Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Rosie Fiore

Rosie Fiore skryf in haar boek, Babies in Waiting (Quercus), oor drie vroue wat uit verskillende omstandighede kom en wat ook om uiteenlopende redes swanger geraak het. Louise, Toni en Gemma is swanger. En hulle is oorstelp deur wat vir hulle voor die deur lê.

Louise is 38 en het ná ‘n nag van passie by ‘n werkkongres swanger geraak. Sy beskou dit as ‘n fout, maar besluit tog om die baba te hou. Sy wil net niks met die baba se pa te doene hê nie, want hy is ‘n getroude man. Toni (26) se besoek aan haar ginekoloog lewer ‘n skok op. Haar fertiliteitsvlakke is baie laag en gaan al hoe laer raak en sou sy ‘n kind wou hê, moes sy onmiddellik begin probeer om swanger te raak. Wat natuurlik ook vinniger gebeur as waarvoor sy en haar man, James, beplan het. Gemma is net 18 jaar oud en dink deur swanger te raak, kan sy haar wanaangepaste kêrel oorreed om in die verhouding te bly. Die drie vroue ontmoet mekaar in die geselskamer van ‘n aanlynforum vir voornemede ma’s, waar hulle probeer oplossings vind en ondersteuning kry om hul situasies te hanteer. Dan ontmoet hulle in die werklike lewe en raak vriendinne, maar Louise se geheim dreig om die vriendskappe te laat ontspoor. Fiore het die boek geskryf omdat sy self ‘n interessante pad geloop het met moederskap en haar kon vereenselwig met die uiteenlopende omstandighede van die karakters. Dié boek wys jou die lewe het maar sy eie manier om sy loop te neem, maak nie saak hoe goed jy somtyds beplan nie. Ek het per e-pos met Rosie Fiore oor haar boek gesels.

Vertel my van jouself, wie is jy en wat is jou drome?
Ek is in Suid-Afrika gebore en het daar grootgeword. Ek het by Wits drama studeer en ’n paar jaar gewerk as skrywer/verhoogkunstenaar/skerpskertser. In 2000, toe my seun, Matt, agt jaar oud was, het ek en hy na die Verenigde Koninkryk geëmigreer. Ek het my afgesloof as ‘n werkende skrywer, maar daar was drie dinge wat ek graag wou hê: Ek wou ‘n wonderlike man ontmoet wat my en my seun liefhet en met wie ek wou trou. Ek wou nog ‘n kind hê, en ek wou ‘n gepubliseerde romanskrywer wees. Toe ek op my laaste verjaardag die koek sny, het iemand gesê ek moet ‘n wens maak. Ek het geantwoord dat ek niks het om voor te wens nie. Ek het reeds al drie dinge wat ek wou hê.

Jy was altyd betrokke by skryf, maar hoe het dit gekom dat jy uiteindelik ‘n roman geskryf het?
Die roman is die grootste, leegste doek vir enige skrywer. Ek is al ‘n ywerige leser al vandat ek vier jaar oud was, en ek hou van die idee van ‘n storieboog wat jy oor duisende woorde bou. Ek het in 2003 vir ‘n kommunikasiemaatskappy gewerk toe ek my eerste boek begin skryf het. Ek het net weggeval en begin skryf en was gek daarna. Ek het aanhou werk as kopieskrywer en het in my vrye tyd geskryf. My eerste twee boeke, This Year’s Black en Lame Angel is deur Struik in Suid-Afrika gepubliseer. Dit het nog twee boeke en agt jaar geneem om ‘n agent en uitgewer in Brittanje te kry.

Hoekom het jy swangerskap en moederskap as die tema vir jou boek, Babies in Waiting, gekies?
Ek het 16 jaar nadat ek my eerste kind gehad het, swanger geraak met my tweede kind. Ek was beangs. Ek was 40, en was seker ek het alles al vergeet. Toe sluit ek by ‘n aanlynforum aan waar vroue oor hul swangerskap, lewe en alles en nog wat gepraat het. Deur dié forum het ek van die vroue ook in die werklike lewe ontmoet. Om jou eerste baba (of in my geval, my tweede eerste baba)te kry, is ‘n massiewe, lewensveranderende ervaring, maak nie saak wie jy is of waar jy in jou lewe is nie. Ek wou daaroor skryf.

Het dit jou juis met die boek gehelp dat daar so groot gaping tussen die geboorte van jou twee seuns is?
Beslis. Ek was ‘n taamlike jong ma én ‘n baie ouer een. Ek was ook afwisselend ‘n enkelouer en ‘n getroude een. Dan is daar die aanlynforum en die rykdom van inligting op die internet – alles eers ná die geboorte van my eerste kind – wat ‘n groot invloed op my boek het.

