gaileparkin1_cr_melanie_gardner
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met skrywer Gaile Parkin

In Gaile Parkin se nuwe boek, When Hoopoes Go to Heaven (Penguin, R190), is Benedict die verteller deur wie se oë ons die wêreld aanskou. Hy vertel die verdere avonture van die Tungaraza-gesin wat ons in Parkin se eerste boek, Baking Cakes in Kigali, leer ken het. Benedict en sy twee ouers sussies en twee jonger boeties woon ná die dood van hul ouers by hul grootouers, Angel en Pius Tungaraza. Hulle het pas van Rwanda na Swaziland verhuis en alles is nog maar effe vreemd vir Benedict, wat nog nie heeltemal inpas in sy nuwe lewe nie. Die enigste plek waar hy regtig tuis voel, is die groot tuin van hul nuwe huis. Hy is ook gerus as hy lees, want dan voel dit of hy nie meer die sorge van almal om hom op sy skouers dra nie.

Wanneer ’n hoep-hoep in ’n lykswa vasvlieg, sorg Benedict dat die lykbesorgers die voëltjie begrawe, want hul leuse is mos “We bury the best”. So begin Benedict se verhouding met ’n klompie mense wat almal betrokke raak by die Tungarazas, hul uitgebreide gesin en hul bure. Deur Benedict se onskuldige doen en late en die respekvolle wyse waarop hy teenoor mens en dier optree, kom heelparty karakters tot ander insigte oor hul eie lewens en pas ook hul menings oor ander aan. Parkin skryf in dié verhaal op ’n empatiese wyse oor die MIV/vigs-pandemie in Swaziland en hoe sekere kulturele gebruike die pandemie aanhelp. Deur Benedict se kinder-oë kyk jy anders na kwessies soos kultuur, opvoeding, menseregte en regverdigheid. Al word hier ernstige kwessies aangeraak, is dit ’n humoristiese verhaal sonder prekerigheid. Benedict help baie van die karakters om tot ander insigte te kom oor goed wat hulle kwel en terselfdertyd help hy sommer almal se besighede groei, sonder dat hy besef hy doen dit. Hy doen maar net wat hy altyd doen en dit is om eerlik en met respek deur die lewe te gaan. Ek het Gaile Parkin per e-pos uitgevra oor haar nuwe boek.

 

Jou eerste boek, Baking Cakes in Kigali, speel in Rwanda af en hierdie een, When Hoopoes Go to Heaven, speel in Swaziland af. Het jy in die lande gewoon met die skryf daarvan?

Ek het Baking Cakes in Kigali geskryf nadat ek reeds die land verlaat het. Daar was nie tyd om te skryf terwyl ek in Rwanda gewoon het nie. Ek het so ’n tydjie gelede vir drie jaar in Swaziland gewoon en ek het intussen gereeld teruggegaan, met werk vir die National Curriculum Centre en om navorsing te doen. Met my laaste redigering van dié boek het ek weer vir ’n maand in Swaziland gaan bly, net om al my details na te gaan en ook om die atmosfeer in te neem.

Hierdie boek vertel die verdere avonture van die gesin Tungaraza. Waarom het jy Benedict gekies om die storie te vertel?

Die lewe in Swaziland is deurtrek met geslagskwessies, en die kultuur is vol stories en bygeloof. Ek het gedink Benedict se perspektief sal interessant wees. As 10-jarige is hy gek na stories, maar hy is nie altyd seker wat waar is en wat opgemaakte stories is nie. Boonop het hy sy eie geslagskwessie om te hanteer – as oudste seun het hy die hele gesin se welsyn op sy skouers, ten spyte daarvan dat hy twee ouer sussies het.

In die eerste boek was ma Angel die karakter wat almal gehelp het om sekere doelwitte te bereik. Benedict vervul dié rol in hierdie boek. Is ’n kind toegerus daarvoor, veral in die lig van die kompleksiteit van kultuur in Afrika?

Benedict wil almal en alles wat seer het en weerloos is, help en red. Hy konsentreer op die lot van diere, maar hy kan nie help om ’n goeie invloed op mense te hê nie, al verstaan hy nie altyd heeltemal wat aangaan nie. Hy is dikwels onbewus van hoeveel beter hy dinge vir mense maak. Hy verstaan byvoorbeeld nie die omvang van hoe hy Mrs Levine (ma van die Tungarazas se buurvrou) van haarself red nie, ook nie dat hy Mavis (die Tungarazas se huishulp) gehelp het om uiteindelik ná jare die verlies van haar baba te verwerk nie.

In die werklike lewe gebeur dit soms dat ’n kind heel onskuldig iets sê of doen wat ’n volwassene se hele perspektief kan verander – bygesê, wanneer die volwassene ontvanklik is om te luister.

In Swaziland word vroue wetlik as kinders geag en baie van hulle oefen druk uit om dié siening te verander. Ek dink ook daar gaan ernstige en belangrike veranderinge oor geslagskwessies kom deur skoolseuns wat besef hul kultuurrol as magtige Swazi-mans (met meer as een seksmaat en onveilige seks) maak hulle in die tyd van MIV/vigs weerloos, eerder as magtig.

