Lewe + Liefdes

5 Boekminute met Peter de Villiers

Om hom aan te haal is nie so eenvoudig nie, want hy praat nie in kort sinne nie. Maar hy praat reguit en nie noodwendig met diplomasie nie. Sy outobiografie wat onlangs verskyn het, het dan ook baie gepas die titel Politically Incorrect (Zebra Press, R220).

Peter het die rugbyskrywer Gavin Rich gevra om hom te help om sy woorde reg in te span sodat hy sy lewensverhaal kan deel. Rich was een van Peter se felste kritici tydens sy vier jaar as Springbok-afrigter. Dis hoekom hy Rich gevra het om die boek te skryf, sê Peter, want hy het geweet Rich sal objektief kan weergee wat hy wat Peter is, te sê het.

Uit die boek is dit duidelik dat Peter ‘n groot hart vir sy spelers het, en dat hy glo rugby is deel van sy en die spelers se lewens, hoewel rugby nie hul lewe is nie. Hulle moet ‘n balans behou, want lank nadat hul rugbydae verby is, sal hul gesinne nog daar wees. Juis daarom was die ontvangs op die lughawe nadat die span in die Wêreldbeker-toernooi uitgeskakel is vir hom so ‘n groot verrassing. Dit het Peter laat klein voel.

“Jy kom terug, jy weet dat jy gefaal het. Ek wou baie graag suksesvol wees in die Wêreldbeker-toernooi. Ek wou teruggekom het as die afrigter wat die Wêreldbeker gewen het om een rede: om ‘n ambassadeur te word teen misdaad. Ek wou in townships ingaan en mense motiveer om te streef na beter. Maar ek kan nie . . . ek was nie susksesvol nie.”

Tog is hy nie spyt oor sy rugbyreis nie, en hy glo wat vorentoe moet gebeur, sal gebeur. Jy moet net glo en vertrou.

Voel jy jy het op die agtervoet begin toe jy as Springbok-afrigter aangestel is en dat dit mense ‘n verkeerde persepsie oor jou en jou vermoëns gegee het?

Ja, dit was baie moeilik. Ek dink dit het my aggressiewe kant uitgebring, wat nie eintlik nodig was nie. As ek beter voorgestel was, sou ek beter ontvang gewees het. Daar is ook baie ander goed. Ek sou baie vinniger na die volgende vlak kon beweeg het, want ek sou nie nodig gehad het om heeltyd oor my skouer te loer wat volgende gaan gebeur nie. Dit het nogal ‘n taamlike impak op die natuurlike groei van enige mens.

Voel jy die hoofbestuur van rugby was nie ten volle agter jou nie?

As ek dit sê, dan is dit net my persoonlike opinie, maar dis die gevoel wat ek gehad het. Dis vir my moeilik om te aanvaar dat ‘n komitee van agt saamgestel word en sewe uit die agt stem vir jou en dan gaan hulle en stem weer. As ‘n mens kyk hoe hierdie aanstelling hanteer is in vergelyking met my aanstelling, dan is dit ‘n duidelike bewys dat mense my nie wou hê nie.

Wat beteken ondersteuning vir jou?

Jy leer om sonder ondersteuning klaar te kom. As jy dikwels in jou lewe seergemaak word, dan leer jy om op jou eie te staan. Dan sê jy vir jouself, ek wil nie hê alles wat my oorgekom het, moet ander mense oorkom nie. Jy raak ‘n beginselvegter, wat baklei vir regverdigheid en dat mense regverdig behandel moet word. Ek het baie meer geleer oor hoe om goed nie te doen nie, as wat ek geleer het oor hoe om goed te doen. Die negatiewe goed in my lewe het my eintlik ‘n positiewe les geleer. Dis vir my baie meer werd in karakter bou.

Het dit daartoe gelei dat jy ‘n alleenmens geword het?

Nee, ek was al die jare ‘n alleenmens. Ons was vyf kinders in die huis en die huis was altyd vol kinders, maar my maatjies was nie daar nie. Ek het op skool baie min maatjies gehad. Ná skool baie min vriende gehad. Onderwyser geword en eintlik nooit vriende gehad nie. Begin afrig. Ek het die Here begin challenge en Hom gevra hoekom het ek nie vriende nie, en dan kry jy die Springbok-job op 50. Dan sien jy die Here het jou 50 jare geslyp om die job te doen wat eintlik so ‘n alleen-job is. Dan kan jy nie anders nie as om te sê: “Baie dankie dat ek ná 50 jaar van alleen wees niemand soek om my te ondersteun nie.”

Vertel my wie is Peter de Villiers as hy by die huis is en nie besig is met rugby nie?

Die gewone ou wat in die tuin rondkrap, wat voor die rekenaar sit en probeer om op te skerp oor sekere goedjies. My gemeenskapsbetrokkenheid het so ver gestrek dat mense sommer kom stop het vir raad. En dan moet jy maar versigtig wees, want wat vir jou werk, werk nie altyd vir ander nie. Jy moet eers die persoon se karakter toets wanneer hy met jou praat om te weet wat sal vir hom werk en wat nie. Ek is betrokke by praatjies by skole en kerke. Ek is nogal besig.

Is jy ‘n hegte gesinsmens?

Ek dink so. Ek verkies om by die huis te wees. Ek sal byvoorbeeld vir drie dae binne die huis wees sonder om een keer uit te gaan en ek sal nie probleme hê nie. Die ander liefde in my lewe is houtwerk. Ek het al so ‘n bietjie gewerk in my huis, kombuiskaste en ander kaste gebou. Ek hou daarvan. Ek kan myself uitleef daarin. Wat so lekker is van houtwerk, is as jy te veel van die hout afgehaal het, het jy ‘n probleem. Dit leer my ook oor mense. Moenie te veel wil verander aan mense nie. Probeer net die bietjie afkap wat jy dink geskik sal wees. Natuurlik moet jy ook die wysheid van Bo kry om dit te kan doen.

