prue_leith1credit_colin_thomas
Lewe + Liefdes

5 Boekminute met Prue Leith

In Relish: My Life on a Plate (Quercus) kom jy deur haar woorde in aanraking met haar behae in en haar genot van die lewe. Dis ‘n rondborstige vertelling van hoe sy as kind ‘n bevoorregte lewe in Suid-Afrika gehad het. Sy vertel ook van al haar misplaaste jeugliefdes en hoe sy nie juis geweet het wat sy met haar lewe wou doen nie. Sy was rigtingloos en ongemotiveerd. Sy het ‘n paar keer goed aangepak en kon dit net nie voltooi nie. Uiteindelik het sy in Parys by ‘n gesin beland waar die vrou van die huis elke dag met sorg die bestanddele vir die etes gaan koop het en dan met groot liefde die maaltye berei het. Hier het Prue vir die eerste keer besef wat sy wil doen, en dit is om te kook – gesonde en heilsame kos wat goed berei is en wat ongejaagd gedeel word met mense. Dié drie beginsels het haar mantra geword.

Maar haar pad na Sakevrou van die Jaar ‘n hele klomp jare later was besaai met hindernisse, wat sy met tipiese Prue-chutzpah oorkom het. Jy lees ook van haar buite-egtelike verhouding met Rayne Kruger, die man van haar ma se beste vriendin. Hy trou ná ‘n verhouding van 13 jaar met haar en hulle kry dit reg om selfs die familiebande en vriendskapsverhoudinge nie op te mors in die proses nie. Prue gaan aan om ‘n kookskool te begin en te bedryf, kookboeke te skryf, ‘n restaurant te bedryf en steeds spyseniering te doen, en om as direkteur op die raad van verskillende maatskappye te dien. Deur dit alles bly sy aktief betrokke as ma en vrou in haar gesin.

Prue se lewe is een reis vol plesier, amper asof sy al die negatiewe goed wat gebeur, kan omkeer en in sukses kan verander. Dis een van die interessantste lewensverhale wat ek in ‘n lang tyd gelees het en ek kon nie wag om elke keer ‘n volgende hoofstuk aan te pak nie. Die boek boei van begin tot einde en lees soos ‘n avontuurverhaal. Ek het Prue per e-pos uitgevra oor aspekte van haar lewe.

Waarom het jy ‘n outobiografie geskryf?
Verskillende uitgewers het my al gevra vir ‘n boek oor my sakebedrywighede, of ‘n “glasplafon”-boek vir vroue, maar ek het gedink dit sal te vervelig wees. Ek het my lewe geleef, waarom weer op ou paaie loop? Maar my huidige uitgewers het my oorreed, hoofsaaklik, moet ek bieg, met geld! Nie-fiksie verkoop blykbaar beter as fiksie. En natuurlik, toe ek eers begin het, was ek vasgevang. ‘n Memoir is ‘n baie lekker manier van selfverheerliking.

Jy is baie openhartig en eerlik in die boek. Hoe moeilik was dit om so rondborstig eerlik te wees?
Dit was glad nie moeilik nie. Eerlikheid is vir my baie makliker en meer natuurlik as oëverblindery, en ek is in elk geval van nature onbesonne. My enigste bekommernis was dat ek iemand sou ontstel. Ek het dus relevante gedeeltes aan elkeen in die boek gestuur en stukkies waarvan hulle nie gehou het nie, uitgesny. Ek is te oud om nou vyande te begin maak.

Jy noem ‘n paar keer in Relish dat jy ydel is en nie na jouself op televisie kan kyk nie. Hoe so?
Die meeste mense hou nie van iets aan hulle nie of hulle haat hul stem. Omdat ek gedurig vertel word hoe goed ek op televisie lyk, MOET ek ydel wees, want ek dink ek lyk aaklig – te vet, te oud en te knorrig.

Het jou Suid-Afrikaanse agtergrond jou enige eienskappe gegee wat bygedra het tot hoe jy jou beroep gevorm het?
Waarskynlik. ‘n Liberale familie, ‘n bewustheid van politiek, ‘n liefde vir wye, oop ruimtes, ‘n koloniale selfvertroue. Ek het nog nooit ontsag gehad vir die Britse klasse-stelsel nie, omdat ek dit nie verstaan nie en dink dis in elk geval nonsens.

Hoe moeilik was dit om oor jou buite-egtelike verhouding van dertien jaar met Rayne te skryf en het jy enige bedenkinge gehad om daaroor te skryf?
Ja, ek het bedenkinge gehad, maar besluit as dit my lewensverhaal is, kan ek nie die belangrikste mens en die grootste invloed op my lewe daaruit photoshop nie. Dit sal wees soos Hamlet sonder die Prins – nie die moeite werd om eers te skryf nie.