Wat is die hooftema en waarom wou jy juis dié kwessie uitlig?

Daar is eintlik soveel temas wat aangeraak word: geslag, om te behoort, familie, mondigwording, tradisie teenoor moderniteit . . . Maar een van die hooftemas is die groot verskil wat één mens in ander se lewe kan maak, al voel daardie enkeling klein en magteloos. Ek het dit al soveel male in Afrika sien gebeur en dis altyd inspirerend.

Moes jy baie navorsing doen?

’n Paar jaar gelede het ek ’n meestersgraad in gender en internasionale ontwikkeling gedoen aan die Universiteit van Warwick in die Verenigde Koninkryk. My tesis het gehandel oor umcwasho, die tossels wat Swazi-meisies moet dra om hulle as maagde te merk in ’n poging om die verspreiding van MIV/vigs te stop. Dié deel van die navorsing was dus gedoen. My navorsing oor hoep-hoepe het soveel fassinerende stories en gelowe opgelewer dat ek nie alles in die boek kon gebruik nie.

Jy is in die boek nogal krities teenoor koning Mswati en sommige van die kulturele gebruike. Hoekom voel jy so sterk daaroor?

Ek is ’n groot ondersteuner van tradisie en kultuur. Dit maak my hartseer wanneer enige land so verwesters, só Coca-gekolonialiseerd raak dat dit soos enige ander plek lyk en voel. Maar wanneer kulturele praktyke onregverdig is (soos om ’n vrou teen haar sin as eggenoot te neem deur haar met rooi oker te smeer) of onveilig is (soos om meer as een seksmaat te hê sonder om veilige seks te beoefen), dink ek mense moet daarteen opstaan. En wanneer die hoof van ’n land wat gebuk gaan onder MIV/vigs meer as een seksmaat het, en wanneer hy ’n vloot luukse motors aankoop terwyl die nasie in armoede leef, dink ek ’n bietjie kritiek is geldig.

Die boek is weer vol lieflike humor in die manier waarop jy die storie vertel. Is dit ’n kenmerk van jou skryfstyl?

Ek probeer om dinge lig en snaaks te hou terwyl ek ernstige kwessies aanraak, en ek hoop dit maak dit vir lesers makliker om oor die ernstige kwessies te lees.

Gaan ons nog boeke oor hierdie familie sien?

Ek werk op die oomblik aan ’n nuwe een. Hou duim vas dat ek dit klaar maak en dat dit gepubliseer word!

Waar woon jy nou en aan watter projek werk jy?

Ek pendel op die oomblik tussen Londen en Tanzanië, waar ek in Ngara besig is om ’n klein gemeenskapsprojek op die been te kry. Dis ’n plek vir swanger meisies wat uit die skool geskors is en daarna deur hul ouers uit die huis geskop is – omdat hulle hul ouers se geld gemors het op sekondêre opvoeding en toe swanger geraak het. (Die betrokke seuns, daarenteen, gaan met hul lewe aan asof niks gebeur het nie.) Die meisies sal ’n plek kry om te woon en hulle sal vaardighede soos klere maak en batik verf kan leer. Die doel is dat hulle dan só geld kan verdien en nie op sekswerk moet staatmaak vir oorlewing nie. Dis ’n klein projek en is maar ’n druppel in die emmer. Maar die hele emmer se water is saamgestel uit druppels.

 

  • Putra

    ist genau das Problem: Heiligt der Inhalt die Form? Immer? Und wenn ja: Nur dann, wenn es der richtige Inhalt ist? Aber wer bemsitmt, was richtig oder falsch ist? Warum m ssen solche Beitr ge tendenzi s sein? Weil es zum guten ToN geh rt? Oder um eine Art Gleichgewicht zum g ngigen Polit-Sprech zu schaffen, wie en-passant einwirft? Das machen ja auch die sogenannten Kabarettisten schon, die auch ihre fertigen Ha bildchen aus der Schublade ziehen und sich billige Lacher verschaffen.Und noch etwas anderes zum Maschmeyer-Film: Ist er nicht im Grunde ber weite Strecken eher hermlos? Das D monische oder von mir aus Verschworene wird doch gar nicht gezeigt (au er in dieser skurrilen Szene am Schlu ), noch nicht einmal angedeutet. Warum wohl? Weil man nur die Fotos hat? Es wird immer nur gezeigt, DASS er die Kontakte in die Politik hat. Aber nicht, was das BEDEUTET? Das meinte ich mit einer notwendigen Recherche.Und das ist etwas anderes, als Maschmeyer mit naiv-d mmlichen Fragen zu begegnen. Einzig die berzogenen und l cherlichen Reaktionen der Anw lte von Maschmeyer w rzen diesen Beitrag post festum. Denn nur Hunde, denen man auf den Schwanz getreten hat, jaulen.[EDIT: 2011-01-17 14:38]