Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Nico Moolman

Sy jongste boek, Uit Ouma se Uitsetkis, het die sub-titel Resepte, kultuur en verlange. Dis ‘n heerlike kyk-boek met foto’s van ou advertensies, pamflette, interessante swart-wit foto’s van mense, resepte, boererate en essays. Alles word in collages aangebied sodat jy weer en weer in dié boek wil rondblaai. Dis asof jy elke keer iets anders raaksien. Ek het selfs ‘n advertensie hierin opgespoor waarin die koms van die tydskrif, SARIE MARAIS aangekondig word! Nico vertel hoekom hy genoop voel om in sy boeke erfgoed te bewaar en te dokumenteer.

Wanneer het jy begin skryf en wou jy altyd skryf?
My eerste sukses met skryf was die liedjie Tingeling, wat Min Shaw in 1970 gesing het. In die tweede helfte van 2004 het ek ’n boek, Kuier in ’n Plaaskombuis, saamgestel. Dis die verhaal van my mense. Meestal handgeskrewe resepte van vroue soos ons ma’s en oumas. Voor 2004 was my skryfwerk tot gedigte en lirieke beperk, hoewel ’n boek altyd iets was wat ek wou skryf.

Het jy ‘n skryfroetine, of kan jy enige plek skryf?
Om te skryf het ek net ’n vulpen nodig en ‘vriendelike’ papier – ’n skryfblok wat met ’n draadspil gebind is. Ek skryf gewoonlik van 4 vm. tot 9 vm. en dra daarna my gedagtes oor rekenaar toe. 

Waar het jy aan die idee van “Uit Ouma se Uitsetkis” gekom?
By die aanskoue van kiste wat by veilings uitgeskud en die inhoud wat verbrand word deur gulsige erfgename en ongevoelige partye wat nie ougoed waardeer nie.

Is jy self ‘n versamelaar van erfgoed?
Ja. ’n Regte kraai wat opgaar om miskien oormôre te kan gebruik

Is hierdie boek jou eie herinneringe of is dit ‘n verteenwoordiging van baie mense se herinneringe?
Dit is myne wat deel is van ’n grootword-pakket uit gister se onthou uit baie tydgenote s’n. My generasie is dan ook deel van ’n nostalgiese era wat baie oorgangsfases beleef het. Omdat ek in die platteland skool gegaan en grootgeword het, glo ek dat die verlange na kalme gisters die kern van my boek is. Dis veral die eensame oumens van vandag wat hom/haar kan vereenselwig met dít wat ‘Uitsetkis’ uitleef. Laat jou bydrae tot jou kultuur-erfenis een wees van behoue, en nie van beroue nie.

Moes jy heelwat navorsing doen vir hierdie boek?
Miskien meer onthou en verlang tesame met soek as navorsing. Gelukkig was my grootwordjare van die 1950’s tot 1970 die koppel-skakel tussen perdekar en ruimtetuig.

Jy sluit die boek af met ‘n CD. Waar het jy aan al die musiek gekom?
Hoofsaaklik op plate uit die 1930’s tot 1950’s. Snit nommer 10 is bv. ’n opname wat ek laat een aand aan huis van Stanley Grootboom te Coldstream, Tsitsikamma, gemaak het toe Annie Olifants “Die Here hou my in die holte van Sy hand ”  so roerend saam met ander lede van die nedersetting gesing het. Tooitjie se Stoeigeveg sorg ook vir 1952-glimlagte. Snit nommer een en ’n verdere drie het ek self gekomponeer. 

Wie was almal betrokke by die maak van hierdie boek?
Die kunstige buiteblad is deur Anri Papenfus van Die Lewenslig-sentrum op Vanderbijlpark uitgelê en verbeeld. My vrou het die linkerhandste bladsye met die resepte en nostalgie ontwerp en gemaak. Ons twee het die konsep, uitleg en samestelling gedoen. Die tegniese versorging is deur Naomi Kok gedoen.

Dis nie jou eerste boek waarin jy op ‘n reis na die verlede gaan nie. Vertel bietjie oor jou ander boeke?
Kuier in ’n Plaaskombuis is ’n nostalgiese kultuurreis na gister. Die boek beleef al die sesde druk en tans word die sewende druk voorberei.

Die Pienk Traaisiekel en Die Pienk Baaisiekel is humoristiese verhale uit die volksmond met die subtitel: Liegendes en ellendes van gister.

Die Groot Kwilt is die verhaal van die werk wat my vrou, Naomi, vir die Oorlogmuseum in Bloemfontein gemaak het en waaroor daar in die Mei 2011-uitgawe van SARIE ’n artikel verskyn het. 

Feetjies van die Wolke en In ’n Getydorpie is kinderboekies. Dan is daar South Africa at a CanterA Cultural Rhapsody, wat ook oor Suid-Afrikaanse kultuur handel.

The Boer Whore is die verhaal van die Boeremeisie Susan Nell wat tydens die ABO in Winburg-kamp aangerand, verkrag en vir dood gelos is. Tog het sy oorleef en met die hulp van Samaritane later jare haar merk in die wêreld gemaak. Die rolprentregte vir dié verhaal is onlangs verkoop en iewers vorentoe gaan ons Susan Nell se ongelooflike verhaal op die silwerdoek sien.  

Uit Ouma se Uitsetkis . . . Resepte, Kultuur en Verlange is volgens sommige kenners die mooiste boek wat nog in Afrikaans geskryf is. Dit word ook in ’n kleurryke kartonboksie bewaar met ’n pienk dra-handvatsel om die skrywer se omgee tot borskanker te beklemtoon.

Die boek kan aanlyn besigtig word by www.nicomoolman.net en is ook onder meer beskikbaar by boekwinkels soos Bargain Books, Protea Boekhuis of bestel by die skrywer/uitgewer: Nico Moolman 

E-pos: lingloi@telkomsa.net  

Tel-nommers: 016 933 3822 of 082 421 7001

Prys is R349, posgeld ingesluit. Buiteland op navraag.