gareth_crocker_credit_brett_may
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Gareth Crocker

Die belangrikste ding wat julle moet weet, is Reece Cole se dogter is dood. Sy is ontvoer en toe sy uiteindelik opgespoor word en hy die losprys betaal om sy kind terug te kry, word sy in sy arms doodgeskiet.

Die volgende karakter wat jy leer ken, is Harlan White. Hy bied aan om Reece se dogter uit die dood terug te kry. Dit klink baie onwaarskynlik, maar in Never Let Go (Penguin, R195) weef die Suid-Afrikaanse skrywer, Gareth Crocker, ‘n verhaal van onwaarskynlikhede op so ‘n boeiende wyse dat jy saam met Reece Cole inkoop in die moontlikheid dat sy kind wel gered kan word – uit die graf!

Ek kon die boek nie neersit nie en wil nie meer oor die verhaal weggee nie, want as jy ‘n spanningsverhaal-junkie is, moet jy dié een aanskaf. Die tema bly ‘n universele kwessie en jy kan nie anders as om geraak te word deur ‘n pa se pyn wanneer hy sy enigste kind verloor nie. Ek en Gareth het per e-pos gesels.

Vertel my meer oor jouself en jou gesin.
Ek en my vrou het twee dogters, Jordann (7) en Jenna (10). Ons het Jen aangeneem toe sy ‘n jaar oud was. Soos die meeste ouers is ons behep met ons kinders. Ek het Kerry ontmoet toe ek 17 was en ons is van toe af saam. Ek is nou 38 en ons is dus al ‘n paartjie vir meer as die helfte van ons lewe. Kerry dink sy verdien ‘n medalje hiervoor. Ek dink weer ek moet tot ridder geslaan word en ‘n kasteel moet na my vernoem word . . . Meer ernstig, ons het ‘n hegte huwelik en dis ‘n groot rede waarom ek ‘n mate van sukses kan geniet. As skrywer is dit belangrik om die ondersteuning en aanmoediging van jou wederhelfte te hê. Wel, in my geval.

Waarom wou jy spesifiek skryf oor ‘n enkelpa wie se dogter ontvoer word?
Die Madeleine McCann-ontvoering so ‘n paar jaar gelede het ‘n aar by my raakgeboor. Om een of ander rede het ek my haar ontvoering persoonlik aangetrek en die hele tyd aan haar gedink. Ek bly hoop sy sal gevind word, veilig en lewend. Met dié gebeurtenis as agtergrond wou ek ‘n baie sonderlinge storie skryf waarin ‘n pa sy kind in ‘n ontvoering verloor (sy sterf letterlik in sy arms), maar hy het ‘n kans om haar te red “beyond the grave”. Uiteindelik is Never Let Go ‘n verhaal van ware hoop en ek dink dis my manier om ‘n kers te bly brand vir Madeleine en al die ander kinders wat verlore is aan die een of ander soort donker.

Het jy die karakters gegrond op mense wat jy ken, of is hulle uitgedink?
Hulle is eintlik basters. Deels verbeelding en deels mense wat ek ontmoet het – dis selde die een of die ander. Tog, die uitsondering is die hoofkarakter, Reece Cole. In baie aspekte is hy ‘n sterker en dapperder weergawe van my. Hy’s ook maerder en fikser as ek, wat baie irriterend is!

Hoe het jy op die idee gekom om Ruby te probeer red nadat sy reeds dood is?
Dis ‘n interessante vraag. Ek weet hoe makaber dit gaan klink, maar as ek my enigste dogter verloor, sal my onmiddellike instink wees om haar te volg. Ek sê dit nie om melodramaties te wees nie – inteendeel. Maar net soos ‘n ouer blindelings in die verkeer sal inhardloop om sy kind te red, is dit vir my logies dat ‘n pa sy kind sal wil volg as sy van hom weggeneem word – waarheen dit ook al mag lei. Ek dink dis ‘n baie sterk grondslag vir ‘n besonder ambisieuse liefdesverhaal/riller. Ek is net verlig al die resensente het dit so baie geniet.

Moes jy baie navorsing doen, spesifiek oor die rol wat Harlan in die verhaal speel?
In ‘n mate. As ek eerlik wil wees, ek is nie ‘n aanhanger van uitgebreide navorsing nie. Ek vind verhale wat oormatige detail het, nogal vervelig. Ek bedoel, ek hou van ‘n goeie boom, maar ek wil nie drie bladsye daaroor lees terwyl die protagonis deur ‘n moordenaar gejaag word nie. Vir my is karakter en storie koning. Die navorsing en die plek, hoewel belangrik, is rekwisiete op ‘n verhoog. Die mense op die verhoog, en die rede waarom hulle daar is, is baie belangriker vir my. Ek het ongeveer drie maande se navorsing gedoen, wat voldoende gevoel het.

Glo jy in sinchronisiteit, want jy skryf oor die toevalligheid van jou vrou se miskraam as gevolg van ‘n skaars genetiese toestand, sowel as jou aangenome dogter wat ballonne loslaat en een land in jou suster se erf myle daarvandaan?
Ek is nie seker nie, maar sommige dinge wat in my lewe gebeur het, gaan alle logika te bowe. Byvoorbeeld, geneties is ek en my vrou nader in lyn as identiese tweelinge. Die kanse vir ons om bymekaar te kom is kumulatief 1 in 100 miljoen. Dan, soos jy noem, my aangenome dogter het ‘n ballon losgelaat by haar skool ‘n paar jaar gelede en dit het in my suster se tuin geland. Die waarskynlike is eintlik belaglik as jy weet dat my suster in ‘n ander stad woon!

Wat sal jou ergste nagmerrie wees?
Presies wat met Reece Cole gebeur, maar met geen hoop van bevryding nie.

Het jy ‘n spesifieke roetine wanneer jy skryf, plek of ritueel, of kan jy enige plek skryf?
Absoluut. Sedert die internasionale sukses van my eerste boek, Finding Jack, skryf ek in ‘n ateljee wat ons in ons tuin gebou het. Die hele vertrek is bedraad met gekleurde beligting, wat ek met afstandbeheer kan verander na gelang van dit wat ek besig is om te skryf. Die grootste deel van Never Let Go is geskryf onder verskillende skakerings van blou lig. Ek glo kleur, net soos musiek, het ‘n dramatiese impak op jou bui. Ek weier ook om gehaltetyd met my gesin in te boet en skryf meesal net snags wanneer hulle reeds bed toe is. Die gevolg is dat ek nie veel slaap kry nie en daarom lyk ek asof ek 108 jaar oud is. Ek skryf ook nooit wanneer Manchester United speel nie. Ek is ‘n sokker-fanatikus en ek speel steeds.

Werk jy aan ‘n nuwe boek?
Die goeie nuus is dat die filmregte vir Never Let Go hopelik binnekort onderteken word deur ‘n Hollywood-vervaardiger en daar is reeds sprake van ‘n opvolgboek en draaiboek. Maar dis vir volgende jaar. Intussen het ek ‘n nuwe boek, King, wat in die volgende paar maande sal verskyn. Die storie gaan oor ‘n sukkelende Detroit-polisieman wat op ‘n wit leeuwelpie in ‘n dwelmghetto afkom. Sommige aspekte is soortgelyk aan my boek Finding Jack, en ons is almal opgewonde daaroor.