wilna_adriaanse
Lewe + Liefdes

5-Boekminute met Wilna Adriaanse

Met die skryf van haar boek, ‘n Klein lewe (Tafelberg, R190), was dít die belangrike ding wat Wilna Adriaanse besef het: “’n bewustheid dat haar storie maar net een van vele in hierdie land en op hierdie kontinent is.” En wanneer jy haar verhaal lees, besef jy dit kan sommer maklik die verhaal van enige mens wees wat deur die tydperk waarin die boek afspeel, geleef het. Ons leef weer deur die onstuimige geskiedenis van die sewentigs en tagtigs, deur die oë van ‘n middeljarige vrou. Deur haar lewe ervaar jy weer al die politieke gebeure en hoe hierdie dinge een gesin se lewe beïnvloed het en hoe sy ‘n politieke bewustheid aangeleer het deur die hele tyd haar identiteit en plek in die samelewing te bevraagteken. Dis nie noodwendig ‘n gemaklike boek om te lees nie, want baie van wat gebeur neem jou direk terug na jou eie belewenisse gedurende daardie jare. Die verhaal boei tot aan die einde en jy het empatie met die hoofkarakter se klein lewe.

Ek het per e-pos met Wilna gesels oor hierdie nuwe boek uit haar pen.

Waar het die verhaal vir jou begin?
Ek was besig met my meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Etienne van Heerden by die Universiteit van Kaapstad en moes as deel van my studies ‘n manuskrip voltooi. Ek was aanvanklik nie seker wat ek wil skryf nie, maar het geweet ek wil graag iets ‘anders’ skryf. In daardie stadium het ek tien jaar lank geskryf en dit het soos die regte geleentheid gevoel om my hand aan iets anders te waag. Ek spot altyd en sê dis soos om een keer in jou lewe die geleentheid te kry om saam met ‘n gourmet-sjef te kook. Dit sou dom wees om ‘n resep te gebruik waarmee ek vertroud was. Die uitdaging was om iets anders te probeer doen.

Waarom het die karakters nooit regtig name nie, maar word op ‘n onpersoonlike manier aangespreek?
Ek het van die begin af die verhaal as simbolies gesien. Dit kon enigeen se verhaal gewees het en die terugvoer wat ek op die oomblik kry, bevestig dit.
Die gegewe is dalk spesifiek en word met tye tot in die fynste besonderhede beskryf, maar die verhaal is universeel. Ons word daagliks gekonfronteer met al die verskille in die land – ons vergeet dikwels hoeveel ons gemeen het.

Hoeveel het jy uit jou eie herkoms en lewe geput vir die verhaal?
Alles in die verhaal kom uit my eie lewe. Soos ek reeds gesê het, ek kon oor enigiemand geskryf het – dit was net makliker om uit my eie lewe te skryf. Dit het beslis die navorsing makliker gemaak.

Hoeveel navorsing het jy vir die verhaal gedoen en was dit ‘n moeilike proses?
Ek het baie tyd spandeer om weer deur ou koerante te lees. Ek dink die meeste van ons wat gedurende daardie jare in Suid-Afrika geleef het, wonder soms of ons herinneringe akkuraat is. Sommige dinge voel deesdae so vergesog dat ek by tye getwyfel het. Deur die ou koerante kon ek myself tot ‘n mate weer tot binne daardie jare verplaas. Ek was nie soseer op soek na feite nie, hier en daar wel, maar eerder na die tydgees van daardie tyd. Selfs die modes van daardie jare.
Ek het ook baie met my ouers gesels. Veral oor hul belewenisse deur die jare. En dan het ek weer ‘n paar plekke herbesoek. Daar is vir my iets besonders daaraan om terug te gaan na ‘n plek wat jy in ‘n ander stadium van jou lewe geken het. Die plek is gewoonlik nie meer dieselfde nie, maar ‘n mens vergeet dikwels dat jy ook nie dieselfde is nie. Dit bring mee dat ‘n mens soms oor jou eie ervaringe wonder.  

Moes jy ‘n tydlyn uitstippel om die geskiedkundige gebeure chronologies tehou?
Ek het aanvanklik gesukkel om daardie eerste knoop te maak, maar toe dit gedoen is en lyk asof dit ‘n redelike stewige knoop is, het ek eintlik maar agter die herinneringe aangeloop. Ek het nooit ‘n formele tydlyn gemaak nie, maar wel gedurende die skryf van die verhaal seker gemaak van die chronologie van gebeure. As ek nou terugdink, was daar een of twee geleenthede waar ek dit verkeerd onthou het. Die res was gelukkig reg.