Hoe kon jy vir dertien jaar in die verhouding bly en nie moed opgee nie?
Ek was gelukkig en was besig met my sakeonderneming. Om nie ‘n eggenoot te wees nie, al het ek dit nie daardie tyd besef nie, is die ideale ooreenkoms om ‘n onderneming te kan opbou. Geen pligte as vrou nie, maar baie ondersteuning, hulp en liefde.

Was dit ‘n aanpassing om Rayne se vrou te wees en het die dinamika in die verhouding verander ná jul huwelik?
Wel, kinders verander alles, so ja, dinge was anders. Meestal was dit goed om die verhouding in die ope te hê en eerlik daaroor te wees.

Op watter prestasie in jou roemryke beroepslewe is jy die trotsste?
Ek veronderstel die openbare lofbetuigings as Sakevrou van die Jaar, ‘n Michelin-ster vir die restaurant, ‘n OBE en daarna ‘n CBE staan almal uit. Ek dink ek is die trotsste op die feit dat toe ek as Sakevrou van die Jaar aangewys is en die koerante vol stories oor my was, my 12-jarige seun Daniël gesê het: ‟Ma, dit kan mos nie waar wees nie? Jy het nie regtig 500 mense in jou diens nie en jy het nie al hierdie sakeondernemings nie, het jy?”
“Maar liefling, jy weet ek het. Wat laat jou dink ek het nie?”
“Wel, jy kan nie. Jy is dan altyd hier by ons.”
Ha! het ek gedink. Ek het jou lekker mislei. Omdat ek my eie baas was, kon ek naweke en vakansies afvat. Die kinders was in die koshuis gedurende die week en het nooit besef wanneer hulle nie daar was nie, was my aandag elders. 

Jy het ‘n houding van alles is moontlik. Het jy al ooit gevoel daar is iets wat jy nie trompop kan hanteer nie?
Nie dikwels nie. Ek is geneig om in te storm en later uit te vind ek kan iets nie doen nie. Ek het wel een keer toe die Britse Spooragentskap (British Rail) verdeel is ‘n direkteurskap van een van die spoorwegmaatskappye van die hand gewys. Ek het nie die finansiële insigte en die politieke en strategiese ervaring om die voorsitter van so ‘n groot openbare maatskappy te wees nie.

Wanneer jy jou romans skryf, laat jy jou karakters goed uit jou eie lewe ervaar?
Die hele tyd. Ek is te lui om oor goed te skryf waarvan ek niks weet nie. My verhale is geneig om baie oor kos, die gesinslewe, klein sake-ondernemings, die spysenierswese, teater, ensovoorts te bevat – alles goed wat ek uit eie ervaring iets van weet. En die verhale speel ook af op plekke wat ek ken. Sisters speel af in Suid-Afrika en Londen en een karakter neem ‘n kind van Mosambiek aan. (Ek het ‘n kind uit Kambodja aangeneem en stel belang in aannemings oor die kultuurgrens heen.) Daar is drie hoofkarakters in The Choral Society, van wie twee sterk eienskappe van my het, en ek wens ek was soos die derde een – my ma sou haar ‘n loskop genoem het.

Jy is laat in jou lewe bekend gestel aan kunsvlieghengel. Wat beteken dit vir jou, want dit lyk na die enigste selfsugtige plesiertjie wat jy jouself gun?
Hengel kombineer die vrede van alleen wees en verg net genoeg konsentrasie dat jy vergeet van werk, kinders en geld, maar nie soveel konsentrasie dat dit jou uitput nie. Dit laat jou ook toe om na pragtige plekke te gaan en om die rivierlewe van naby te beskou, die vleirotte, reiers, ander voëls en plante. En natuurlik is daar elke nou en dan die opwinding daarvan om ‘n vis aan wal te bring. Ek kan hengel nie goedpraat nie. Dis ongetwyfeld wreed en kom daarop neer dat ek bereid is om ‘n vis 15 minute van paniek te laat ervaar net sodat ek 15 minute se plesier kan hê. Ek troos myself met ‘n aakliger gedagte: dat alle visse eintlik ‘n jammerlike dood sterf, gewoonlik tussen ‘n hoop ander sterwende visse op ‘n vissersboot.

Wat is jou gunsteling-manier om ‘n dag deur te bring?
Om onkruid uit te trek in die tuin, om te hengel of om ‘n groot tafel met familie en vriende onder die pergola kos te gee.