riette_rust_7_foto_deur_nelia_symington
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Riette Rust

In hierdie bundel kortverhale is die karakters soms plesierig en soms nie. Die 17 verhale handel oor die verskillende aspekte van die lyflike, spesifiek uit die vrou se oogpunt.

Met deernis word geskryf oor vroue se emosionele behoeftes; om soms net ‘n bietjie vasgehou te word vir vertroosting, die hartseer oor die verbrokkeling van ‘n huwelik, die opwinding van gesteelde liefde. Dis uiteenlopende verhale wat jou sal meesleur op ‘n ontdekkingstog van sensasies. Riette skryf verfrissend en met keur oor ‘n onderwerp wat maar té dikwels een is wat nie openlik aangeraak word nie. Baie van die dinge word eerder agter toe gordyne en verkieslik in ‘n donker kamer aangeraak. Natuurlik geniet ‘n Lyf onthou (Protea, R170) baie aandag in die media. En dis reg so! Dis hoog tyd dat seks en erotika uit ‘n vrou se oogpunt oopgeskryf word. Dit is tog ‘n onderwerp wat ons almal raak. Ek het per e-pos met Riette gesels oor haar skryfwerk.

Sy het opgewonde laat weet: “Ek het pas gehoor ’n Lyf onthou is volgens Nielsen-statistieke een van die top-100 verkopers in fiksie (alle verkope, ook Engels en ingevoer) én onder slegs SA titels (alle kategorieë) in die land. En dít binne drie weke! Volgens Protea Boekhuis, wat my verhale uitgee, is dit ’n prestasie omdat daar elke dag ’n paar honderdduisend titels is om van te kies. My boek is nommer een in verskeie boekwinkels.”

 Waar kom jou fassinasie met die lyflike vandaan?

Ek stel nog altyd in die mens se psige belang en die psige en die lyflike is nou verwant. Wat met jou lyf gebeur, gaan in jou psige sit, en wat met jou psige gebeur, gaan in jou lyf sit. Dink gerus aan die effek van spanning. Jy kan byvoorbeeld hoofpyn, maagpyn of ’n hartaanval kry.

Is jy nie bang jy kry ’n etiket as seksbehep omdat jy so oor die lyflike skryf nie?

Daar is nie vir my ’n ding soos seksbehep nie, tensy jy van pedofiele of ander seksuele misdadigers praat. Daar is niks verkeerd om van seks te hou of om daaroor te skryf nie. Hoekom jy dan met skeptisisme bejeën moet word, gaan my verstand te bowe. Seks (binne ’n ernstige verhouding) is ’n Godgegewe gawe. Nie verkeerd of vuil nie.

Hoe het jy die navorsing vir jou verhale gedoen, want jy skryf met oortuiging oor S&M, affairs ens.?

Ek het gevallestudies onderneem, baie wyd oor die sielkunde agter baie vorme van seks gelees en my ore oopgehou vir wat mense doen of deurmaak. Hopelik gee ek ’n vars perspektief daarop – soos om te skryf uit die oogpunt van die derde party in ’n verhouding. Só ’n storie het ek nog nooit voorheen teëgekom nie. Jy soek nie noodwendig na liefde op die verkeerde plek nie. (Let wel, ek sê liefde, nie seks nie.) Maar, as jy dit dan wel daar vind, is dit baie swaar vir AL die betrokkenes. Vandaar my stories Yesterday, today, tomorrow en Queen of the rose garden. Daarmee sê ek nie dis moreel reg om ’n affair te hê nie.

My verhaal oor die seksuele mishandeling van ’n kind het weer in ’n kortverhaalklas (aangebied deur die skrywer Marlene van Niekerk) ontstaan. Ons moes elkeen vyf onverwante sinne uit ’n sak trek en ’n storie daaruit skep. Ek het vir jare met myne geworstel. Toe kom die tema van seksuele mishandeling onwillekeurig na vore. Ek voel verskriklik sterk daaroor dat kinders in elke opsig beskerm moet word teen die siek mense wat sulke dinge doen.

Jou boek trek geweldig baie aandag. Hoe voel jou man oor jou boeke en die onderwerpe waaroor jy skryf?

Hy is baie privaat en voel blootgestel. Altans, hy hét so gevoel. Tans is hy baie baie trots op my prestasies en is hy ook my grootste ondersteuner en aanmoediger. Hy besef boonop my verhale handel oor die vroulike psige met seksualiteit as een faset daarvan. Dis nie ’n seksboek nie.

Was jy verras met die ontvangs van jou eerste boek, Lang bene & Lipstiek?

