Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Naòmi Morgan

Sy het die verhaal, oorspronklik geskryf deur Eric-Emmanuel Schmitt, uit Frans vertaal. Oskar is tien jaar oud en baie siek. Hy is sterwend aan kanker en is ontgogel deur hoe sy ouers op sy siekte reageer. Al wat hom aan die gang hou, is sy verhouding met Ouma Rosa, die pienk tannie wat vir hom in die hospitaal kom kuier. Sy help hom om sy naderende dood te verwerk en ook om vrede te maak met sy ouers. Sy doen dit deur hom briewe aan God te laat skryf, al glo hy aanvanklik nie daar is ‘n God nie. Tog hou hy vol en praat in sy kinderlike eenvoud sy hart uit in die briewe.

Jy kan nie onaangeraak staan teenoor dié roerende verhaal nie – dis terselfdertyd hartseer en baie snaaks. In sy laaste twaalf dae belewe hy met Ouma Rosa se hulp ‘n hele leeftyd se ervarings en kan hy uiteindelik met vrede in sy hart afskeid neem van almal in sy kort lewe. Oskar en die pienk tannie is ook vir die verhoog verwerk deur Morgan, en Sandra Prinsloo speel in die eenvrou-drama wat in 2012 by die Vryfees in Bloemfontein debuteer het. Ná afloop van die fees het Morgan die Van Rensburg-patoloëprys vir beste Vrystaatse kunstenaar in toneel ontvang, asook die Kunste-trustprys vir die beste debuutproduksie in toneel. Die boek word uitgegee deur Human & Rousseau.

Hoekom het jy Frans studeer?
Ek het op skool Frans geleer (aan die Oranje Meisieskool, Bloemfontein) omdat ek dit as ekstra vak kon neem. Ek wou ‘n kodetaal praat, enige taal eintlik, en het aanvanklik nie spesifiek Frans gekies nie. Ek ken ‘n paar ander tale ook (Italiaans, Nederlands), maar Frans het later my eksklusiewe liefde geword.

Hoe het dit gekom dat jy Oskar en die pienk tannie vertaal het?
Oskar is ‘n klassieke werk, dis in 38 tale vertaal (wat nou Afrikaans insluit), dit het dieselfde status as die Klein Prinsie, wat meer as een keer in Afrikaans vertaal is. Dis ook baie roerend en ek wou dit graag met ander deel. Afrikaanssprekendes wat in ’n dorp soos Bloemfontein Frans doseer, lei nogal ‘n eensame lewe: jy kan nie vir iemand jou gunsteling-boek gee om te lees nie, behalwe as jy dit vertaal. Baie mense het intussen Oskar se verhaal in Afrikaans gelees, en dis heerlik wanneer mense my vertel wat hulle daarvan dink en hoe hulle kan identifiseer met wat met hom gebeur.

Wat maak die vertaling van so ’n boek moeilik?
Literêre vertaling is moeilik, al lyk die teks betreklik maklik, want jy moet die musiek van die oorspronklike woordkeuse en -orde transponeer na ‘n ander toonaard. Oskar is ‘n 10-jarige seuntjie en moet praat soos een, maar terselfdertyd speel hy onder leiding van Ouma Rosa dat hy elke dag 10 jaar ouer word en sy taal pas daarby aan. Ouma Rosa is ‘n ou dame wat haarself voordoen as ‘n eks-stoeier, om Oskar te laat lag en hom te help om, soos Dylan Thomas gesê het, vegtend die donker nag van die dood in te gaan. Hierdie twee karakters het dus verskillende registers wat die vertaler subtiel moet probeer weergee. Dan is daar die kreatiewe aspek van naamskepping: byna al die karakters in die boek het byname, en die vertaler moet ‘n ekwivalent vind wat na aan die oorspronklike is, maar ook inpas by die (Suid-)Afrikaanse konteks.

Hoe pak jy verskillende vertaalprojekte aan, bv. die teaterstuk teenoor die boek?
Ek het eers die novelle vertaal, maar was nie seker of ek ‘n uitgewer sou kry nie (daar is blykbaar nie ‘n mark vir Afrikaanse vertalings nie). Daar het soveel werk in die novelle gegaan dat ek besluit het om die drama-weergawe te vertaal (die twee is naby aan mekaar, die novelle is vir die verhoog aangepas deur die skrywer, Eric-Emmanuel Schmitt, wat ook ‘n dramaturg is). Ek het ‘n afspraak met Sandra Prinsloo gemaak en die teks aan haar voorgelê; daar was geen twyfel by my dat sy die enigste aktrise in Suid-Afrika was wat die rol kon speel nie. Gedurende die repetisies het ons nog ‘n paar veranderings gemaak (Oskar se Walkman het ‘n iPod geword, en die legende van die 12 dae het ‘n Weskus-legende geword nadat Nick Taylor vir Sandra ‘n soortgelyke storie vertel het).

Watter een het eerste gekom, die teaterstuk of die boek?
Schmitt het eers die novelle geskryf, en dit daarna vir die teater aangepas. In Afrikaans is die toneelstuk opgevoer voordat die boek verskyn het (by die Vryfees in Bloemfontein in Julie 2012, terwyl die boek op 5 Maart 2013 by die Woordfees vrygestel is).

Wat maak vertaalwerk vir jou bevredigend?
Vertaalkuns is bevredigend omdat jy ‘n teks wat in ‘n sekere taal geskryf is en diep wortels in ‘n spesifieke kultuur het, na ‘n totaal onverwante taal en kultuur oordra en tog het dit dieselfde effek op die leser.

Wat was vir jou die een ding van Oskar se verhaal wat uitgestaan het?
Vir my, sy uiteindelike aanvaarding van die dood. Wanneer ons Oskar se laaste brief lees, bevat dit die wysheid van ‘n baie ou man, maar die woorde is dié van ‘n 10-jarige seuntjie. Op die verhoog is daardie toneel des te meer roerend, want die woorde van ‘n sterwende seuntjie kom uit die mond en liggaam van ‘n volwasse vrou.

Wat maak kinderliteratuur uitsonderlik?
Ek sou sê die verbeeldingskrag daarvan, en kinders se blinde geloof in Die Verhaal. Kinders is die ideale lesers, luisteraars en toeskouers.

Ander Franse verhale wat jy graag in Afrikaans sal wil vertaal?
Om mee te begin, ‘n ander verhaal van Schmitt, Monsieur Ibrahim et les fleurs du Coran (Meneer Ibrahim en die blomme van die Koran), dramas van Yasmina Reza, ‘n roman van die Russies-gebore Goncourt-pryswenner André Makine . . .  Die lys is lank, maar die vraag is eintlik of daar lesers sal wees. Hoewel dit waar is dat ‘n mens soveel male man is as wat jy tale kan, is die gevolg wat vertaling betref dat Afrikaanse lesers ook die Engelse vertalings van dieselfde Franse werke kan lees. Die Groot Vraag is myns insiens nie wat ek nog wil vertaal nie, maar of Afrikaanse lesers belangstel in Afrikaanse vertalings. Daar verskyn so min vertalings uit Europese tale in Afrikaans dat ons eintlik nie meer ‘n vertaaltradisie het nie.