Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Fanie Viljoen, skrywer van Leeus met letsels

Dié skrywer van Breinbliksem, Grilbrigade en Geraamte in die klas het al die Sanlam-prys vir jeuglektuur én die M.E.R.-prys vir kinderlektuur gewen. Hy skryf nie net nie, maar hou ook daarvan om te skilder. Hy het baie van die illustrasies in sy boeke self gedoen. Fanie, wat op Welkom grootgeword het, se boek Scarred Lions is onlangs in Afrikaans vertaal.

In Leeus met letsels (Human & Rousseau, R125) ontmoet die leser vir Buyi, ’n tiener wat sy lewe lank al in Londen woon. Deesdae voel hy egter nie meer so tuis nie en sy ma besluit om hom na sy pa, wat in ’n wildreservaat in Suid-Afrika werk, te stuur. Hier moet Buyi sy vervreemde pa leer ken, vriende maak en boonop versigtig wees vir ’n mensvreter-leeu.

Die boek herinner jou aan die probleme waarmee vandag se tieners dikwels sukkel. Dit beklemtoon ook die waarde van vriendskap.

Waar het jy aan die idee vir Leeus met letsels gekom?
My uitgewer in Engeland het gevra vir ’n tienerboek met ’n swart karakter. Die boek moes in Afrika afspeel. Om nie die Engelse lesers te vervreem nie het ek besluit om die verhaal te skryf van ’n outjie wat sy lewe lank in Londen bly, en dan by sy vervreemde pa in Suid-Afrika gaan woon. Ek wou Suid-Afrika nuut deur sy oë sien. Dis hoe Scarred Lions en uiteindelik die Afrikaanse vertaling Leeus met letsels die lig gesien het.

In Leeus met letsels is daar baie verwysings na taal. Watter tale kan jy als praat?
Ongelukkig net Afrikaans en Engels. Ek kan ’n paar Sotho-woorde herken van laerskooldae se skoolvak. Die taal- en kultuurverwysings in Leeus met letsels is danksy navorsing.

Is jy lief vir die Bosveld?
Ek ken die Bosveld maar net van besoeke aan wildtuine, maar ek verwonder my aan die ryke skat van plante- en dierelewe wat Suid-Afrika bied. Ek verhuis binnekort na ’n wildlandgoed aan die randjie van Bloemfontein. Ek sien baie daarna uit, want daar loop diere en die plek het ook ’n paar staproetes.

Beskryf jouself.
Ek is passievol oor skryf, skilder en musiek. ’n Bietjie van ’n introvert wat die lewe van die kantlyn af bekyk en wonder oor mense en die dinge waarmee hulle hulself besig hou.

Wou jy nog altyd skryf?
Ek het goeie opstelle op skool geskryf, maar nooit kon dink dat ek ’n skrywer sou word nie. Ek het altyd net gereken “ander mense” skryf boeke.

Hoe voel jy wanneer jy skryf?
Wanneer ek skryf, probeer ek die emosies beleef waardeur die karakters gaan, seker soos ’n akteur in die lyf van sy karakter klim. Ek sluit my dan af van die res van die wêreld.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy jeuglektuur skryf?
Storie, storie, storie! Ons het ’n geweldige leesprobleem in Suid-Afrika. Al manier hoe ons kinders en tieners aan die lees gaan kry, is met goeie stories.

Hoe lyk jou skryfproses?
Ek bou ’n stewige raamwerk vir ’n verhaal, doen navorsing waar nodig en begin dan skryf. Met goeie karakters neem die verhaal sy eie lewe aan. Die karakters vertel hulle storie sommer self en ek moet net byhou met die tikwerk.

Hoe neem jy afskeid van jou karakters as die storie klaar is?
Dis ’n moeilike een. Ek dink nie ek neem ooit heeltemal afskeid nie. Ek hou hulle steeds hier in my agterkop. Hulle word soos kinders wat bloot uit die huis trek, maar jy kan hulle steeds kontak. Oukei, dit klink ’n bietjie mal.

Waarvan hou jy meer – om te illustreer of om te skryf?
Ek verkies dit om te skryf. Skilder en illustreer is weer soos meditasie vir my.

Jy het al baie toekennings gewen. Voel jy ooit as jy ’n projek afgehandel het, druk om nog ’n toekenning te wen?
Ek dink glad nie aan toekennings wanneer ek skryf nie. Dit is ’n bonus ná die harde werk.

Hoe voel dit om ’n toekenning soos die M.E.R.-prys of die Sanlam-prys te wen?
Ek was elke keer stomgeslaan. Ek wou eintlik destyds net kyk of ek ’n boek geskryf kon kry. Ja, die toekennings beteken vir my baie, maar soms is ’n wonderlike briefie of e-pos van ’n leser meer werd. Ek kry ook gereeld briefies van ma’s wat sê dat hulle kind nooit wou lees nie totdat hulle een van my boeke in die hande gekry het. Dit is wonderlike motivering vir my.

Wat doen jy as jy nie besig is om te skryf nie?
Ek luister graag musiek of gaan gim. Gim is my dink- en ontspantyd.

Wie is die belangrikste mense in jou lewe?
My ouers, broer en suster. Hulle ondersteun my in alles wat ek aanpak.

Watter genre is vir jou die lekkerste om in te skryf?
Ek skryf deesdae lekkerder aan tienerboeke. Daar is gans te min skrywers wat vir hierdie ouens en meisies skryf. Omdat ek voel ek verstaan hoe hul kop werk, kom die verhale en karakters maklik, alhoewel dit ’n baie uitdagende genre is.

Hoe voel dit as ’n storie klaar geskryf en gepubliseer is en jy hou die boek vir die eerste keer vas?
Elke boek is ’n groot genade. Omdat ek baie skryf, probeer ek om nie blasé te wees oor elke nuwe boek nie. Dis altyd lekker om jou boeke op ’n winkelrak te sien. Jy wil sommer vir die ander mense in die winkel sê: “Kyk! Kyk!”

  • Hanlie Botes

    Ek dink ons kinders sou soveel "armer" gewees het sonder die boeke wat Fanie alreeds geskryf het en nog gaan skryf. Die kinders kan hulleself inleef in die storie en hulle verbeelding laat gaan (wat TV nie kan doen nie). Die karakters in sy boeke is so na aan die waarheid dat die kinders hulle daarmee kan vereenselwig. In Slym was dit opmerklik (in die eerste Slym) hoe die kinders of vir die Slang was of teen die slang. My meisiekind was baie besorg oor die slang.

    Fanie se stories is stories wat oor-en-oor gelees word en elke keer vind jy ‘n "les" daarin of iets wat jy die eerste, tweede keer misgelees het.

    Vir die kinders lees dit lekker en gemaklik – wat hulle help om te wil lees.

    Dankie Fanie en mag daar nog BAIE boeke uit jou rekenaar kom….

  • Madeleine Kritzinger-Human

    Ek dink Fanie is ‘n rol model vir alle skrywers… behalwe dat hy altyd plat op die aarde en nederig bly …klim hy lettterlik in die jong mense se koppe in en spreek hulle diepste emosies aan… en dit is nie maklik in vandag se tye nie. Hy hou tred met al die nuutste berlangstellinge en bedrywighede van die jeug en daarom is hy so suksesvol…. hulle kan absoluut met hom identifiseer…. hulle is gefasineerd deur die spanningsvlak van sy verhale en dit beteken dat hulle altyd uitsien na sy volgende boek…. ek glo hy sal nog baie suskses behaal… . Madeleine.