Glad nie. Uit die oorweldigende positiewe reaksie van SARIE-lesers op die artikel waaruit die boek ontstaan het, het ek geweet. Ek het ook die uitgewer van Lang bene & Lipstiek, Naledi, wat my gevra het om die boek te skryf, vertrou. Die reaksie van gehore voor wie ek praatjies lewer, bevestig elke keer dat veral vroue uitgehonger is om meer oor erotiese kapitaal (die X-faktor en nog meer) te wete te kom. As jy dié kapitaal het, kan jy tot 15% per jaar meer verdien. Jy word ook as eerliker, meer oortuigend en meer bevoeg beskou. En jy maak makliker vriende en vind makliker liefde.

Hoe ’n groot aandeel speel voorkoms, bv. haarkleur en grimering, in erotiese kapitaal?

Of ons dit wil weet of nie en of dit regverdig is of nie, haarkleur en grimering speel ’n groot rol. Kyk gerus na oormaaksessies op TV … As jy ’n man is, maak ’n netjiese haarstyl of die ontslae raak van ’n slordige baard en die regte klere die verskil. Natuurlik is hierdie ‘oppervlakkighede’ nie al wat tel nie. Faktore soos sosiale intelligensie, selfvertroue, lewenslus, seksuele aantrekkingskrag en goeie selfaanbieding tel eweneens baie. Vir my lê erotiese kapitaal meestal in ’n glimlag. My navorsing sê dis die belangrikste eienskap wat mense na mekaar toe aantrek.

Het jy enige voorbehoude gehad om ’n boek met verhale oor seks te skryf? Hoe kom ’n mens as Afrikaanse skrywer verby jou ma met daai een?

Ek sal net nie ’n boek kan skryf waar seksuele of verbale mishandeling via die karakters se monde as moreel reg oorkom nie … Verder het ek geen voorbehoude nie. My ma het ’n doktorsgraad in letterkunde (op 67 verwerf). Sy verstaan dus dat ek via my karakters se doen en late iets het om te sê. Dit gaan nie oor ’n ge-bedspringery nie. My ma het my juis gebel om te sê sy reken die boek is ‘baie baie goed’. Sy het glo ook tydens die lees daarvan vergeet dat ék dit geskryf het! Dis ’n groot kompliment.

Maar die belangrikste is: As jy enigsins bekommerd is oor wat jou ma, skoonma, tannie, gewese geliefdes of wie ook al gaan sê, is jy nie, kan jy nie, en behoort jy glad nie ’n skrywer te wees nie.

Dit was ook vir my uiters belangrik om seks in Afrikaans oop te skryf. Sowat 80 tot 90 persent van Afrikaanse vroue wat by seksterapeute aanklop, worstel met seksuele inhibisies. Só sê hulle vir my. Baie huwelike sneuwel so. Dit het tyd geword om Calvinisme by die deur uit te skop.

Watter van die verhale is outobiografies?

Ek verstaan nie hoekom joernaliste en lesers altyd hierdie vraag vra nie. Absoluut álle skryfwerk ontstaan tog in die werklikheid. Of dit my werklikheid, ander se werklikheid of ’n verbeelde werklikheid is. ’n Skrywer neem ’n stukkie werklikheid, ’n slice of life, dan lê die kuns daarin om ’n geloofwaardige storie daarvan te maak. Ek het nooit besef ek het ’n verbeelding voor ek hierdie boek begin skryf het nie.

Ek lees in onderhoude dat jy moeilike grootwordjare gehad het. Wat het gebeur?

My ma het gevra dat ek nie weer oor my kinderjare praat nie. Uit respek vir haar gaan ek dus nie uitwei nie. Sy is boonop onskuldig. Maar, ja. My kindwees is van my gesteel. Ek dank net die Vader dat ek nie seksueel misbruik is nie.

Een van die tema’s in jou kortverhale is verwerping. Waarom?

Omdat ek heeldag en aldag sien hoe pa’s uit hul kinders se lewens verdwyn. Die effek is vernietigend. Dit gebeur ook dikwels dat ma’s buite-egtelike verhoudings begin of iemand anders bo hul mans verkies en dan hul jong kinders vir goed in hul mans se sorg laat. Ek kan nie begryp hoe ouers (veral ma’s) hul kinders kan verlaat of kan weggooi nie. Kinders is tog ’n stukkie van hulle.

Werk jy aan ’n volgende boek en waaroor gaan dit?

Ja. Dis al 16 000 woorde ver! Tafelberg-uitgewers het my gevra om een te skryf. Dis nie-fiksie wat volgende jaar in April sal verskyn. Verder wil ek nie nou al uitwei nie. 

  • sggpjqbiy

    6aArNQ zivgomuvkwvk, [url=http://oygiutfkpxvl.com/]oygiutfkpxvl[/url], [link=http://vrnmcwbzkqzn.com/]vrnmcwbzkqzn[/link], http://hacvriucqsun.com/