Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Maritza Breitenbach

 Nee, dis glad nie wat dit is nie. Dis ‘n klein, kompakte gids oor die ander koekie waaroor jy nie sommer met vriendinne oor koekies en tee gesels nie – die vagina. Wat die boekie so oulik maak, is dat dit informeel geskryf is, ryklik geïllustreer is met smaakvolle foto’s en afdrukke van relevante kunswerke. Daar is vyf afdelings: Die ontdekking van ons feestelike voue; Koekiekundigheid: die lewensiklus van ‘n vagina; Koekie-coiffure: boskasie-dekorasie; Koekemakranka: mediese afdeling; en Kulturele norme en waardes. Breitenbach bied ‘n taamlike taboe-onderwerp in baie verteerbare vorm aan en die gids is ‘n uitstekende geskenk vir ma’s aan dogters, of vir jouself as jy self meer wil leer oor jou feestelike voue. DIE KOEKIEBOEK: Ontdek die mees intieme feite, fabels en vreugde van vrouwees (Paddycat Uitgewers) het reeds voorheen in Engels verskyn (as The Cookie Book), maar dié weergawe praat met jou in jou eie taal, met humor en uitdrukkings wat tipies Afrikaans is.

Wie is jy en wat doen jy?
Ek is die ma van drie opgeskote kinders, twee dogters en ‘n seun – die jongste nou eerstejaar op Maties. Ek is die eienaar van ‘n kleinsake-onderneming op Stellenbosch en is tans besig met ‘n literatuurstudie vir ‘n Phd-voorlegging in filosofie. 

Die boek is opgedra aan Jacqui Breitenbach. Wie is dit en waarom dra jy die boek aan haar op?
My liefste ma. Sy was besonder toeganklik en innemend en het altyd ‘n lewendige (dalk stoute?) vonkel in die oog gehad.

Waarom wou jy ‘n boek oor die vagina skryf, want dis eintlik ‘n onderwerp waaroor nie maklik in die openbaar gepraat word nie?
Dit is so waar – dit is seker een van die grootste sosiale taboes van ons tyd. Ek was onkant gevang toe my dogter my uitvra oor intieme versorging – ek was oorbluf, ongemaklik en verleë oor my tekort aan selfvertroue, woordeskat en kennis. Ek het besef dat ons gebuk gaan onder ‘n negatiewe en skaamte-gebaseerde uitkyk en het besluit om díe onderwerp op ‘n verfrissende wyse herbekend te stel sodat ons hierdie perfek-geskape wonderwerkie kan leer ken, koester, integreer en met trots kan leef. 

Jou agtergrond is biomediese etiek. Wat is dit? 
Toegepaste biomediese etiek handel rofweg oor kopkrap-kwessies en besluitneming oor die volhoubaarheid, toepaslikheid, regverdigheid en sinvolheid van die morele reëls en norme van ‘n samelewing. Dit sluit byvoorbeeld kloning, genadedood, diskriminasie en dies meer in.

Hoe het jy die navorsing vir hierdie boek gedoen
Aanvanklik het ek talle gesprekke met vroue van verskillende ouderdomsgroepe gevoer om die kwessies waaroor ons wonder en worstel te bepaal. Daarna het ek onder meer in mediese -, ginekologiese -, urologiese – en vrouestudie-joernale vir antwoorde gaan soek. Ek het die inligting verwerk en omskep in ‘n ontspanne, gebruikersvriendelike handleiding wat handel vanaf ‘dogtertjies se dingetjies’ tot en met die menopause, en daarna.

Daar is heelwat foto’s en afdrukke van kunswerke in die boekie. Hoe het jy dit gekies?
Ek wou graag ‘n boekie skep wat ‘n lus vir die oog is – volkleur en vroulik. Ek het wegbeweeg van mediese lynsketse met onnodige biologiese/gesondheidsleer-inligting en het gefokus op volkleur en vroulik. Die kunswerke is relevant tot die teks gekies – waar ons byvoorbeeld oor die anatomie praat, het ek gebruik gemaak van die krulle en sagte voue van rose en eksotiese blomme soos orgideë. Terloops, in die ‘boskasie-dekorasie’ hoofstuk is gewone (en dapper) vroue gebruik wat pynlik gepluk, gekleur en tot kunswerke omskep is.

Jy skryf met humor oor sekere eienaardige dinge waarop jy afgekom het. Was dit moeilik om te besluit wat kom in en wat bly uit?
Ek het gebruik gemaak van ‘n tikkie humor en woordspeling om deur sensitiewe onderwerpe te vleg sodat belangrike inligting op ‘n ligte trant oorgedra kon word. Ek het weggebly van platvloerse, negatiewe of seksuele grappe omdat dit dikwels die gevoel van skaamte versterk.

Wat is die vreemdste naam waarop jy afgekom het vir die vagina? 
(Amper te skaam om te sê) – Hamburger!

Wat is die insiggewendste ding wat jy oor die vagina geleer het met die skryf van die boekie?
Dat die manier waarop ons ons geslagsdele sien, ken en beleef ‘n baie sterk en direkte invloed het op ons algemene selfvertroue, selfbeeld en belewing van vrouwees.  

Waar is die boekie beskikbaar?
Dit is landwyd te kry by die bekendste boekhandelaars; ook op Kalahari.net. Getekende Afrikaanse en Engelse kopieë kan bestel word as ‘n geskenkpakkie by http://www.offtheshelfbooks.co.za/index.php/order-books/14/104/maritza-breitenbach-the-cookie-book

Besoek gerus ons facebook-blad: https://www.facebook.com/TheCookieBook

Blaai deur die boek by:   http://www.thecookiebook.info/