FOTO: Tim Burrough

Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Elaine Proctor

Sy het ’n sterk band met haar vaderland en wil eendag permanent terugkom, maar haar man se beroep hou hulle op die oomblik in Engeland. Sy sê daar is geen leerskool waar jy soveel kan leer soos uit Suid-Afrika en sy mense nie, en vir haar as skrywer, is dit goud werd.

Dié filmmaker het onlangs gedebuteer met Rhumba (Quercus, R194), ’n boek oor ’n ontwortelde gemeenskap van wettige en onwettige immigrante in Londen. Die 10-jarige Flambeau is deur smokkelaars na Londen gebring waar hy saam met sy oom en tante en hul kinders in ’n buurt vol Kongolese immigrante woon. Sy ma is veronderstel om ook ingesmokkel te word. Flambeau wag tevergeefs en wanneer sy nie opdaag nie, is hy ook nie meer welkom by sy oom en tante nie. Hy raak betrokke by Knight, ’n lakei van die smokkelbaas. Knight is ’n sapeur (Frans vir iemand wat modieus aantrek) en hou homself agter sy baas se rug besig met allerhande ander klein bedrogspulletjies om sy eie geld te maak. Hy is in ’n verhouding met Eleanor, ’n Skotse meisie wat ook ’n vreemdeling in Londen is. Hulle twee ontferm hulle oor Flambeau en help hom na sy ma soek.

Dis ’n verhaal oor desperate mense wat geen vooruitsigte in die lewe het nie. Tog is dit op so manier geskryf dat jy empatie met hulle en hul ellendige omstandighede het. Jy bly ook saam met hulle hoop op ’n beter lewe. Die boek het my verskeie male in trane gehad, omdat dit ’n emosionele en eg menslike verhaal is. Ek het met Elaine Proctor gesels oor waar hierdie verhaal vandaan kom.

 

Rhumba gaan oor ontwortelde mense uit die Kongo wat ‘n heenkome in Londen vind. Waarom hieroor skryf?

Jy kan nie in Johannesburg grootword en nié weet van ontwortelde mense nie. Op die mees alledaagse vlak is dit die vrou wat in jou huis werk en wat nie by haar eie kinders is nie. Dit was nog altyd vir my ontstellend en ’n onregverdige situasie, ten spyte van die ironie dat jy daardie mens nodig het om na jou kinders om te sien, terwyl sy nie na haar eie kinders kan omsien nie. Ná ek Londen toe is, het ek die voorreg gekry om vir ‘n televisiemaatskappy enige projek waarvoor ek lus was, aan te pak. Ek was toe reeds bewus van die toenemende getal immigrante op straat – hulle was nie Suid-Afrikaans nie. Ek was nuuskierig oor die mense en het vir ses maande navorsing gedoen in die Kongolese gemeenskap. Dit was nie maklik om as buitestander in dié gemeenskap inligting te versamel nie. In hierdie tyd het daar iets in my kop vasgehaak wat nie wou weggaan nie. Dit het te make met die weerloosheid van hierdie mense, hulle is nie immigrante nie, hulle is onwettige immigrante. . .

Een van die temas in jou verhaal gaan oor onwettige mensehandel. Dis ironies dat jou karakters (al word hulle onwettig Engeland toe geneem) uitsien na ’n beter lewe – net om ontnugter te word.

Daar is giftige verbintenis tussen die mensehandelaar en die arme mense wat gesmokkel word, want hulle is nooit beter daaraan toe nie. Die enigste rede waarom Flambeau na sy beloofde bestemming geneem word, is omdat die handelaar agter sy ma aan is. Dis die mees Shakespeariaanse soort bedrog. . . Daar is ’n totale gebrek aan barmhartigheid teenoor die slagoffers.

