Lewe + Liefdes

5 Boekminute met Elizabeth Noble

Sy beskryf haarself as ‘n skrywer wat deur paniek gedryf word. Tog is sy gek na skryf, al het sy eers begin om boeke te skryf nadat haar kinders gebore is. Sy skryf ook die soort verhale wat sy self graag lees, oor emosionele kwessies wat vroue raak en waarmee sy kan identifiseer. Sy skryf vir vandag se vrou wat daarvan hou om ‘n bietjie te huil en om ‘n bietjie dieper oor die lewe te dink wanneer sy ‘n boek lees. Maar heel eerste wil sy lesers vermaak.

Haar jongste boek, Between a Mother and Her Child (Penguin, R195), vertel van die familie Bartlett en wat gebeur wanneer die oudste seun tydens sy oorbruggingsjaar in die tsoenami in Thailand omkom. Hierdie tragedie raak ma Maggie, pa Bill en hul tienerdogter, Aly, en kleinboet, Stan, verskillend. Bill en Maggie dryf al hoe verder uitmekaar, want Jake se dood was die strooihalm wat die kameel se rug gebreek het. Bill gaan Thailand toe om sy verlies te verwerk en gaan daarna vir terapie, terwyl Maggie haarself emosioneel afsny van almal behalwe haar suster Olivia wat in Australië woon. Olivia kom kuier dan by Maggie in Engeland om te probeer om Maggie te help om weer aan te gaan met haar lewe. Sy reageer op ‘n advertensie waarin ‘n vrou soek na ‘n gesin wat sy kan versorg, nie omdat sy die geld nodig het nie. Olivia huur vir Kate om oor te neem by haar wanneer sy moet terug gaan na Australië.

Die komplekse verhaal fokus op die impak wat die dood op die lede van ‘n gesin het en ondersoek al die interpersoonlike verhoudings. Ek het met Elizabeth gesels oor waarom sy juis oor verhoudings skryf.

 

Waar woon jy?

Ons het die afgelope vyf jaar in New York gewoon, maar ek en my dogters is nou weer tuis, terug in Brittanje. My man werk steeds in New York. Ons pendel tussen die twee stede. New York was ‘n fantastiese avontuur, maar dis nie huis nie. Dis lekker dat my ouers, familie en vriende nou weer naby is. Daar is mense wat heel gelukkig is sonder wortels. Toe ek ‘n kind was, het ons baie rondgetrek en my suster is heel gelukkig om so rond te swerf. Ek is nie so nie. Ek hou van reis, om te sien, te ervaar en dan huis toe te gaan. Ek wil beslis meer wortels hê, ook vir my kinders.

Daar is nogal ‘n ooreenkoms tussen jou en Maggie, wat dit aanbetref. Sy is oorspronklik van Australië en het saam met Bill geëmigreer na Engeland en gaan ná haar egskeiding terug na Australië.

Sy volg haar hart. Maggie is ‘n vreemdeling. Wanneer haar lewe in duie stort, skeur die klein krakies wat die afgelope twintig jaar in haar huwelik was oop. Al die ander goed wat verkeerd is, kom dan na vore. Hoofsaak is, sy is nie waar sy vandaan kom nie.

Jy skryf oor ‘n hele klomp verhoudings in hierdie boek, maar so ook in jou ander boeke. Waarom fokus jy so sterk op verhoudings?

Dit interesseer my. Skrywers het verskillende motiverings. Party skryf oor plek, ander oor geskiedenis en ervarings. Ek word aangetrek deur stories wat fokus op verhoudings en emosie. Dis waaroor ek graag lees en waaroor ek ook skryf. Vir my gaan dit oor die manier waarop interaksie tussen mense plaasvind en dis ook hoe jy ‘n komplekse storie kry. Ek hou daarvan om ‘n storie te skryf waarin meer goed gebeur wat die verhaal vorentoe dryf.

Sou die feit dat Maggie en Bill moes trou en dat sy haar ambisie as swemmer moes opgee uiteindelik ‘n wig tussen hulle gedryf het, selfs as Jake nie gesterf het nie?

