Lewe + Liefdes

5 Boekminute met Lesley Pearse

As kind was sy en haar broer drie jaar lank in ‘n weeshuis voor haar pa weer getroud is en die gesin herenig is. Met haar keuse van huweliksmaats later in haar lewe het dit nie veel beter gegaan nie. Haar eerste twee huwelike het vinnig in die skeihof beland, en haar derde huwelik, van 18 jaar, het op die ou einde ook skipbreuk gely. Verder het sy allerlei vreemde beroepe gehad, soos die een as ‘n bunny girl (‘n nagklubmeisie in ‘n hasiepak), waarvan sy later besonderhede in haar verhale kon gebruik. Dan is daar ook nog haar winkel waarvan sy die deure moes sluit, omdat die ekonomie in ‘n resessie was in Brittanje. Moed opgee was egter nie ‘n oorweging nie en sy het haarself letterlik uit haar verknorsing geskryf, ten spyte daarvan dat sy op ‘n laat ouderdom eers begin publiseer het.

Meer as 7 miljoen van haar boeke is al wêreldwyd verkoop, en haar jongste een, The Promise (Penguin Books, R195), die opvolg op Belle, sal help om hierdie syfer ‘n verdere hupstoot te gee. Dis Belle se verdere verhaal nadat ene Etienne haar uit die kloue gered het van skurke wat in mense handel dryf. Terug in Engeland trou sy met haar kinderliefde, Jimmy. Sy is nou ‘n hoedemaker met haar eie winkel en dinge gaan relatief goed totdat ‘n afperser haar donker verlede begin ontbloot. Om sake te vererger breek die Eerste Wêreldoorlog uit en Jimmy voel gedwing om aan te sluit. Belle se lewe raak al hoe moeiliker en sy en haar onwaarskynlike vriendin Miranda, uit ‘n hoër sosiale klas as sy, besluit om ambulansbestuurders in Frankryk te word om van hul knellende omstandighede te ontsnap. Jy beleef die oorlog uit ‘n hele paar karakters se oogpunte. Daar is drama op die slagveld, Jimmy word gewond en Etienne red hom. Jimmy word teruggestuur Engeland toe en Belle keer terug om hom te versorg, maar uiteindelik sterf hy en is sy vry om opnuut op ‘n ander plek te begin. Belle se stryd is nimmereindigend en jy is verlig wanneer sy tog weer vir Etienne in Nieu-Seeland raakloop en kan begin bou aan ‘n lewe sonder ellende.

Ek het Lesley Pearse ontmoet tydens haar onlangse besoek aan Suid-Afrika. Sy is ‘n interessante gespreksgenoot wat intens en passievol gesels oor oorlog en geskiedenis, en haar skryfwerk.

Jou boek bevat ‘n hele paar temas, maar die een wat uitstaan, is die ellende wat Belle beleef. Waarom haar so ‘n ellendige lewe gee?

The Promise is die opvolg op Belle, waarin haar storie begin. Die boeke kan egter apart van mekaar gelees word. Jy sal wel meer uit die tweede boek kry as jy die eerste een lees. Baie lesers vra vir ‘n derde boek oor Belle. Op pad na Suid-Afrika het ek met die draad van nog ‘n boek in my kop begin. Ek kan die arme Belle nie deur nog meer ellende sit nie, maar sy kan ‘n dogter hê. Iemand soos sy. Die dogter sal betrokke wees by die Tweede Wêreldoorlog. Sy kan van Nieu-Seeland af na Engeland gaan sodat sy in Engeland is vir die Blitz. Ek speel nog met die idee en het nog nie ‘n besluit geneem nie. My hoofkarakter het altyd ‘n lewe vol uitdagings.

Jy skryf nie in ‘n spesifieke genre nie. Waar pas jou boeke in?

Ek is gelukkig dat die uitgewers my nie dwing om in ‘n spesifieke genre te skryf nie. Dis eers nadat ek Never Look Back geskryf het, ‘n saga wat handel oor die goudstormloop en die groot trek na die goudvelde in Amerika, dat ek my nis gevind het. Ek was nog altyd gek na Amerikaanse geskiedenis en hierdie was die boek wat ek wou skryf. Ek het geweet ek sou nooit weer snoesige romans kon skryf nie. Ek moes aanbeweeg na groter temas. Ek is baie meer gemaklik om verhale met ‘n geskiedkundige agtergrond te skryf eerder as die wat in die hede afspeel. Elke nou en dan skryf ek ‘n boek wat in die onlangse verlede afspeel, want dit verg minder navorsing. Om elke jaar ‘n boek te skryf, en daar is baie navorsing betrokke, maak dit nogal moeilik. Maar wat ek wel weet, is my hoofkarakter ervaar altyd ellende. Dis my stempel. Ek is van jongs af ‘n groot bewonderaar van Charles Dickens. Ek is seker dis ‘n vormende invloed, en seer sekerlik ook die feit dat ek as kind in ‘n weeshuis was. 