Hoe moeilik was dit om hierdie verhaal te skryf in vergelyking met jou vorige boeke?
Ek het nog nooit vantevore ‘n verhaal onder iemand se leiding geskryf nie. Gewoonlik skryf ek eers ‘n verhaal klaar voordat my uitgewer dit sien. Die verhale speel derhalwe eintlik maar net in my eie kop af. Dit was aan die begin ‘n aanpassing, maar ek het mettertyd gewoond geraak daaraan om ‘oor’ die storie te praat.
‘n Ander aanpassing was dat dit nie suiwer fiksie was nie. Ek moes by sekere gebeure bly en dan natuurlik was dit vreemd om so na aan my eie lyf te skryf.

“’n Man wat jou met woorde verlei, is gevaarliker as een wat jou fisiek verlei, het sy later besef. En as hy met woorde jou wêreld verruim, is dit moeilik om weg te draai.” – Kom hierdie stelling uit eie ervaring?
As romantiese siel verstaan ek fisieke aantrekking en selfs liefde met die eerste oogopslag is nie heeltemal verregaande nie, maar ‘n intelligente man wat ook met jou kan gesels en wat met woorde jou wêreld verruim, is ‘n baie aantreklike en gevaarlike wese! En die antwoord is, ja. Ek het ervaring daarvan. Ek is vandag nog met hom getroud! 

Wat het jy oor die mensdom in SA geleer met die skryf van die verhaal?
Daar is ‘n Benediktynse seёning wat vrylik vertaal as volg lees: Mag God u seёn met ‘n rustelose ongemak vir maklike antwoorde, halwe waarhede en kunsmatige verhoudings.
In Suid-Afrika word daar te veel maklike antwoorde en halwe waarhede verkondig. Ons leef nie in ‘n swart-en-wit samelewing nie en dis gevaarlik om dit so eenvoudig te probeer maak. Daar is soveel nuanses wat nooit aangespreek word nie.
Daar is ongelooflike verhale in die land. Klein verhale wat nooit die nuus haal nie, maar wat mense se lewens verander. Politiek het ‘n manier om alles ingewikkeld te maak, maar eintlik gaan alles oor mense. En ons moet weer die menswees agter die politieke uitsprake vind.

Was daar iets tydens die skryfproses wat jou verras het; ‘n gebeurtenis wat spontaan in die verhaal opgeduik het?
Dalk nie soseer ‘n gebeurtenis nie – eerder ‘n beeld. Die beeld van ‘n nes wat gevleg word. Ek het dit nooit bewustelik as ‘n tema bedink nie. Ek het op ‘n dag die woorde neer geskryf en daarna was dit soos ‘n draad wat spontaan deur die verhaal gevleg het.
Ek het toenemend begin wonder oor die nes wat ek oor die jare gevleg het. Wat het ek deur die jare ná die nes toe aangebring? Waarmee het ek gevleg, wat het ek gebruik om die nes warm en veilig te maak? Is ek deesdae slimmer of maak ek soms dieselfde foute?

Hoe het jy aan die titel van die boekgekom?
Hoe verder ek geskryf het, hoe meer het ek bewus geword van al die lewens wat myne geraak het en steeds raak. ‘n Mens se eie lewe voel soms so belangrik en groot, maar as ons mooi daarna kyk, is dit net nog ‘n verhaal. En die belangrike om te onthou is dat my lewe nie alleen staan nie, maar deel van ‘n groter geheel is. Op vele vlakke geraak word en verryk word deur ander.

Was dit ‘n emosionele boek vir jou om te skryf, omdat jy deur een mens se hele geskiedenis moes leef in die proses?
Ek is gewoonlik moeg wanneer ek klaar is met ‘n boek, maar met hierdie een was ek nie net fisiek moeg nie – ek was emosioneel ook uitgeput. ‘n Mens vergeet hoeveel emosie in die alledaagse lewe beleef word. En in Suid-Afrika is dit waarskynlik nog meer as in ander lande. Hierdie is ‘n land waar ‘n mens selde net kan wees. Daar gebeur elke dag soveel dinge wat aanspraak op ons emosies maak.

Waaraan werk jy nou?
Ek wil nog nie te veel sê nie, maar daar het ‘n storie by my aangekom. Dit het iets te doen met ‘n meisie wat orrel speel, terwyl die polisie haar soek!