Miskien nie. Ek dink dis Theroux wat gesê het: “The mass of men lead lives of quiet desperation.” Dis beslis melodramaties, en beteken ‘n hele spul mense gaan deur die lewe sonder om heeltyd te ondersoek hoe hulle voel. Dis moontlik ‘n goeie ding, want as  almal hulself die hele tyd oorgee aan selfondersoek, sal daar chaos wees. Binne ‘n huwelik is  allerlei klein krakies en wat ‘n tragedie doen – en Maggie beleef een – is om ‘n lig daarop te skyn sodat dit in die ope kom. So Maggie het haar swemdrome en haar tuiste opgegee, sy is weg van haar suster – die mens vir wie sy die liefste is buiten haar naaste familie. Dis die een ding. Dan is daar Maggie en Bill se uiteenlopende opinies van hoe hulle hul jongste seun se leerprobleme moet hanteer; hulle reageer verskillend op die rouproses; hulle reageer verskillend op die feit dat hulle meer geld het en hoe dit bestee moet word. Soos hulle ryker word, wil Bill meer spandeer, maar Maggie wil net bly waar sy is. Al die klein krakies is besig om na vore te kom, maar dis die groot tragedie wat hul verhouding verwoes. Was dit nie vir Jake se dood nie, sou hulle vir jare maar so aangekarring het.

Waarom het jy iets soos die tsoenami gekies om as katalisator te gebruik, want dis so ‘n groot gebeurtenis?

Daar is ‘n paar dinge te sê oor die tsoenami. Ek was bekommerd om daaroor te skryf, want dit is ‘n werklikheid in baie mense se lewens. Om dit in fiksie te gebruik is ‘n verantwoordelikheid, want ek wou dit nie verkeerd kry nie. Suiwer uit ‘n skryfoogpunt wou ek hê Jake se dood moet deel wees van iets groots. Dis eintlik nie so ongewoon dat kinders iets oorkom in hul oorbruggingsjaar nie. Daar is iets aan die kombinasie van om weg te wees van die huis af en om jonk, onnosel en onoorwinbaar te wees en om risiko’s te neem. Dit hou dikwels verband met drankmisbruik of verkeersongelukke. Maar vir my perspektief wou ek hê sy dood moes deel was van iets groters, ‘n teleskopiese oogpunt. Vir Jake se gesin gaan dit net oor Jake, maar vir duisende ander mense was Jake se dood onbeduidend. Aan die ander kant is daar die ding dat mans voel hulle moet alles kan regmaak. Vroue soek nie altyd ‘n oplossing nie. Bill benader Jake se dood en sy eie rouproses ook so. Hy gaan Thailand toe en spandeer tyd daar. Dis in skrille kontras met Maggie wat onttrek en vasgevang raak in haar pyn.

Hoe het jy navorsing oor rou gedoen?

Ek praat van ‘n hiërargie van rou. Byvoorbeeld, as Jake ouer en getroud was, sou sy vrou die hoof rouklaer wees. ‘n Jong weduwee sal moontlik ook weer trou. Vir ‘n ma is die dood van ‘n kind anders. Sy sal nooit weer daai kind hê nie. Daar is ‘n inherente spanning in die hiërargie van rou. Ek wou skryf oor Aly wat as ‘n tiener al die normale tienerprobleme ervaar, maar wat probeer om haar rou te onderdruk. Sy het gevoel sy is minder geregtig om te rou as haar ouers. Sy wil haar ouers se verhouding regmaak. Sy onderdruk dus haar gevoelens en hanteer dit glad nie. Ek wou ook weet waarom Maggie, ‘n liefdevolle ma, so begrawe word in haar eie lyding dat sy nie eens haar dogter kan help nie. Ek het wyd gelees oor dood en die rouproses en besef ‘n mens kan nie veralgemeen oor rou nie. Elke mens ervaar die proses anders en dit bring sy eie probleme in ‘n verhouding. Statisties is die kanse dat ‘n huwelik skipbreuk ly in die aangesig van so ‘n monumentale rouproses baie goed. Dit maak sin vir my.

As Jake nie gesterf het nie, sou Aly ‘n ander soort verhouding met haar gesin hê, maar nou is dit byna asof sy oorbodig voel?

Sy is verward. Sy is lief vir haar broer, maar was terselfdertyd afgunstig op hom en het byna ‘n wrokkigheid jeens hom op ‘n verwronge tienermanier. Die gevoelens is steeds daar ná sy dood, want hy is perfek in tyd gevries. Daar is nie ‘n manier hoe sy hom ooit in enige wedstryd kan klop nie. Ek wou skryf oor ‘n tiener se probleme, maar nie oor dwelms en drank nie, en sy verbreek ook nie regtig reëls nie, maar sy is ‘n gemors by die huis. Ten spyte daarvan kry sy steeds A’s en dis die gevaarlike soort tiener.

Hoe benader jy die skryfproses, beplan jy jou karakters en gebeure voor die tyd of kom daar goed op wat selfs vir jou verras?

