Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Pat Stamatélos

In Madeliefies van staal (Kwela Boeke, R195) is dit die skoondogter Lucy wat Dulcie nie wou hê nie, wat na vore tree om haar storie te vertel. Al die bekendes met wie jy in Vier begrafnisse en ‘n troue kennis gemaak het is deel van Lucy se verhaal, maar hulle kleur net die storie met hul gebruiklike humor en hartseer in. Brighton is Lucy se kleinboet, wat eens op ‘n tyd haar oogappel was. Ongelukkig het hy grootgeword en is hy nou ‘n rampokker wat besig is met allerhande onwettige dinge. Op ‘n slinkse manier betrek hy Lucy by sy skelmstreke, natuurlik nie sonder gevolge vir die res van die familie nie. Dis nie ‘n verhaal wat jy in ‘n neutedop kan vasvat nie en met die lees daarvan ontvou die gebeure dramaties en sleur jou mee tot aan die verrassende einde. Ek het met Pat gesels oor die jongste skepping uit haar pen.

Is dit ‘n vervolg op Vier begrafnisse en ‘n troue?
Die waarheid is dat ek te lekker aan Vier begrafnisse en sy mense geskryf het om afskeid te neem – met die skryf van die vervolg wou ek spesifiek terugkeer na karakters wat min aandag in die Begrafnis-boek gekry het en, terugskouend, interessant kan wees. My keuse was Lucy, maar vir ‘n teenpool het ek Cheryl ook nader gehark en dié keer ‘n Koreaanse vriendin ingeskryf vir kleur. Dis ‘n vervolg, maar ja, Madeliefies kan op sy eie bene ook staan. Dis nie nodig om eers Vier Begrafnisse te lees nie.

Hoekom wou jy weer oor die karakters skryf?
Pure lekkerte? En omdat daar so baie karakters was, kon hulle nie almal tot eie reg kom in een verhaal nie. Dalk omdat my persoonlike lewe, kinderdae sonder ‘n ma of pa, ‘n huwelik sonder ‘n maat, nie baie gelukkig of vervullend was nie, wil ek ‘n bietije vreugde ervaar deur die familie-sages wat ek skryf. Ek mag mos . . .

Waar kom die titel “Madeliefies van staal” vandaan?
Om in Gumaville groot te word met ‘n aweregse ma, ‘n mallerige suster, rampokkers op jou deurdrumpel en lyke se oopsny moet Lucy staal in haar pypies hê. Dieselfde geld vir die ander vroulike karakters (almal het al harde bene gekou) – ek glo elke vrou het in ‘n stadium van haar lewe ‘n madeliefie van staal nodig om rigting aan te wys, te onderskraag of sommer net lief te hê. Ek is dankbaar en bevoorreg vir die een of twee wat oor my paadjie gekom het.

Elke karakter het sy eie stem en manier van praat. Hoe het jy besluit wie praat hoe, daar is ‘n groot verskil tussen hoe Lucie praat en hoe Brighton praat?
Lucy is beslis ‘n meer verfynde mens, ‘n omgee-mens. Brighton is ‘n straatklong wat sy alkoholis-pa se slegte voorbeeld volg in al sy doen en late én manier van praat. Dis die genot aan karakters skep – en my voorreg om aan elkeen sy eie unieke stem te gee. Nie altyd maklik nie. Ek oefen die stemme in my kop en soms hardop voor die rekenaar terwyl ek skryf.

Waar het die saadjie van die verhaal vandaan gekom, of het dit al gebroei met die skryf van die eerste boek?
Dit klink dalk verwaand, maar lank voor ek die Begrafnis-boek klaar geskryf het, het die idee gebroei vir ‘n vervolg. Ek het oorspronklik die Begrafnis-boek in Engels geskryf, met die titel All My Funerals, toe sommer die vervolg se titel ook gekies en daar val die ding toe deur die mat. My uitgewer het die Engelse weergawe in die snippermandjie gesmyt en ek moes vertaal (en nuwe titels kry). Maar die oorspronklike storie het ontstaan omdat ek wou wegbeweeg van my vorige (soms hartseer) swaar verhale. Ek wou doelbewus iets in ‘n ligter trant skryf, nié oor die dood nie – ek het eers op die derde, vierde bladsy besef ek is besig om ‘n begrafnis te beskryf… ai tog. If you can’t beat them, join them. Dit was darem ‘n lekkerlag-boek.