Hoeveel navorsing doen jy?

Ek lees geskiedenisboeke vir plesier en nie net vir navorsing nie. Ek het ‘n besondere belangstelling in oorlog. My pa was ‘n soldaat en my nooiensvan is Sargeant. Miskien hou dit verband! Ek sien die tonele in my kop.

Waarom het jy Belle ‘n hoedemaker pleks van ‘n kleremaker gemaak?

Dit gaan terug na haar kinderjare. As dogtertjie het sy altyd hoede geteken. In die tydvak waarin die verhaal afspeel, het almal hoede gedra. Dit was ‘n belangrike besigheid. Dit was ook Belle se droom en dit is interessanter as klere maak!

Oorlog is niemand se vriend nie en die karakters in jou boek word almal daardeur geraak. Hoekom is Jimmy uitgesonder vir ‘n besonder slegte lot, ‘n geamputeerde arm en been en ‘n verwronge gees?

Daar is eintlik geen wenners in ‘n oorlog nie, veral nie die soldate op die grond nie. Ek dink tydens die Eerste Wêreldoorlog was daar geen begrip by offisiere van hoe erg manskappe geraak is deur bomskok nie. Baie van hulle is as drosters geskiet, terwyl dit ‘n geval was dat hulle nie meer die geraas kon deurstaan nie. Wat Jimmy betref, party mense kan met gestremdhede leef en ander nie. Jimmy kon glad nie die verlies van sy arm en been verwerk nie en dit het sy gees gebreek. Hy was verbitter en het almal rondom hom weggestoot, veral Belle. Ek wou die kontras tussen hom en Etienne uitlig. Etienne was ‘n beter mens ná die oorlog, terwyl dit Jimmy vernietig het. Ek kan nog baie boeke oor hierdie tema skryf, want ek raak opgewerk daaroor. 

Is Etienne jou gunsteling-karakter?

Beslis. Ek het hom spesiaal vir myself geskep. Ek hou nogal van sy effens gevaarlike persoonlikheid.

Het iets in die boek jou verras?

Ja, die stuk waar Etienne vir Jimmy op die oorlogsveld red. Ek was meegesleur deur die gety van  heldedade. As ek eers begin skryf oor oorlog, leef ek my in. Ek wil nog ‘n boek skryf wat in Suid-Afrika afspeel. Elke keer as ek hierheen kom, versamel ek meer boeke, maar julle geskiedenis is gekompliseerd. Ek kon nog nooit uitwerk waar om te begin nie. Dis moeilik om te weet wie is die helde en wie is die skurke.

Jy het nogal laat in jou lewe begin skryf. Hoekom?

Ek het vir ‘n baie lang tyd geskryf voordat ek uiteindelik gepubliseer het. Ek was 48 jaar oud toe  Georgia uitgegee is. Ek was nog altyd ‘n storieverteller. Toe ek ‘n kind was, het my stiefma dit leuens genoem! Ek dink ‘n mens kan leer om te skryf solank as wat jy ‘n natuurlike talent het om stories te vertel.

Hoe skryf jy?

Ek moet by my lessenaar by die huis sit en alles moet presies op hul plek wees. Ek het al probeer skryf op ‘n skootrekenaar terwyl ek reis, maar ek kry dit nie reg om te konsentreer nie. Ek kan nie my ruimte op ‘n ander plek herskep nie. So, vir my is die beste skryftyd by my huis.

Hoe begin ‘n storie vir jou?

Partykeer met geskiedenis. Ander kere met iets wat ek lees. Of soms sien ek iets en dan begin ek wonder wat by die plek gebeur het, wie daar gewoon het, wat hulle gedoen het . . . Enigiets kan vir my ‘n storie begin. Ek kan net nie skryf oor plekke waar ek nie was nie. Ek moet rondloop op ‘n plek en ‘n gevoel kry wat ek in my verhaal kan oordra.

Skryf jy oor jou eie lewe in jou boeke?

In die begin het ek. Ek het so baie goed uit my sisteem geskryf, goed wat my ontstel het. Deesdae nie meer nie. Ek is net gek daarna om te skryf. Dit is wat ek doen.