ek nou terugdink, besef ek ’n ma en ’n pa moet net dáár wees vir hul kinders, dan is 80% van die stryd gewonne. My ma was ’n neurotiese vrou. Sy was ’n baie sterk vrou, ’n sakevrou. Ek dink sy was die tipiese Freudiaanse ma. Sy was intens lief vir my. Ek het ’n nou band met haar gehad.

Het jy van kleins af geweet jy is anders?

My ma was so bietjie van ’n fag hag, sy het verskeie flambojante vriende gehad. Maar daaroor is ook nooit gepraat nie. Sy was ’n bobaas-blommerangskikker en hulle het saam met haar gerangskik. Dan het ek hierdie kamp mans beskou en gedink ek is eintlik soos hulle, maar ek sal hulle wys ek sal nie so wees nie.

Jy vertel hoe jy jou eerste liefdesverhouding wat op universiteit begin het, moes wegsteek. Hoe was dit?

Dit maak dit op een vlak baie intens, want jy kan dit net met hierdie persoon deel. Terselfdertyd is daar die skuldgevoel en die leuens wat daarmee gepaardgaan, want of jy nou daarvan hou of nie, lieg moet jy lieg. As jy vir ander mense moet lieg oor waar jy die vorige aand was, word alles op die ou einde ’n hele lieg-spul. Ek was verskriklik lief vir hom. Ek het gevoel ek verdien hom nie.

’n Tema wat in jou lewensverhaal deurkom is dat jy voel jy verdien nie goed nie, so asof jy verwag dat jy gestraf moet word, dat die lewe jou moet klap. Is dit so?

Deur my hele lewe het nog altyd undeserving gevoel. As ek deur skool geseil het, dan het ek gedink daar’s iets fout, dan het ek sommer die volgende kwartaal sleg gedoen. Later het ek altyd gevoel ek is nie so goed soos iemand anders nie en ek het nie ge-cope nie. My hele lewe lank het ek gevoel ek is nie goed genoeg nie. En dis in my verhoudings ook so, dan het ek mense gekies wat . . . Ek kan nie regtig vir jou sê waar ek vandaan kom nie. Ek het ook nie goed genoeg vir God gevoel nie. Veral ook omdat ek gay is. Ek was ook bang vir God. Ek het gedink God sal my aanvaar as ek nie ’n losbandige lewe ly nie en daarom het ek ook net vaste verhoudings gehad.

Jy skryf in jou boek: “Om ’n gay man te wees is nie vir sissies nie. Om ’n boek oor jou lewe te skryf is nie vir sissies nie. Ek moes laat in my lewe leer om ’n man te wees, en manwees is nie vir sissies nie.” Hoe moeilik was dit vir jou om dit wat jy geskryf het in druk te sien?

Ontsettend moeilik. Om die boek te skryf was ’n commitment. Ek kan nie nou meer ’n senuwee- ineenstorting hê nie, ek kan nie ’n dealer bel en vra vir coke nie. Dit sal ’n betrayal van myself wees. Om op skrif te sê ek glo in Jesus, dis ’n commitment. Ek weet ook nou ek hoef nie perfek te wees nie. Ek mag ook foute maak. Ek mag my humeur verloor, en ek mag maar vloek. Ek het ook besef ek is nie so uitsonderlik nie. Wat met my gebeur het, het al met soveel ander mense gebeur.

Jy het in jou lewe dikwels agter maskers weggekruip en sê jy het oor sekere dinge ’n selektiewe geheue?

Ja, ek het. Ek was so besig om karakters te speel dat toe ek uiteindelik ’n akteur op die professionele verhoog word, ek deur soveel goed moes werk om by die verhoogkarakter uit te kom dat dit ’n nagmerrie was. Het ons nie maar almal ’n bietjie van ’n selektiewe geheue nie? Ek het goed toegesmeer. As jy die hele tyd fronte voorhou en karakters speel, word dit baie uitputtend. Jy moet tred hou. Jy verloor absoluut jouself in die proses. Ná ek uit die hospitaal gekom het, en vir die eerste keer op my eie by die huis was, moes ek myself weer vind. Ek het gevoel ek is weer gebore. Ek kon vir die eerste keer na myself in die spieël kyk en oukei wees met myself. Ek het my siel blootgestel in hierdie boek. Ek is nie meer skaam vir my lewe nie. My hele lewe lank was ek skaam – vir myself, vir my lewe, vir my seksualiteit, vir my acting, vir my regie . . .vir my molestasie . . . Ek het baie foute gemaak. Ek kan nie meer agter molestering, ‘n liefdelose pa, depressie en verkeerde medikasie skuil nie. Ek kan nie vir die res van lewe daaragter skuil nie. Ek is nou oukei.