Toe ek aan die verhaal begin werk het, het ek geweet ek moet binne die raamwerk van die verhoudings bly, sonder om kommentaar te lewer op die aaklige stand van sake in die Kongo of op die Westerse wêreld se onvermoë om daar betrokke te raak. Net dan kan ek vasklou aan die hartslag van die verhaal. Ek het ‘n geleentheid om Kongo toe te gaan van die hand gewys, want dit sou dalk my gevoel vir my karakters se verhoudings vernietig het.

Was jy bang jy kon ontgogel word in die Kongo, omdat jy met fiktiewe karakters werk en daar sou jy gekonfronteer word met werklike mense wat nie voldoen aan die hoë eise van jou karakters nie?

Daar is dit. Maar daar is ook die uiterstes van die Oos-Kongo. Ek sou saam met ’n menseregte-groep gaan en dit sou my storie doodvee, bloot oor die hoeveelheid vroue wat verkrag is en die onmoontlike situasie rakende politieke korrupsie. Ek was só intens betrokke by my boek en die karakters dat ek myself net glad nie in daardie situasie wou plaas nie. Ek wou nie my storie laat ontspoor nie.

Jy het die boek eers  as ‘n draaiboek vir ‘n rolprent geskryf. Wanneer het die oorgang van draaiboek na boek gebeur?

‘n Paar jaar nadat ek probeer het om die film te maak. Daar was ‘n paar pogings om die film te maak, maar dit het nooit van die grond af gekom nie. En met elke poging was daar ‘n kleiner begroting, minder hulpbronne, minder ondersteuning. Op ‘n dag het ek net besluit: genoeg! Ek gaan die draaiboek in ‘n boek omskep. Ek het nie ‘n benul gehad van hoe om ‘n boek te skryf nie, maar het bloot weggespring en begin. Ek is deur ‘n goeie vriendin voorgestel aan ‘n redakteur wat in daardie stadium pas “The God of Small Things” deur Arundhati Roy geredigeer het. Ons het vir byna ‘n jaar aan die manuskrip gewerk, dit toe aan my agent oorhandig, wat toe die kontrak met die uitgewer gesluit het. In ons wildste drome het ons nie verwag om binne vier dae ‘n uitgewer vir Rhumba te kry nie!

Die fassinerende ding van die oorgang van film na boek was dat die storie dieselfde gebly het. Die wyse waarop dit vertel word en die taal waarmee die verhaal vertel word, het ‘n reis ondergaan; ek kon ‘n taalkundige parallel vind wat pas by die hart van die storie. Dis nie Engels soos wanneer jy Jane Austen lees nie, ook nie alledaagse Afrika-Engels nie, maar ‘n soort bastertaal wat vir my reg geklink het.

Waarom word die storie grotendeels deur Flambeau vertel, uit sy oogpunt?

Dis interessant, want hy is nie die hoofverteller nie. Hy is wel die protagonis, die mens wat alles laat gebeur. Hy moes sy ma vind en daarom moes hy mense om hom versamel wat hom hiermee kan help. Dis dan wat hy doen, hy begin al die aksie. Die oogpunt van die boek, in my opinie, is anders. Dit kan dié van Flambeau wees, én die van Knight, asook Eleanor s’n. Die karakters leer so verskillende dinge oor mekaar. Wanneer daar ‘n suiwer oogpunt is, gebeur dit nie, want jy het net een bepaalde manier van kyk.

Watter rol speel die musiek in hierdie verhaal?

Die interessante ding van rumba-musiek is dat dit nie verbaal is nie, en dís ‘n groot voordeel in die storie. Al kan jy die musiek nie hoor nie, kan ek die toneel so skryf dat daar steeds ‘n samesmelting, ‘n herkenning en ‘n verlange tussen die karakters plaasvind deur die musiek. Die musiek verteenwoordig ‘n aar waardeur bloed pomp en dié aar is die lewensbloed wat die karakters met mekaar verbind, maar ook met die verlore ma wat deur die musiek aan die lewe gehou word. Sy bly teenwoordig, al is sy fisies nie daar nie, want Flambeau onthou die verhouding wat hulle gehad het deur die musiek wat hulle gedeel het. Eleanor, wat nie heeltemal aan die aar verbind is nie, is desperaat om te wees. Vir my is die musiek die hart van die verhaal.