Het jy heelwat navorsing gedoen, want dis diamante, polisiesake, lykshuise en lykskouings?
Ja en ja, en ek is so ‘n lui navorser. Ek het polisiestasie toe geloop om navraag te doen oor onwettige diamanthandel en binne sekondes het een speurder drie geword en het ek almal se onverdeelde aandag gehad. Nee-nee, dis nie wat julle dink nie, het ek verduidelik. Ek skryf net ‘n boek – almal het hard en verlig gesluk en ek moes my inligting elders gaan soek. Gelukkig is ‘n aftree-oord ‘n wonderlike plek om inligting te versamel, jy moet net die regte persoon vind.

Die mense in die lykshuis was baie tegemoetkomend en het geduldig al my vrae beantwoord en my toegelaat om met tien lykskouings by te staan. Praat van pypies van staal . . . Die mense van die wonderlike organisasie FreeMe het my op ‘n ‘toer’ geneem (ter wille van die storie) van al die beseerde diertjies. Sodra ‘n diertjie aansterk, word hy in sy natuurlike habitat vrygelaat. Ek is gek na diere en dis ‘n riem onder my hart om te dink sulke plekke (en goedhartige mense) bestaan. Nee, ek het nié na ‘n gay klub gegaan om die mense en dinge daar te beskryf nie

Die storie is emosiebelaai, sonder om stroperig te raak. Hoe moeilik is dit om ‘n balans te kry tussen hartseer en humor sonder om die storie te befonkfaai?
Nie te maklik nie. Dis seker ‘n aanvoeling wat ‘n skrywer genoop is om aan te kweek. Dis soms ‘n uitdaging om die balans te vind. Dit kos oorskryf en weer en weer oorskryf tot jy daardie plek bereik waar jy in treurige oomblike mense kan laat glimlag sonder om aanstoot te gee. Ek wou nie lesers afskrik met die lykshuistonele nie en ek wou ook nie hê lesers moet dink Cheryl of haar vriendin Dae is té ligsinnig nie. Ek hoop my hartsgevoel het gewerk.

Dulcie was die hoofkarakter in Vier begrafnisse, maar sy speel steeds ‘n baie groot rol in Madeliefies. Was sy ‘n lekker karakter om te skep; kom sy uit jou kop of het jy haar op iemand geboetseer?
In Madeliefies het ek probeer om Dulcie ‘n randfiguur te maak, maar selfs op die agtergrond gooi die vrou ‘n groot skaduwee. Teen die einde het sy eenvoudig ‘n bietjie oorgeneem (ek glo ten goede). Sy is nie geskoei op enigiemand wat ek ken nie, van die ander karakters wel. Kroes en Val van die dice het gegaan oor mense en plekke wat ek geken het en eerstehandse ondervinding. Selfs Die portier was ‘n verneukspul, want ek het baie jare in ‘n hospitaal gewerk – dus geen verbeelding nodig met die drie boeke nie. Maar Vier Begrafnisse en ‘n troue was (tot my groot verbasing) pure verbeelding.                                                                                                                                                                                                      

Cheryl en Dae-Yung se verhaal is amper losstaande, waarom dit so groot deel van die boek maak?
Lucy is ‘n ernstige mens, die verhaallyn plek-plek makaber, die storie soms gewigtig. Ek wou ‘n teenpool hê in haar skoonsuster. Maar die skoonsuster op haar eie was nie vir my voldoende nie, toe maak die Koreaanse vriendin (én antie Doll) haar verskyning. Ongelukkig neem karakters soms oor (tot ergernis van die skrywer), en raak hulle totaal en al buite beheer en uiteindelik is hulle nie heeltemal die randfigure wat jy beplan het nie. (Dis my weergawe…)

Brighton – ‘n interessante rampokker, maar tog een met ‘n hart wat met sy dood vir sy mense sorg. Moes jy uit ‘n donker plek put om hom geloofwaardig te maak?
Solzhenitsyn het geskryf:”The line dividing good and evil cuts through the heart of every human being.”  – wie is ek om te stry?  Brighton is uit ‘n donker plek gepluk. Daar’s dikwels bangmaakplekke in die psige van ‘n mens en herinneringe om dit te staaf. Ongelukkig is ‘n interessante karakter nie altyd ‘n lekker karakter om te skryf  nie.

Waaraan werk jy nou?
‘n Ware verhaal en nog ‘n bangmaakkarakter van ‘n ander aard.  Of dit ooit geboek gaan word weet ek nie. Of ek wil hê dit moet geboek word, weet ek ook nie – die wraak kom ons nie toe nie, maar wat is die alternatief? Anderpad kyk en toelaat dat die verwoesters voortgaan om vernietiging te saai? Nou ja, dis klaar geskryf en wat klaar is, is klaar. Op ‘n ligter trant: ek is besig met ‘n storie oor ‘n vrou se gesukkel om van haar man te skei (‘n bietjie tong in die kies), met ‘n kinkel in die kabel want daar is ook ‘n makabere nadraai. Ek moet ophou boer in begraafplase!