Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Erika Oosthuysen, uitgewer (nie-fiksie) by Tafelberg (’n druknaam van NB-Uitgewers)

As jy nie kans sien vir ‘n lang uitgerekte boek oor die politiek of een of ander aktuele saak nie, is dít die  perfekte soort leesstof vir jou. In hul persvrystelling sê die uitgewer: ”Tafelberg Kortboeke is vol vars insig en prikkelende analise van aktuele Suid-Afrikaanse kwessies, in maklik verteerbare dosisse, deur ons beste skrywers, spesiaal vir besige lesers.”

Daar is reeds twaalf titels in die reeks wat beskikbaar is op www.kalahari.com, www.kobo,com en www.leisurebooks.com .

Ek het Erika Oosthuysen ‘n paar kort vrae gevra oor die Tafelberg Kortboeke.

Waarom juis nou kortboeke uitgee?

Dit lyk of ‘n nuwe genre aan die ontwikkel is. Oorsee word Kindle Singles en Guardian-kortboeke byvoorbeeld opgeraap. Dis in pas met die tydsgees. Ons is almal aan die beweeg en wil alles wat ons interesseer sommer so in die draf doen, van musiekluister tot skinder tot banksake. Nou kan jy ook op die vliegtuig of op die Rea Vaya-bus iets lekker pittigs lees op jou tablet of selfs selfoon. Die meeste Tafelberg Kortboeke kan maklik binne twee uur deurgelees word, ideaal vir ‘n binnelandse vlug. En dit het genoeg diepgang om jou aan die dink te sit en is meer stimulerend (en dikwels vermaaklik) as koerantartikels of internetnuus wat bolangs skaats. Van ons beste skrywers skryf oor onderwerpe wat hulle na aan die hart lê. Dit kan nie anders as om leesbaar en prikkelend te wees nie.

Hoe lank is ‘n kortboek?

Ons het die skrywers gevra om te mik vir so 10 tot 12 000 woorde, maar party is effens meegevoer, soos Hermann Giliomee wat vir Hendrik Verwoerd steeds nie kan kleinkry nie en ‘n langerige “kortboek” geskryf het. Max du Preez het heelwat te segge gehad oor ons eie inheemse swart leiers van toeka wat hul mense se welstand eerste gestel het en wat die huidige leiers tot voorbeeld kan wees. En Susan Booysen het ‘n eksta hoofstuk nodig gehad om alles wat sy oor die binnewerking van die ANC onder Zuma uitgesnuffel het, in te pas. Fred de Vries se boek oor Afrikaners in Melbourne en Perth het weer mooi in die regte lengte ingepas. Dit wissel maar van boek tot boek.

Hoe kies julle die skrywers vir die kortboeke?

Ons het ons bestaande Tafelberg-skrywers, van ons Media24-kollegas en ander meningsvormers of knap skrywers uitgenooi en is oorweldig deur die geesdrif waarmee die idee ontvang is. Feitlik almal wou dadelik self ‘n Tafelberg Kortboek skryf of was jammer dat hulle net nie tyd gehad het nie, maar sou graag in die toekoms wou. Hou gerus ons webblad dop vir al die nuwe name – ons gaan gereeld nuwe titels en skrywers byvoeg en daar sal hopelik heelparty vroue onder hulle wees . . .

Besluit die skrywers self waaroor hulle wil skryf of maak julle voorstelle?

Ons gesels en dink so saam-saam, maar die meeste skrywers koester iets waaroor hulle passievol is en waaroor hulle brand om te skryf. Dit was verstommend hoe vinnig mense reageer het en ook hoe hulle dadelik geweet het wát dit is waaroor hulle hul menings wou lug: soos RW Johnson, wat diep besorg is oor die krisis met Suid-Afrika se universiteite, of Wilmot James, wat skryf oor die inspirasie wat sy onmoetings met Mandela vir hom was. Andrew Donaldson het ‘n skreeusnaakse boek geskryf oor pres Zuma en die berugte skildery. En Tim Cohen kyk hoe Louis Botha se leierskap ná die Anglo-Boereoorlog heling moes bewerkstellig, nes Mandela heling moes bewerkstelling ná die oorgang van 1994. Albei leiers moes op die ou einde die spit van hul versoeningswerk afbyt.

Op die oomblik is die onderwerpe van die kortboeke meestal politiek. Gaan die reeks uitgebrei word na ander onderwerpe?

Ons fokus op die soort boeke wat ons ook as tradisionele (lang) boeke uitgee – dus: geskiedenis, aktuele gebeure, biografiese vertellings, landsake, en enige ander onderwerp waaroor mense praat en waaroor jy graag meer sal wil weet sodat jy ingelig kan bly.

  • Ina Kotze

    klink opwindend. sal bietjie op Kalahari.gaan loer. Hoop die boekpryse is ewe opwindend.