Eleanor is ook ‘n vreemdeling in Londen wat met ander vreemdelinge verhoudings opbou, soos haar verhouding met Knight. Het jy dit so beplan?

Nie regtig nie, maar dit het so gebeur en dis reg vir die verhaal. Ek stel nie belang in karakters wat gemaklik is in gevestigde situasies nie. Eleanor kom uit ‘n plek van hartseer, en bietjie wanhoop en eensaamheid, maar sy het ‘n hegte verhouding met die natuur want sy kom van die noorde van Skotland. Sy gaan Londen toe om ‘n nuwe lewe te begin, omdat haar ma haar verwerp het ná haar pa se dood.  Daar vind sy mense wat onweerlegbaar en onuitstaanbaar lewendig is, omdat hulle al deur soveel is. As hulle verpiep was en ‘n tingerige band met die lewe gehad het, sou hulle nie ‘n doel vir haar dien nie. Met haar gewone en alledaagse graad van hoop ontmoet sy hierdie gekwelde mense wat ‘n epiese graad van seer het. Dis ‘n seer wat sy nooit sal voel nie, want sy sal nooit opgeblaas word deur soldate nie of in die gesig gestaar word deur onbillike boosheid nie. Tog het sy die vermoë om hierdie mense lief te hê en om hul weerloosheid te verstaan, want sy verstaan haar eie weerloosheid. Hulle klou aan haar op ‘n manier wat ‘n bloedlose, kil Engelse mens nie sou nie. Dis haar behoud.

Flambeau se oom en tante diskrimineer teen Knight, al probeer hy Flambeau help. Waarom?

Knight het geen pad in die Engelse gemeenskap in nie. Hy is ‘n onwettige immigrant. Hulle, daarenteen, is ‘n familie wat aansoek doen om amnestie. Hulle kan enige oomblik ware Britse burgers word, wat wettig kan werk en ‘n nuwe lewe kan begin. Dis nie Knight se vooruitsigte nie. Dit maak hom eintlik brawer, want hy het baie minder om te verloor. Wanneer hy Flambeau sien, wik en weeg hy of hy wel by hom wil betrokke wees. Daar is tog ‘n resonansie tussen hulle, want Flambeau herinner Knight aan sy eie verlede en die verlies van sy eie ma. Snaaks genoeg is Knight die karakter met die meeste skade, maar juis daarom is hy ook die beste een om die rol van redder te vertolk. Dis vir hom moontlik om liefde en verlossing te gee. Nie een van die ander kan nie, want hulle is opgesluit in hul eie struwelinge en ambisie om te behoort. Hy het geen illusie dat hy kan behoort nie. Die enigste plek waar hy hoort is in die vernietigende verhouding met sy baas, die mensesmokkelaar.

Waarom het jy Flambeau en sy ma mekaar aan die einde van die verhaal laat vind?

Dit het vir my geloofwaardig gevoel dat hulle moet ontmoet. Dis ook die uitkoms van ‘n absolute desperate situasie waarin twee mense wat in slawerny in verkoop is wel gered word, want hulle kan nog lief hê en ‘n verbintenis  met mense hê. As Flambeau nie vir Knight en Eleanor gehad het nie en hy was stoksielalleen, sou dit nie geloofwaardig wees nie. Maar hy het hulle gehad om hom te help.

Wat het die skryf van hierdie boek vir jou beteken?

Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het eendag gesit en skryf en so na ‘n sin gekyk en instinktief gedink die kunsdepartement gee nie om hoe goed hierdie sin geskryf is nie. Al wat hulle wil weet, is waar die lig gaan wees, en hoeveel lig. Toe besef ek die mens vir wie hierdie boek bedoel is, gaan hierdie woorde lees. Die oorgang van film na boek was groot. Ek voel of ek tuis gekom het met boeke skryf.