Lewe + Liefdes

5 Boekminute met Graham Cooke

In sy boek My Life with Leopards (Fransje van Riel, Penguin) vertel hy die uitsonderlike verhaal wat so ‘n belangrike deel van sy lewe uitmaak. Vroeg in die negentigs was hy ‘n veldwagter in die Londolozi-natuurreservaat in Mpumalanga. Sy baas en mede-eienaar van Londolozi het twee luiperdwelpies van ses weke oud van ‘n dieretuin in Zimbabwe gekry. Hy wou hulle in ‘n fliek gebruik en het Cooke gevra om die twee welpies in die veld groot te maak. Cooke was in ekstase, maar het ook voorbehoude gehad, want sou hy dit regkry om hulle so groot te maak dat hulle op hul eie bene sal kan staan in die wildernis? Hy vertel die volle verhaal oor hoe dit gekom het dat hy die welpies begin grootmaak het, hoe hard hy moes werk om hul vertroue te wen en hoe hy hulle moes help om sonder ‘n ma in die veld aan te pas.

Dis ‘n boeiende verhaal en elke bladsy spreek van die liefde wat Cooke vir die twee diere het. Dit was vir my as leser ook ‘n emosionele reis en ek kon nie anders as om ingetrek te word by Poepface en haar boetie, Boycat, se lewe nie. Ek het saam met Cooke getreur toe hy Boycat in Zambië verloor het, en het selfs die pyn van sy eensame sussie gevoel. Ek kan verstaan dat die twee luiperds ‘n lewenslange impak op Graham se lewe gehad het. Ons het per e-pos gesels oor sy verhaal.

Hoe het dit gekom dat jy en Fransje van Riel saamgewerk het aan die boek en hoe het die proses verloop?
Elsje het ‘n boek geskryf oor Darwin, ‘n wees-bobbejaantjie, en Karin Saks wat vir sy rehabilitasie verantwoordelik was. In daardie stadium het ek toe reeds ‘n paar jaar saam met ‘n trop bobbejane deurgebring en ek het Elsje gekontak oor haar boek. Die luiperdwelpies het ter sprake gekom en sy wou meer oor hulle weet. Op die ou einde het ek my dagboeke vir haar gestuur. Ek het haar later ook in Kaapstad ontmoet en die hele verhaal aan haar vertel.

Waarom het jy so lank gewag voordat jy die storie gedeel het?
Oor die jare is ek deur verskeie mense aangepor om die welpies se verhaal te vertel. Dit was nog altyd ‘n baie teer en sensitiewe onderwerp vir my. Iets waarmee ek altyd ‘n binnestryd gehad het.

Het jy enige ander ondervinding daarvan gehad om diere so groot te maak voordat jy met die welpies kennis gemaak het?
Ek het roofvoëls gerehabiliteer en dan weer in die natuur vrygelaat. Ek het ook reeds sewe jaar se ondervinding in die veld agter die blad gehad waartydens ek baie geleer het van diere en hul maniere. Maar ek het nie praktiese ondervinding van so ‘n grootmaak-proses gehad nie.

Waarmee het jy die meeste gesukkel toe jy met die welpies begin werk het?
Die moeilikste vir my was om deur die skans om my klein meisie se hart te dring. Ek het haar vertroue nodig gehad en het gevoel sy het myne ook nodig.

Wat was die grootste uitdaging daarvan om so in die veld saam met die welpies te woon?
Om so in die veld te kon leef was vir my net ‘n plesier en nie ‘n uitdaging nie. Ek het heeltemal tuis gevoel en sal dit môre weer doen as ek kan.

Hoe moeilik was dit om by nuwe omstandighede aan te pas toe jy die welpies na Zambië geneem het?
My enigste probleem met Zambië was die besef dat my tyd saam met die welpies besig was om min te raak. Ek het onmiddellik aangepas by die omstandighede, ek moes net heeltyd bewus wees van die bykomende bedreiging van die seekoeie en krokodille.

Was daar ‘n merkwaardige verskil in die omgewing vir die luiperds of is veld veld en prooi prooi?
Die twee gebiede was baie verskillend, maar Luangwa is perfek vir luiperds, want daar is ‘n verskeidenheid klein tot mediumgroot prooi. Die jong luiperds het baie maklik daar aangepas en het hulself gou daar gevestig. 

Hoe moeilik was dit vir jou om die luiperds te laat gaan?
Ek kon hulle nog nooit laat gaan nie. Ek dink elke dag aan hulle. Dis net een van daai dinge wat jy nooit uit jou gestel sal kry nie.

Jy het erge malaria in Zambië gekry. Het jy enigiets daarvan oorgehou?
Ek het in die hospitaal beland vir tien dae. Gelukkig was dit nie een van die soorte wat herhaal nie en ek het niks daarvan oorgehou nie.

Werk jy steeds as ‘n veldwagter?
Ja, ek werk steeds in die veld, vryskut as gids of fotograaf. Ek is ook ‘n vryskut-lektor in eko-opleiding. So ek gaan waarheen die werk my ook al neem.

Wat is die aantrekkingskrag van hierdie soort lewe vir jou, eerder as ‘n lewe in die stad?
Ek het nog altyd ‘n diep en natuurlike verwantskap met diere. Kortom, hulle lieg nooit vir jou nie en ek sien geen betekenisvolle doel daarin om in die stad te leef nie, buiten as jy hou van geraas, besoedeling, skares en geld.

Wat was die gevaarlikste situasie waarin jy jou as veldwagter bevind het?
Eerstens moet jy gevaarlik definieer. Ek het heelparty noue ontkomings met verskeie spesies gehad. Die toppunt was toe ‘n olifantkoei my op ‘n oop voertuig bestorm en gestamp het. Dit tel as die gevaarlikste een, sou ek sê.

Wat is jou innigste herinnering aan die welpies?
My innigste herinnering is die hele tyd wat ek saam met my welpies was. Ek waardeer elke sekonde wat ek saam met my babas kon deurbring.