tony_park_at_work_in_africa
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Tony Park

Die regsgeleerde Mike Ioannou sterf in ‘n tref-en-trap-ongeluk in Thailand. Dokter Richard Dunlop word  in sy huis in die Krugerwildtuin aangeval, en fotograaf Liesl Nel word byna doodgemaak in ‘n motorkaping in Johannesburg. Op die oog af hou dié voorvalle geen verband met mekaar nie, maar as jy Tony Park se jongste boek, Dark Heart (Quercus, R134), lees, sien jy die drie mense is tog met mekaar verbind – en wel deur ‘n ou foto wat ‘n sterwende man twintig jaar gelede in Rwanda in sy hand geklem het. Maar waarom word hulle nou geteiken? Carmel Shang is ‘n aanklaer wat oorlogsmisdade in Rwanda moet ondersoek ná Ioannou se dood. Sy ontsluit die raaisel van die foto en ontdek hoeveel impak dit gehad het in die lewe van baie meer mense as net hare, Richard en Liesl s’n. Die verhaal neem interessante wendings, met ‘n paar gure karakters wat jou aan die lees hou om uit te vind wie die ware skurk is. Tony Park het ‘n paar vrae oor sy boek per e-pos beantwoord.

Jy word as skrywer dikwels met Wilbur Smith vergelyk. Hoe voel jy daaroor?
Daar’s net twee verskille tussen my en Wilbur Smith – so 35 boeke en sowat 35 miljoen dollars! Op ‘n ernstige noot, ek voel gevlei as mense die vergelyking maak. Ek dink die enigste ware ooreenkoms is dat ek doen wat Wilbur Smith in sy vroeëre boeke gedoen het, om boeke te skryf wat afspeel teen die agtergrond van ‘n kontemporêre Afrika-gemeenskap. Ek hou baie van sy vroeë boeke.

Waar is jy tuis en waar is huis vir jou?
Dis ‘n moeilike een. My vrou, Nicola, en ek verdeel ons tyd gelykop tussen Australië en Suider-Afrika. Ek is baie lief vir my Australiese tuisstad, Sydney, maar nou het ons ‘n huis in die bos in ‘n wildreservaat-landgoed naby die Krugerwildtuin en ek is net so lief vir ons Suid-Afrikaanse huis. Ons het ‘n stadswoonstel in Australië en in die bos is ons omring deur Afrika se natuur – dis twee verskillende wêrelde. Ek dink ons het die beste van al twee wêrelde, letterlik.

Jou absolute gunsteling-kos en drankie?
Biltong en Suid-Afrikaanse bier!

Hoe kies jy die onderwerpe waaroor jy skryf, want daar is altyd ‘n groter kwessie wat deel vorm van die storie?
Ek kry baie van my idees uit nuusberigte in Suider-Afrika, en ook uit gesprekke met mense wat ek ontmoet. Daar’s geen tekort aan storie-idees in die werklikheid van Afrika nie. Inteendeel, die enigste probleem is dat sommige van dié ware verhale wat ek in Afrika hoor so bisar is dat niemand dit sal glo as ek dit in ‘n boek gebruik nie!

In “Dark Heart” draai die storie om die volksmoord in Rwanda, maar dit gaan ook oor onwettige wildhandel. Waarom die twee met mekaar kombineer?
Deels omdat ek daar was toe ek Dark Heart geskryf het. Ek wou lankal na Rwanda reis en ook ‘n verhaal daar laat afspeel, maar in die ses maande dat ek aan die boek gewerk het, het ek al meer inligting oor onwettige wildhandel gekry. Hoewel bewaring ‘n hoë prioriteit in Rwanda is, was daar stories oor baba-sjimpansees en -gorillas wat ontvoer word en oor die grens gesmokkel word na die Demokratiese Republiek van die Kongo. Wildsmokkelary is groot in die wêreld van georganiseerde misdaad, daarom het ek gedink dis prakties haalbaar dat my skurke daarby betrokke is.

Jou helde het byna altyd so ’n bietjie van die anti-held in hulle, want hulle beskik nie juis oor vlekkelose karakters nie. Wat fassineer jou van sulke ouens?
Ek hou nie van pretty boy-helde of skattige, onskuldige heldinne nie. Ek dink baie lesers glo nie ‘n karakter wat té perfek is nie. ‘n Gebrekkige karakter raak gewoonlik net beter soos die storie ontvou. Ons almal het ons probleme en ons eie duiwels. Wat my tref van mense in Suider-Afrika, is hul vermoë om persoonlike probleme en tragedies te bowe te kom en aan te gaan met die lewe. Ek hou daarvan in ‘n held ook.

Daar is altyd sekstonele in jou verhale. Beplan jy dit, of gebeur dit maar net?
Jy wil nie te veel beplan vir seks nie, want dit vat die spontaneïteit weg! Ek gee nie om vir sekstonele in boeke wat ek lees nie, dus is dit onvermydelik dat dit in my boeke sal voorkom. Seks is deel van die lewe, maar ek dink dis onmoontlik om die heeltyd almal tevrede te stel. Party mense sê hulle blaai by die sekstonele in my boeke verby, terwyl ander dit weer geniet.

Hou jy van die karakters in hierdie boek, of is daar ‘n paar wat jy wou klap?
Lekker vraag. Ja, daar is ‘n paar wat kan doen met ‘n goeie klap. Ek het ‘n fantastiese span nie-amptelike redakteurs (my ma, vrou en skoonma) en hulle vertel my baie gou wanneer ‘n karakter meer om die lyf moet kry. Ek dink om karakters te skryf is soos om oor hulle te lees, of om mense in die regte lewe te ontmoet – van party hou jy dadelik, jy weet jy gaan van party nooit hou nie, en ander verras jou.

Jy het onlangs gesê dit lyk of Suid-Afrikaanse boekwinkels baie trots is op plaaslike skrywers in vergelyking met jou tuisland, Australië. Hoe laat dit jou as ‘n Australiese skrywer in Australië voel?
Ek is gelukkig om ‘n goeie uitgewer in Australië te hê wat ook ‘n fantastiese ondersteuner van Australiese fiksie is. Nietemin, in Australiese boekwinkels word plaaslike skrywers dikwels saamgegooi in ‘n ‘Australiese fiksie’-seksie heel agter in die winkel. Ek skryf nie ‘Australiese fiksie’ nie, ek skryf Afrika-fiksie. Ek sal veel eerder langs Wilbur Smith op die rak staan as langs boeke oor die outback. Ek dink in Australië kyk ons ook na mense oorsee om ons skrywersfeeste by te woon en die resensente fokus op literêre fiksie eerder as inheemse massamark-fiksie (soos my boeke) wat deur die meeste Australiërs gelees word. Ek hou daarvan dat die boekwinkels in Suid-Afrika plaaslike skryfwerk – of dit nou geskryf is deur Suid-Afrikaners of ander skrywers wat oor Afrika skryf – omarm en dat hulle net soveel klem plaas op mense soos Deon Meyer as byvoorbeeld J.M. Coetzee.

Wanneer kry ons ‘n nuwe boek van jou, en waaroor gaan dit?
My tiende boek, ‘The Prey’, sal in November in Suid-Afrika bekend gestel word. Dis weer oor ‘n aktuele kwessie, dié keer die onwettige myn van goud. Die boek gaan oor onwettige myners, bekend as ‘zama zamas’, en hul ondergrondse oorlog met ‘n mynmaatskappy. Ek raak ook aan die kwessie van mynbedrywighede in natuurreservate, wat deesdae in Suider-Afrika ’n werklikheid word.