Is jou gesin sportief?

Ek is ‘n L.O.-onderwyser. My vrou, Theresa, is ook. My oudste dogter, Claudia, kan jou die geskiedenis van elke krieketspeler in die wêreld vertel en van rugbyspelers ook. Die jongste, Odille, is ‘n balletstudent in haar vierde jaar. Sy het Suid-Afrikaanse kleure vir trompoppies en vir gimnastiek gekry. So ja, ek dink ons is almal sportief.

Jy sê in jou boek: “These were tough times, but rugby provided valuable life lessons and built character.” Wat is die grootste les wat rugby jou geleer het?

As jy mense nie kan eer vir wie hulle is nie, gaan mense jou nie eer vir wie jy is nie. As jy nie besef jy is maar net deel van ‘n groter prentjie nie, die prentjie is nie deel van jou nie, dan kom jy in elk geval nêrens in die lewe nie. Dit maak nie saak watter posisie jy in die lewe beklee nie, as jou voete nie op die grond is nie, gaan jy sukkel. Die lewe is vir elkeen van ons ‘n slangetjie-en-leertjiebord. Iemand gooi die dobbelsteentjies en jy is maar die knopie wat skuif. Somtyds eindig jy op ‘n leer en dan klim jy verskriklik vinnig. En somtyds val jy op ‘n slang en dan kom jy af. Maar dieselfde ou wat die leer gegee het, het die slang ook gegee. So hoekom is jy ongelukkig as jy die slang kry? As jy na die bord kyk, is daar op 89 ‘n slang wat jou kan laat teruggaan. Wanneer jy dink jy is die main ou, dan kan jy weer af kom in die lewe. En wanneer jy die einde van die bord bereik, is daar een woord: finish. Dan is jy klaar, dan begrawe hulle jou. Dis vir my die prentjie van my lewe: ‘n Mens moet altyd dankbaar wees vir  die geleentheid om te wees waar jy is.

1997 was vir jou ‘n moeilike jaar nadat jy klaargemaak het by die Falcons. Jy het jou huis verloor in 2005 en het niks oorgehad nie. Hoe verwerk jy dit en hoe staan jy op en gaan aan?

Dit was natuurlik baie swaar. ‘n Mens moet maar net sê: “Ons het nou niks nie, maar dit wil nie sê ons kan nie vorentoe gaan nie.” Mense kan jou slaan soos hulle jou wil slaan, maar hulle kan nie so hard slaan soos die lewe nie. Om ‘n huis te verloor, om ‘n kar te verloor, dis niks. As jy ‘n kind verloor, dan het die lewe jou geslaan. Wanneer jy geslaan word, dink jy jy is die enigste een wat geslaan word. Daar is duisende wat geslaan word, maar dis die mens wat dit kan vat en vorentoe beweeg wat dit maak in die lewe.

Jy sê ook jy is nie gemaklik om “small talk” te maak nie. Dink jy dit het jou loopbaan in rugby benadeel, dat mense jou verkeerd verstaan het?

Ek het nie tyd vir small talk en om polities korrek te wees nie, vandaar my boek se titel. Ek het nie tyd vir “jy krap my rug en ek krap jou rug nie”. Wanneer ek jou rug gekrap het, dan beteken dit ek wou graag iets vir jou gedoen het. Klaar, einde van die storie.

Die feit dat jy dikwels aandag in die media gekry het oor dinge wat jy kwytgeraak het – was dit soms ‘n taalkwessie, want jou huistaal is Afrikaans?

Nee, ek dink hulle wou my afkraak. Wanneer hulle sound bites gespeel het, dan is dit ‘n stuk wat uit konteks gehaal is. Hulle het probeer om te wys ek is nie goed genoeg om die span te lei nie. Hulle het tot met die Wêreldbeker probeer om my uit my job te kry. Ek dig al daai goed toe aan die aankondiging en hoe dit gemaak is. As ‘n ou in hierdie land met sy diversiteit hoor die ou is daar nie net om rugbyredes nie, dan maak jy die rugbymense seer. Dan gaan mense jou nie ondersteun nie, want hulle wil net rugbymense ondersteun.

Kom ons praat oor die sogenaamde seksvideo. Hoe beïnvloed so iets jou verhouding met jou gesin?

Dis maar presies dieselfde as met die huis-verloor-storie. Dit gaan oor eerlikheid. Maak nie saak wat mense oor jou sê nie. As jy weet wat die waarheid is, dan leef jy jou lewe eerlik.

Jy praat van 4 kernwaardes: trust, fair play, an open mind and team spirit. Is dit ook die waardes wat jy vir jouself stel?

Dis al waaroor dit gaan. ‘n Mens moet eties wees in alles wat jy doen, en as jy nie kan wees nie, moet jy dit nie doen nie. Daardie waardes het betrekking op alles in die lewe.

Is daar iets waaroor jy spyt is in jou loopbaan?

Nee. Die enigste ding wat ek anders sal doen as ek my lewe kan oorkry, is ek sal nie trou nie. My gesin is die mense wie ek die seerste gemaak het in die vier jaar met die klomp goed wat ander mense aan my gedoen het. My gesin is die sonskyn in my lewe, my alles. Die job is nie bedoel om mense seer te maak nie, dis bedoel om vreugde in ons almal se lewens te bring. Dis bedoel om ‘n land hoop te gee. Dis bedoel om jou jou beste te laat lewer om mense te laat verstaan as ons saamstaan, kan ons die land ‘n beter plek maak vir almal.