Hoe het jy die navorsing aangepak?
Die boek is meer karaktergedrewe as wat dit op navorsing gebaseer is. Ek wou egte mense skep, en die mediese aspekte van die boek is meer ter ondersteuning van die karakters se storielyne. Mediese gebeure is gebaseer op my eie ervarings of dié van vriende, of anders het ek op Google gaan grawe vir die inligting. Ek het sekere goed ook uitgeklaar by my suster wat ‘n mediese dokter is. My uitgewer by Quercus het ook die boek deur ‘n dokter laat lees om seker te maak daar is nie groot foute nie.

Het jy die karakters gebaseer op mense wat jy ken, of het jy hulle uitgedink?
Hulle is heeltemal fiktief. Vir my gebeur die skep van karakters organies. Ek begin met net die geraamte van wie hulle is, en terwyl ek skryf maak ek ’n klomp klein, groeiende besluite totdat hulle lyf kry en vol selfvertroue met hul eie stemme begin praat.

Die drie karakters ontmoet in ‘n aanlynforum. Dink jy hierdie forums het deesdae ‘n groot impak op vroue se lewe?
Vir die vroue wat regtig deel word van sulke forums, is dit ‘n groot ding. . . en vir mense wat afgesonder of alleen voel, kan dit ‘n reddingstou wees. Maar dit kan ook ontaard in ‘n geboelie in die kuberruim, veral as jy aan sommige van die ouer gebruikers se verkeerde kant kom.

Louise, Toni and Gemma beeld drie baie verskillende scenario’s uit. Was dit belangrik vir jou om verskillende aspekte van hul lewens deur hul omstandighede uit te beeld?
Al is hulle verskillende ouderdomme en het hulle uiteenlopende lewensomstandighede, dink ek tog hulle het meer gemeen as wat jy dink. Wat ek mense wou wys, is dat swangerskap nie altyd ‘n suiwer seëning is nie: mense raak dikwels onder minder ideale omstandighede swanger en dit kan moeilik wees. Maar nege maande is ‘n lang tyd en baie kan gebeur, en ek dink vir dié drie vroue is dit dan inderdaad so.

Toni ly aan nageboortelike depressie. Was dit iets wat jy spesifiek in die storie wou uitlig?
Definitief. Ek het nie nageboortelike depressie gehad nie, maar het aan depressie gely en ek wou uitlig hoe dit met die mees onwaarskynlike vrou kan gebeur. En ek wou ook wys dat die situasie met behulp van die regte ondersteuning omgekeer kan word.

Met watter situasie in die boek kan jy persoonlik identifiseer, en waar het jy gevoel dit vat jou direk terug na die tyd toe jy swanger was?
Ek dink wanneer Toni die baba vir die eerste keer voel skop. Dis iets groots. En ek was mal daaroor om Gemma se geboortetoneel te skryf. Al is dit traumaties, is om die lewe te skenk die mees verbluffende en ekstreme ervaring en ek wou dit uitbeeld.

Watter een van die karakters is jou gunsteling en waarom?
Ek is lief vir almal! Tog het ek ‘n sagte plekkie vir Louise en haar broer, Simon. Louise maak ‘n kort verskyning in my nuwe boek, Now & Then.

Is jy ‘n gedissiplineerde skrywer?
Baie. Ek moet wees. Ek is ‘n vryskut-kopieskrywer en ‘n voltydse ma, so ek het net ‘n paar ure per dag om te skryf. Wanneer ek my eerste weergawe skryf, skryf ek 1 200 woorde per dag, elke dag, sewe dae ‘n week, sonder uitsondering. Dit werk vir my.

Weet jy presies waarheen jou storie op pad is wanneer jy ‘n boek begin?
Dit ontwikkel baie organies. Ek het gewoonlik ‘n beginpunt, idees vir karakters en miskien ‘n paar sleutelpunte vir die plot. Maar ek is oop daarvoor om op ‘n reis te gaan en te kyk waarheen die storie my neem. In die eerste weergawe van Babies in Waiting was ‘n groot storielyn. Driekwart in die verhaal in het ek besef dit werk nie en moes teruggaan en dit uithaal. 

Waaraan werk jy nou?
Ek het pas die eerste weergawe van ‘n boek genaamd Now & Then voltooi. Dis die verhaal van ‘n vrou wat ‘n kinderklerewinkel begin en die mense wat saam met haar werk. Dis oor hoe jy die heeltyd jou gesin en jou beroep probeer balanseer en hoe jy jou drome verloor – daai oomblik wanneer jy een oggend wakker word en vir jouself vra: ”Hoe de duiwel het ek hier opgeëindig?”