Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Emma van der Vliet

Emma van der Vliet se boek Thirty Second World (Penguin, R180) gee ‘n mens ‘n kykie in die mal wêreld van Kinetix Films vanuit die oogpunt van twee karakters. Beth doen aansoek om ‘n werk, sonder dat sy werklik enige ondervinding het in die maak van rolprente of advertensies. Wonder bo wonder word sy aangestel deur Alison, die hardekwas vervaardiger wat ‘n assistent benodig. Die storie wissel tussen haar en Beth en jy word meegesleur van bisarre gebeurtenis na bisarre gebeurtenis en maak kennis met mense in die bedryf wat so vreemd is dat hulle net daar kan tuis hoort! Die boeiende verhaal vertel van die opwinding, adrenalien en vreemdhede, maar ook van die opofferings en die hartseer wat daarmee gepaard gaan om suksesvol te wees in hierdie mededingende bedryf. Ek hoop van harte daar is ‘n opvolg op hierdie verhaal, want ek sal graag wil weet wat verder in Alison en Beth se lewens gebeur. Emma van der Vliet het ‘n paar vrae per e-pos beantwoord.

Hoeveel het jy van jou eie ervaring gebruik gemaak vir Thirty Second World?
Ek het my eie ondervinding in die kommersiële filmbedryf en my ervaring as ‘n werkende ma gebruik. Gelukkig vir my was ek nooit ‘n rolprentvervaardiger en ‘n ma op dieselfde tyd soos Alison nie, maar ek ken vroue wat is. Ek het regtig begrip vir hoe moeilik dit moet wees. Ek is reeds vir baie jare ‘n werkende ma – ek moet sê alle ma’s werk, of dit nou ‘n betaalde werk is of nie – en dit het my baie gehelp om Alison se karakter te skep.

Waar het die verhaal vir jou begin?
‘n Reeks goed, eintlik. Met oomblikke wat onthul het hoe absurd die hele onderneming is waarin die illusie geskep word van die perfekte dertig-sekonde-wêreld waarin niemand arm, anders of lelik is of dalk ruik nie . . . En die hoeveelheid geld wat op hierdie illusies bestee word! Een so ‘n oomblik was toe die maatskappy waarvoor ek gewerk het, gevra is om te kwoteer om ‘n reuse-haarbal vir ‘n sjampoe-advertensie te maak. Jy kan net dink wat die begroting was om die spesifieke prop te maak. Nog een was toe ek gevra is wat dit sal kos om ‘n hele hoëspoedtrein van Frankryk uit te bring en om die wydte van die spoor vir ‘n paar kilometer in die Karoo te verander. Die verhaal is geïnspireer deur die impak wat dit op my en my lewe gehad het. Toe ek in die filmbedryf gewerk het, was ek nog nie ‘n ma nie. Toe was dit reeds moeilik genoeg om my verhouding met my lewensmaat te onderhou en dit het my laat besef hoe moeilik dit sal wees vir ‘n vrou wat ‘n ma is. Dis waar die storie toe regtig vlerke gekry het.

Wat was die moeilikste van die skryf van die boek?
Om tyd te vind en vir die kreatiewe ruimte om in die vloei van die storie-wêreld in te kom en om net die harde arbeid van skryf te doen! Die ure! Ek het uitgevind romans is baie, baie lank en dis ‘n uitmergelende en eensame proses. Daar is tye dat jy in jouself en jou skryfwerk twyfel en wonder waarom jy al hierdie tyd bestee, toegesluit met jou rekenaar, wanneer jy . . . ek weet nie, kan stap in die berg, ‘n film kyk, wegkruipertjie speel met jou kinders, of ‘n nuwe vaardigheid aanleer soos Arabies of hekel of hoe om video’s te redigeer – dit kan baie makliker wees en ook dadelik meer bevredigend.

Wie van Alison of Beth is meeste soos jy?
Al twee deel karaktereienskappe met my. Beth is soos ek wanneer dit kom by die feit dat sy te “sag” is vir die harde en ongenaakbare filmbedryf. Alison weer moes, nes ek, tawwer word om die fel eise en uitdagings van haar werk sowel as moederskap te trotseer. Sy’s sterk en baie kapabel en sy lewe in ‘n konstante staat van skuldgevoel omdat sy almal shortchange. En natuurlik is daar weerloosheid onder haar harde dop.

Alison doen ‘n konstante balanseertoertjie tussen werk en ma-wees. Soms val die balle op die grond. Dink jy dis moontlik om alles te hê – ‘n beroep, moederskap en ‘n liefdevolle verhouding?
Ek dink ‘n mens moet versigtig wees om te onderskei tussen “om alles te hê” en “om alles te doen”. Vroue wat probeer om hierdie drie dinge te balanseer, moet hard werk om al die balle in die lug te hou en ek ken baie vroue wat in hierdie posisie is. Dis nie moontlik om alles die hele tyd goed te doen nie. Dis natuurlik ook ‘n voorreg om te kan kies om deel te wees van hierdie balanseertoertjie. So baie vroue, spesifiek in ons land, is enkelma’s wat geen ander keuse het as om hard te werk om hul kinders te versorg nie. En vroue se werk word steeds grootliks as minder belangrik geag as mans s’n, maak nie saak hoe senior hul posisie is nie. Vroue met en sonder kinders moet regtig hard werk om hul verhoudings gesond te hou, terwyl hulle terselfdertyd probeer om hul beroep uit te bou.

Beth se kêrel, Dan, is teen die idee dat sy in die filmbedryf gaan werk. Het jy hom op iemand gebaseer en waarom hom so “bookish” maak?
Ek kan nie juis sê my kêrel (nou eggenoot van baie jare) daardie tyd was opgewonde oor die bedryf nie! Maar die “bookishness” gaan meer oor my eie afkerende alter ego as iemand anders s’n. Dis nie net die vrouekarakters wat van my eienskappe het nie. Dis sonder twyfel verskriklik narsisties!

Jy teken ‘n baie gedramatiseerde prentjie van die filmbedryf. Is dit ‘n ware refleksie of oordryf jy?
Dis erger! Partykeer is dit ondramaties, want daar is tye van rondsit en wag vir goed om te gebeur. Maar die politiek, die intrige, die persoonlikhede, die mal ure en (moontlik as gevolg daarvan) mal afhanklikhede, die uitputting en die ongelukke is baie eg. Selfs al het ek nog wonderlike en baie goeie vriende van daardie industrie.

Wat wil jy hê lesers moet onthou nadat hulle Thirty Second World gelees het?
Ek wil hê hulle moet onthou om goedhartig te wees, en om in gedagte te hou dat elkeen op sy eie manier sukkel. En ek wil hê hulle moet onthou om te lag.