Dis so ‘n bietjie van albei. Ek begin met die karakters. As ek weet wat die kern van my verhaal is, skryf ek uitgebreide notas oor al my karakters, al gebruik ek nie die inligting nie. As jy wil weet watse musiek Aly op haar iPod het, kan ek jou sê, want dis in my notas oor haar. Dít maak haar ‘n mens van vlees en bloed vir my. Ek dink altyd aan die skryfproses soos ‘n resep. Ek weet waar ek begin en ek weet waar ek eindig. Ek skryf baie kere die einde net nadat ek die begin geskryf het. Dit verander soms ‘n bietjie, na gelang van hoe die verhaal verloop. Ek het geweet Maggie gaan op daardie vliegtuig klim. Dis in die middel waar die storie draaie loop. Partykeer máák jy dit gebeur en ander kere gebeur dit net. Die verhaal is ‘n bestemming, ek weet waarheen my skip vaar, maar nie noodwendig watter roete dit gaan volg nie.

Waar het die storie vir jou begin, by Kate of by Maggie?

Ek het jare gelede ‘n advertensie uit die koerant geknip. Dit was die een wat Kate geplaas het. Ek wou weet waarom ‘n volwasse, gesonde, onafhanklike vrou, wat haar eie geld het, ‘n gesin soek om lief te hê – dis wat die advertensie gesê het. Ek het dit vir jare saam met my gedra en gewonder hoe ek ‘n storie daarom kan bou. Kate speel op die ou einde ‘n kleiner rol in die boek as wat ek gedink het sy sou, omdat hierdie gekompliseerde Bartlett-familie haar oorweldig het. Daar was baie dae dat ek gewens het ek het nooit die verhaal begin nie, want dis pynlik om te skryf oor ‘n ma wat ‘n kind verloor. Ek is ‘n ma en ek moes elke oggend opstaan en my in Maggie se skoene plaas en dit was hartverskeurend. Wat die dood van ‘n kind so erg maak, is dis nie die normale orde van hoe dinge moet gebeur nie. Ou mense moet eerste sterf, nie kinders nie. Dis so verkeerd.

Kate wil ‘n gesin hê om lief te hê, maar dis ironies, want sy het ‘n gesin met wie sy geen verhouding het nie. Hoe het dit gebeur?

Kate kan eintlik haar eie boek hê. Haar storie dien sy doel in hierdie verhaal, maar daar is nog baie goed wat nie oor Kate gesê is nie. Die idee dat jy kan wegstap van jou eie gesin en nie eens probeer om die bande te herstel nie en daadwerklik gaan soek na ‘n nuwe gesin is nogal nie tipies vrou nie. Dit fassineer my van haar en sy het eintlik haar eie boek nodig waarin alles op die lappe kan kom.

Stel jy belang daarin om ‘n opvolg te skryf, want die storie eindig nie regtig wanneer Maggie op die vliegtuig klim nie?

Maggie is beslis nog nie heel nie, maar sy gaan huis toe. ‘n Opvolg sal gaan oor wat verder met haar gebeur. Ek het nog nooit voorheen ‘n opvolg geskryf nie, dis nie deel van my styl nie. Hierdie is my sewende boek. Toe ek my eerste boek geskryf het, wou ek die einde baie mooi netjies afrond, met geen los drade nie. Ek het bewustelik probeer om in my volgende boeke minder presies te eindig, want die lewe is nie altyd so netjies en afgerond nie.Vir ‘n leser is dit ook meer bevredigend as daar meer vrae is oor wat volgende gebeur. Hoe minder klinkklaar die slot is, hoe groter is die kans dat ek wel ‘n opvolg sal skryf, omdat daar nog so baie is wat nie vertel is nie. So wie weet!

Wanneer begin ‘n nuwe boek vir jou?

Teen die tyd dat ek by die einde van ‘n boek kom, wil ek klaar weet waaroor ek volgende gaan skryf. As ek nie weet nie, raak ek bekommerd. Toe ek hierdie boek voltooi het, wou ek iets in ‘n ligter trant skryf. Ek het toe begin om ‘n ligter verhaal te skryf en dit gehaat. Uiteindelik was ek dapper genoeg om dit vir my redakteur te sê. Sy het gesê ek moet eerder iets skryf wat ek regtig wil skryf. In die trein op pad huis toe het ek ‘n kort paragraaf in die koerant gelees wat my kop aan die gang gesit het. Toe ek van daardie trein afklim, toe weet ek waaroor ek gaan skryf. Dit gaan oor ‘n huwelik gaan. Ek is opgewonde daaroor.