Wanneer het jy  uiteindelik uit die kas gekom?

Ek was tot so agt/nege jaar gelede nog geneig om te lieg oor my seksualiteit, om stil te bly en dit net nie bekend te maak nie. Ek het baie keer gevoel dis my private lewe, dit het niks met iemand te doen nie, maar dit was op ’n manier ’n leuen. Ek en my ouers het nooit oor my seksualiteit gepraat nie. Natuurlik het ons nooit daaroor gepraat nie.

Die pad vorentoe vir jou?

Dis ’n pad van genesing. Ek is op ’n kruispad wat my beroep aanbetref. Ek is tot stilstand gedwing en ek moes my duiwels in die oë staar. Ek het ’n ongelooflike kalmte oor my. Dit beteken nie dat ek lamlendig is nie.

  • Annatjie

    Christo, jou boek is dapper en eerlik. Ek het dit baie waardeer dat jy bereid is om jouself so weerloos te maak. Dankie dat jy dit wel publiseer het.

  • Lynette

    Baie roerend. Bravo, Christo!

  • Elize

    Om van ‘n mens se eie gebroke lewe te skryf verg baie moed maar om dit so goed te doen verg talent. Dankbaar dat jy dit mens ons deel..

  • christine potgieter

    Christo, slegs as n mens alles so oor jouself in die openbaar bekendstel, (wat so verskriklik baie van n mens verg) kom daar aanvaarding en begin die mense rondom jou jou verstaan en aanvaar, soos baie dinge soos gay, wees, depressie ens was altyd in die verlede "iets was waaroor daaroor nie gepraat word nie" maar sodra mense soos jy en ek daaroor praat besef die res van die wereld dat hulle nie alleen staan in hulle verskeie omstandighede nie dat daar baie mense soos ons en in my geval my kind is…dit laat mense vry voel om daaroor te praat en te gesels en raad te vra, mense te verstaan en te besef hulle is nie alleen op aarde nie!! Dankie dat jy bereid was om dit met almal te deel, jy maak die pad vir ander mense wat daar deur gegaan het, soveel makliker, sterkte aan jou my ou skoolpel en hou jou kop omhoog, vorentoe sal dit net beter gaan met jou!!xxx

  • anita de la porte

    baie beslis die beste biografie wat werklik oop…eerlik is gelees….nie vir die waarde van geld vir so ‘n boek nie maar vir genesing en vryheid kry…closure kry….ek het die toevallig in ‘n boekwinkel opgetel …gekoop en nie neergesit voor ek klaar is nie….en ek het eerlik nie sy naam en van gekoppel aan die TV en al die flieks nie…ek en hy is tydgenote…so ja dit is deel van my boekrak en dit het vir my bbbbaie lewenlesse oopgemaak…..

  • Sonja

    Christo,

    Ek is Sonja van facebook. EK kon ongelukkig nie jou inbox antwoord nie as gevolg van ‘n spam report wat ek net kan dink deur wie dit gerapporteer is. Dit daar gelaat. Ek kon net ‘n deel lees van jou mail aan my.

    Indien jy my sou wou privaat mail is jy welkom en ek is nie skaam om dit hier vir jou te gee nie : sonjabrooks2@hotmail.com

    Jou boek klink baie intersant en ja dit is half of jy ook my lewens verhaal geskryf het. Die omstandige hede klink so bekend dit maak my skoon bang. Mens dink altyd dit is net met jou wat sulke goed gebeur….Om terug to kom tot die eintelike rede dat ek hier met jou kontak maak is dit: Ek het NIE daardie dinge op fb gesit nie en neem dus nie verantwoordelikheid daarvoor nie. Ek is net geskok dat jy my in public so kon swart smeer….

    Sterkte met jou boek